Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.5.14

Fotodag 28: Vader van vele

BENNIE FRITZ was meer as 40 jaar gelede die organiseerder van Rooi Rose se babawedstryd.  Destyds het hy die volgende daaroor geskryf:

Nee - ek! Stomme ek! Soos die sand van die see, sal seker nie hiperbolies wees nie as 'n mens dan 'n vergelyking moet tref. Want daar is 30 000 van hulle! Dertigduisend lagbekkies en morsbekkies en kwaadbekkies en skewe bekkies! Dertigduisend kleingoed van oor die hele land en Suidwes met dertigduisend ma's - en net ek is die pa! Vreeslik vir ‘n kuise land soos ons s'n! En wie se skuld is dit?

Bennie Fritz tussen 'n hoop inskrywings.
Ek wil nou nie name noem nie, maar voordat ek darem die skuld kry, moet ek.

Sien, dis eintlik my redaktrise (Martie Snyman - Red.) se idee gewees dié.

"Jy het ses kinders," sê sy nou wanneer vir my, "en as daar iemand is wat sal weet hoe 'n prysbaba lyk, dan is dit jy!"

Martie Snyman
Ek stry. My ses kinders het nooit 'n prys op enige babaskou gewen nie. Maar sy reken dis niks. Al het hulle nie 'n prys gewen nie, is hulle pryskinders. Baie dankie!

Die, uiteinde van die saak: Bennie Fritz, pa van ses, hanteer Rooi Rose se baba- wedstryd - en wat vir 'n hanteer!

Rooi Rose, 12 Julie 1972
Ses maande lank het hulle inge- stroom: foto’s en foto's en weer eens foto's en nogmaals foto's! Mooi babas en lelike babas. Groot babas en klein babatjies. Vettes en maeres. Sommige vergesel van ‘n smeekbriefie. "Foei, haar ou mammatjie is toe laaste week doód en hoe sal 'n Opelkarretjie haar en die familie darem nie opbeur nie!" Of: "Soos u hulle hier sien, het hulle vier dae laas kos gehad! Hulle pappa het hulle verlaat."

Wat as 'n lekker wedstryd begin het, het al hoe bitterder geword in dié sin dat ek later nie meer geweet het watter kant toe nie. Kies mens nou die mooi babas of die lelike babas (hulle moet darem ook 'n bietjie lekker hê in hierdie ou wêreld!) of maak jy maar oë toe en trek 55 uit die 30 000? -- Perskorhaan, Augustus 1972.

(Bennie Fritz het Martie Snyman as redakteur van Rooi Rose opgevolg. --Red.)