Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

28.5.14

Daar's iets in Durban se drinkwater

PIETER KRUGER skryf: In Maart 1982 het Ali Bacher, Martin Locke en Peter Cooke die Engelse rebelletoer met Graham Gooch as kaptein gereël. Ons krieketskrywers is heeltemal onkant betrap, want die toer is in groot geheimhouding gereël.

Net ‘n paar krieketskrywers (ekke van die Vaderland, Hennie Brandt van Beeld, Jan van der Merwe van Die Transvaler, Rodney Hartman van The Rand Daily Mail en John Kennedy van The Star) het verslag oor die toer vir die dagkoerante gedoen.

Ons is inderhaas Durban toe vir die eerste wedstryd en het in die kraaknuwe, superluukse suites in die
Royal-hotel gebly, wat pas sy deure geopen het.

Ons het so iets nog nie beleef nie. Daar was duur houtpanele in die kamer, die badkamermure was van marmer, die krane was goud (seker maar oorgeblaas), die handdoeke was geborduur, daar was sulke wit kamerjasse en pantoffels, baie fênsie wasbakke en spa-baddens; en krane wat ons nie behoorlik kon oopmaak nie (soos by die hedendaagse winkelsentrums).

Ek glo nie Jan van der Merwe sal my verkwalik nie, want hy het ons in 1982 laat skarrel met sy “scoop”, wat net hy moes opvolg. Ons het pas geland, vinnig ingeboek en gaan kele natmaak in die opskepplek. Gelukkig het dok Ali vir die enetjies met eisj betaal, want Perskor se R11,50 kon kwalik vir een bier betaal, watwou nog twee keer per dag eet ook!

Jan het so tien minute ná ons ingestorm en gevra of ons ook nie water in ons kamers het nie. Dit was ook die jaar van die GROOT droogte en daar was waterbeperkings in sekere dele van die land.

Ek het na Hennie geloer, hy het vinnig geknipoog en ons het aan Jan te vertelle gehad dat daar water-leibeurte in die hotel gegeld het. Verdiepings 1 tot 3 tussen 12:00 en 13:00, verdiepings 4 tot 6 tussen 14:00 en 15:00 ensovoorts.

Jan het eers die storie gesluk, nog 'n sluk van sy skuimkop gevat en toe sy voorskou gaan dikteer (of so het ons geglo).

Chris Louw,
alias Boetman
Die volgende oggend is ons vroeg wakker gebel en versoek om Jan se voorblad-stoep op te volg. Dit het baie oorreding gekos om die nuusredakteur (Chris Louw) te oortuig dat dit net ‘n grappie was.

En wat gebeur die volgende oggend? Ons is in geen onduidelike taal nie versoek om Jan se tweede scoop op te volg, want hy het dan sy eie storie beaam met aanhalings van die hotel-bestuur en sommer ‘n aanhaling of twee van Geoff Boycott ook, wat tydens die hele toer die media geboikot het.

Jan het volhard, ons het ‘n scoop twee keer gemis (van om die beurt die watertoevoer af te sny) … ons het geweet dat hy net nie geweet het, soos ons ook maar, hoe om die krane oop te maak nie. Maar hoe oortuig jy nou ook vir Boetman voordat hy die bliksem in kon raak?