Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.5.14

Om ʼn storie te kan kry

PHILIP DEETLEFS skryf: Piet Roos vertel nou die dag dat party mense makliker stories kry as ander en dit het my bietjie laat terugdink oor hoekom dit so sal wees?

My vermoede is dat as jy ʼn spesialis-verslaggewer is (sport, finansies, kuns, vroue, ens) dan moet jy jou spesialis-gebied baie goed ken en so respek by jou bronne afdwing om die storie te kry.

As jy ʼn algemene verslaggewer is, moet jy óf ʼn baie hardekwas nuusredakteur hê óf jy moet deursettingsvermoë en ʼn renosterdikvel hê om te sorg dat jy nie sommer die handdoek ingooi nie.

As jy 'n misdaadverslaggewer is, was daar destyds verskeie maniere hoe jy 'n storie uit die polisie, ambulansmanne ens gekry het.

Jong Rika van Graan
Van dié by Die Transvaler wat dikwels met die groot scoops vorendag gekom het was bv Rika van Graan wat net met die telefoon gewerk het, maar sy het 'n fenomenale slag met 'n foon en die luisteraar aan die ander kant van die draad gehad. In só 'n mate dat ek dink as Perskor en Die Transvaler langer voortbestaan het, die polisie vir Rika by 'n gala-geleentheid 'n ere-polisiemens met baie sterre op die sou skouer gemaak het.

Rika het dit reggekry dat al wat 'n polisieman is oor hul voete geval het om vir haar die nuutste stories aan te dra. Dan het sy verder deur middel van die destydse telefoonsentrales nog die slagoffers se stories met al die snot en trane by die emmervol gekry. Hoekom? Sy het die slag gehad om mense na haar pype te laat dans sonder dat hulle moeg geword het daarvan.

Gert Swiegers
Jimmy Kruger
Die ander verslaggewer wat ek onthou wat 'n slag met mense gehad het, was wyle Gert Swiegers. Ons het dikwels in stomme verwondering geluister hoe Gert (Beertjie) Swiegers met die mees senior polisiemanne en selfs die minister van polisie gesels en die volledige storie uit hulle wurg sonder dat hulle kortasem raak.

Een geval onthou ek het Gert vir die destydse minister van polisie, mnr Jimmy Kruger gebel. Hy stel hom voor as "ou Gert Swiegers van Die Transvaler" en hy noem die minister "U Edele". Twintig minute later noem hy hom "oom Jimmy" of sommer net "Jimmy, my ou maat". Teen daardie tyd weet Beertjie meer van die saak waaroor hy gebel het as die polisie wat die saak ondersoek het.

Wat die polisie se deure ook vir jou laat oopstaan het, is as jy vir hulle (veral die nagskof-ouens) so nou en dan ietsie in 'n bottel kon aangee sodat hulle jou naam beter kan onthou. Vandag sou dit op sigself seker 'n koerantstorie gewees het, maar destyds toe tandepasta nog wit was, was dit 'n algemene manier om jou kontakte aan jou kant te kry en te hou. Veral as jy saam om die prop kon praat.