Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.5.14

Monument wat tart

PIET EBERSöHN skryf: Maurice Pieterse se storie gister laat my sommer weer met ‘n rooi gesig van lank gelede.

Nadat ek in 1979 by Die Transvaler weg is, is ek na ‘n maatskappy wat die destydse Suid-Afrikaanse Landbou-unie se Die Boer/The Farmer en ‘n groot aantal tydskrifte vir landboukoöperasies uitgegee het. Die SALU-blad was my verantwoordelikheid, maar ek moes soms ook vir ‘n kollega by een van die koöperasieblaaie instaan.

By geleentheid het ek my kamera vir ‘n kollega, wyle Hennie Smit, ook ‘n oud-Perskorman, geleen. Dit het ‘n film in gehad en ewe naïef het ek aanvaar ek sal dit met ‘n film in terugkry. Wat toe nie gebeur het nie.

Hendrik Schoeman
Villiers se silo's
Dit val toe so dat ek binne twee dae nogal moet wikkel om ‘n klompie uiteenliggende stories te dek. Almal met foto’s natuurlik.

Eers is ek Naboomspruit toe vir ‘n direkteurskursus wat die Noord-Transvaalse Koöperasie aangebied het. Daarvandaan na die lughawe Jan Smuts en per vliegtuig Bloemfontein toe vir ‘n boeredag van die Vrystaatse Universiteit. Terug op Jan Smuts moes ek sommer reguit Villiers toe waar die minister van landbou, Hendrik Schoeman, die Vrystaat-Koöperasie se nuwe silo’s ingewy het.

Op Villiers moes ek omtrent die hele dorp en distrik saam met die minister
afneem. As ek die een foto klaar geneem het, skuif die volgende groepie in, rangskik hulle om die minister, en ek klik. Dan die volgende. En die volgende. Ek skat so tien keer.

Nog onervare met die fotonemery, het ek nooit besef die “film” rol sonder enige weerstand nie. Eers toe ek by 36 raampies op die monitorvenstertjie verbygaan, het ek onraad vermoed. Fotogewys was my warrelwindreis ‘n gejaag na wind.


Jare lank het ek nie ‘n voet op Villiers gesit nie. Netnou herken iemand my en ek word aan die naaste boom opgehang.

En dertig jaar later word ek steeds nie toegelaat om my gebrou te vergeet nie. Iedere keer as ek by die dorp verbyry, is die silo’s steeds daar, imposant en onvermydelik – ‘n uittartende monument vir my onbeholpenheid.