Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.5.14

Spesiale plek in die hel vir koerantmanne

PIETER ROOS skryf: Met die inwyding van die nuwe Bybelhuis van die Bybelgenootskap was ek daar. Die gebou is in Kemptonpark en is die streekhoofkantoor van die genootskap.

Dit was in die laat 1970's en dr Koot Vorster was die Moderator van die NG Kerk. Hy was die broer van onse premier/president John Vorster. Dr Koot het die amptelike inwyding waargeneem.

Dit was nogal 'n spoggerige geleentheid en pluimpie vir die dorp om so 'n belangrike gebou en organisasie te hê.

Koot was 'n formidabele man, groot en indrukwekkend. Hy het nie vreeslik baie van die pers gehou nie. Om die waarheid te sê, baie min predikante is gediend met die pers, want die pers het voortdurend skelette uit hangkaste gekrap.

Dink maar aan Excelsior en die baie gevalle waar die predikante bietjie onortodoks opgetree het.

Dr Koot Vorster
In dieselfde Kemptonpark het ek 'n storie oopgekrap van die predikant wat self as boumeester hul nuwe kerk gebou het.

Hy het die fondament verkeerd uitgemeet sodat die een kant 'n meter te kort was. Hy het ook "van die oorskiet materiaal" vir hom 'n strandhuis aan die Suidkus gebou. En hy het gelieg en ek het dit geskryf. Dit is op die voorblad geplaas.

Toe hou hy 'n gemeentevergadering een Sondag ná die diens.

"Hier is 'n man wat ons kerk aanval en belaster. Hy is nie eens 'n lidmaat van ons kerk nie!" het hy van my gesê. Ek het Maandag die storie geskryf.

Maar om terug te kom na Koot Vorster en die Bybelhuis se inwyding.

By die geselligheid vra hy my wie ek eintlik is en ek sê ek is Die Vaderland se man in Kemptonpark. Hy bly doodstil. Toe sê hy:

"Jy weet, ek glo nie alle koerantmanne gaan hel toe nie. Maar ek glo daar is 'n spesiale kamer waar julle met ou koerante warm gemaak gaan word!"