Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.5.14

‘n Ligte teleksmistykie op ‘n Sondagaand

ARRIE DE BEER skryf: Ek het inderdaad soos die redakteur K’rant se lesers aanbeveel het in my brein gaan rondkrap, maar om die een of ander rede onthou ek nie juis ‘n groot boel regtig snaakse stories in my dae by Die Transvaler nie – dalk omdat ek te kort daar was, of te lank alleen aan die Wes-Rand en later vir promosiewerk rondgery het.

Dit hang natuurlik ook nou af met wat ‘n mens as snaaks beskou. WAT sê die woord kan ‘n hele paar betekenisse hê: Om jou snaaks te hou (gemeen, katterig), ook om iets eienaardigs gade te slaan, of dan ook grappig, koddig of klugtig.

Klugtig was dit beslis toe DT se nagnuusredakteur my in die middel van ‘n wintersnag op die Wes-Rand na ‘n báie lang dag van rondjaag bel en sê ek moet dadelik ry en die storie en foto’s gaan kry: die grootste motorongeluk nog het by die Paardekraal-monument in Krugersdorp gebeur; 10 tot 20 motors het teen mekaar vasgejaag. Daar moet geweldige lewensverlies wees.

Ek was niks lus vir ‘n opstanery in die koue nie en het eers my kontakte gebel. Nee, nóg die polisie, nóg die ambulans, nóg die brandweer het iets geweet. Die opdrag was egter onverbiddelik: Ek móét ry.

Daar gekom, was daar wel ‘n ry motors teen die skuins bult geparkeer met enkele polisielede en ‘n paar boos motoreienaars in sig. Maar niks te sien van die afgryslike motorongeluk nie. Net een van die boonste motors wat remloos teen die volgende gestamp het, dié weer teen die volgende, ens.

Ek is huis toe en het die storie van die “grootste ongeluk nog” in detail beskryf en deurgebel. Die laaste paragraaf het min of meer gelui: Op ‘n vraag aan ‘n polisielid of dit die grootste motorongeluk is wat hy nog in sy loopbaan gesien het, was sy antwoord: “Watter ongeluk?” Nodeloos om te sê die storie is nie geplaas nie.

Aan die anderkant kan ‘n voorval op ‘n gegewe oomblik nie noodwendig vir almal in die omgewing snaaks wees nie, juis nie vir jou nie en veral as dit woordeloos plaasvind. As jy egter later daaraan dink, kan jy nie help om minstens te glimlag nie, al het jy dit toe nie as grappig of koddig beleef nie.

Johan Pretorius het al vertel van die teleksberigte wat beginners in die subkantoor uit die glashokkie moes gaan haal en vir die hoofsub bring. Synde dat ek in my Puk-studentedae reeds tydens vakansies by Die Transvaler gewerk het, moes ek die eerste keer op ‘n Sondag inval.

Eintlik het ek net rondgehang. Niemand het vooraf gesê wat ek moet doen nie, en ek het toe naderhand by ‘n oop tikmasjien gaan sit, ‘n draadmandjie nadergetrek en begin om van die ou nuusagentskap-kopie te vertaal, iets wat oom Gert Pienaar ons tot vervelens toe in die praktiese perswetenskap-klas laat doen het.

Toe ek my kom kry, sê-skreeu hoofsub Piet Gouws daar van ander kant af: “Haai, is jy die student? Vir wat sit jy daar? Is jy nie die papierskeurder nie? Gaan haal vir my die telekskopie!”

So uit die hoek van my oog het ek die telekshokkie vroeër opgemerk en my soos blits daarheen gehaas.

Nou, Perskor-mense van die jare ’60 sal weet hoe die telekse van Vrydagnag tot Sondag laatmiddagopgebondel het. Iemand moes dan deur die loop van die naweek die stringe berigte afskeur; sorg dat daar voldoende papier op die teleksmasjienrolle is en die berigte netjies een vir een van die string afskeur en die los blaadjies van lang berigte elkeen afsonderlik met ‘n kopspeld heg. Dit is in elk geval wat ek veronderstel was om op die betrokke Sondag te gedoen het.

‘n Hoorbaar geïrriteerde stem het deur die glasmuur gekom: “Bring jy die telekse, of bring jy dit nie?”

Ek het die spulletjie so een vinnige kyk gegee en toe maar gedoen wat my hand gevind het om te doen: Ek het my arms onder die yslike hoop telekspapier ingedruk en soos ‘n slaaf wat Johannes se kop op ‘n silwerskinkbord omhoog hou, eerbiedig die hele fladderende hoop papier aan Piet gaan gee waar hy teen hoë spoed gesit en sub het.

Vir enkele sekondes het Piet, toe al onder groot spertyddruk, my aangestaar met ‘n gesig wat ek nooit sal vergeet nie: sprakeloos en met afgryse vervul. Ek kon byna in sy oë sien hoe hulle benoud sy brein laat weet hulle glo nie wat hulle sien nie. Die nagkantor het ademloos tot stilstand gekom.

Ek kan nie onthou wat Piet met telekspapier bo-oor en om hom gesê het nie, maar ek weet sy stemtoon het gestyg toe hy sien een van die nuusagentskappe se kopie het my soos ‘n slang uit die telekskantoor gevolg.

Ek kan ook nie onthou of Piet ‘n man was wat op ‘n ander sou geswets het nie, maar ek verbeel my die geskeurde papier onder my skoene wat my uit die telekshokkie gevolg het, was van AFP.

• NS: Ek het dit nog nooit gedoen nie, maar doen dit graag nou by nabaat: Hartlik dank aan Frikkie van der Walt, geslypte papierskeurder wat hy toe was, vir die deeglike opleiding wat ek daarna van hom in telekshantering ontvang het. (Kyk ook Frikkie en ander se stories wat met teleksberigte te doen het onder die K’rant-soekfunksie: teleks.)