Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.5.14

Vaderland-babas maak oom Apie lam

SUZELLE FOURIE skryf: Ek sien julle ouens voer ‘n stryd om K‘rant se wiele aan die rol te hou. Dit verstaan ek goed. Dis mos maar soos enige koerant ook is: ‘n onversadigbare monster wat jy moet bly voer!

In die lig hiervan werp ek ‘n stuiwertjie in die armbeurs en hoop dis van nut. Gelees in die politieke gees van 2014 is die storietjie helaas so onkorrek (of is dit nou inkorrek?) as kan kom, maar dis vir julle ouens
om oor te besluit. Ek vertel dit maar soos ek dit onthou en mag ek vergewe word vir die glipse van die verbyglippende jare. (Jy is vergewe Suzelle! Laat die stuiwers mildelik in ons armbeurs beland! - Red.) 

Bennie Fritz se storie oor Rooi Rose se babakompetisie het my laat terugdink aan die tyd, so ongeveer 1978 – 79, toe ek Die Vaderland se TV-blad behartig het. In die kantoortjie langs my hokkie het wyle oom Apie Greeff allerlei promosies en skakelwerk vir die koerant gedoen. Onder meer is ‘n babakompetisie gereël.


Illustrasie
Illustrasie
Soos gewoonlik met dié soort van ding het die inskrywings ingestroom. Pragtige sneeuwit babatjies van oral uit Die Vaderland se verspreidingsgebied. En ook een donker-gepigmenteerde babatjie.

Dit was natuurlik nog in die ou apartheidsjare en Perskor se publikasies was uiteraard getrou aan die beleid van die regerende party. Oom Apie het diplomaties aan die (wit) vrou wat die foto van die swart baba wou inskryf, verduidelik dat dit nie die koerant se beleid was om anderskleurige inskrywings te aanvaar nie.

Die vrou was erg gebelgd en het uitgevaar oor die onregverdigheid van dié beleid. Hoe meer sy om die beurt by hom gepleit en teen hom uitgevaar het, hoe onversetliker het oom Apie haar pleidooie afgeweer.

Uiteindelik het die dame besef sy gaan nie haar sin kry nie en wend haar toe tot die morele hoër grond, min of meer op die trant van: “Meneer, ek voel jammer vir jou. Mag jy vergewe word vir jou onverdraagsaamheid. Ek sal vir jou bid!”

Teen dié tyd was oom Apie behoorlik aan die einde van sy andersins ruim geduld: “Mevrou, steek jou gebed in jou gat!”. En daarmee was die saak, wat hom betref, afgehandel.