Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.5.14

Ope Vraag Nr 7: Wat was snaaks?

HANS LOMBARD skryf: Wat dink ons van K’rant? By geleentheid is gevra ons moet ons mening gee oor K’rant. Ek kan nie onthou dat ek iemand se mening gesien het nie behalwe as ek ‘n uitgawe gemis het? (Jy het, Hans. Krap 'n bietjie in die vorige Ope Vrae rond om te sien - Red.) Na my mening is K’rant baie interessant en word dit baie goed aangebied. Mag dit vorentoe net van krag tot krag gaan. Dis ‘n wonderlike manier om kontak te hou met kollegas. Die stories van
almal is werklik baie interessant. Wil iemand dit nie oorweeg om al die kommentaar van so veel uitgelese joernaliste in boekvorm uit te gee nie?

JBM Hertzog
Was dit ‘n goeie ding dat Perskor ten gronde gegaan het? Dit was verlede week se Ope Vraag.

Beslis nee! antwoord Hans.

Dit was ‘n baie hartseer storie in die geskiedenis van die Afrikaanse perswese, skrywers en joernaliste. Koerante soos Die Transvaler en Die Vaderland moes nooit van die toneel verdwyn het nie. Die Vaderland was genl JBM Hertzog se koerant. Afgesien van die politiek van daardie tyd wat hulle bevorder het, was hulle ook ‘n riem onder die hart vir die Afrikaanse denke en kultuur, buite die politiek.


Rika van Graan
Hans se laaste opmerking: kan iemand nie asseblief ‘n mooier foto van Rika van Graan voorsien om by haar bydraes te plaas nie? (Ons stem saam, hoe lyk dit Rika? -- Red.) 

• Met 'n vorige Ope Vraag het ons bespiegel rondom die belangrikste vrae wat 'n verslaggewer vir iemand kan vra as hy 'n onderhoud met iemand voer.

Een van die wen-voorstelle waar die vraag vir jong verslaggewers gevra is, was om na die onderhoud vir die persoon te vra watter vrae hy versuim het om vir hom of haar te vra?

Pieter Schoombee het toe laat weet hy stem saam dis 'n baie belangrike vraag om te vra. Hy het ons ook sommer vertel wat sy strategie was tydens 'n onderhoud.

"My eerste vraag was altyd: 'Hoe spel ek jou naam?'" Dis 'n onskuldige vraag wat die persoon laat ontspan en wat belangrike inligting verskaf. Boonop gee hy implisiet ook toestemming om te publiseer. So spring jy daardie slenter voor van "dis alles off the record" wanneer dinge begin warm word.

Dankie vir hierdie bydrae, Pieter! Laat my dink aan die kraakvars verslaggewer by Die Transvaler destyds wat vergeet het wat die persoon se naam is met wie hy die onderhoud voer.

Toe hy gereed is om te loop vra hy die man hoe hy sy van spel net om 100% seker te maak hy spel nie verkeerd nie. Die man sê toe "Boeta, kan jy spel? N.E.L., NEL!

Ons nuwe Ope Vraag: Wat was die snaaksste ervaring wat jy in jou koerantloopbaan ervaar het?