Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.5.14

Zelda onthou - van koerant tot koerant

ZELDA VENTER skryf: Toe K'rant my uit die bloute kontak om te vra of ek iets uit my dae by Perskor kan deel, was ek ietwat onkant betrap. Nie dat ek ooit my eerste werkgewer sal vergeet nie, maar dit voel soos 'n leeftyd gelede.

Ek moes mooi dink saam met wie ek gewerk het en wanneer. Maar toe ek eers sit en dink, het ek al die gesigte in herinnering geroep - en natuurlik, hoe kon ek ooit die gebou in Pretoria-Wes vergeet!? Dit was die begin van baie gelukkig jare.

Thys Human
As 'n jong Technikon-student het ek my loopbaan by Oggendblad begin - of so het ek gedink. Dit was ongeveer 1982/3 en was deel van my praktiese jaar. Ek het geen idee gehad wat dit behels om te werk nie en my eerste vraag aan redakteur Thys Human was " wat beteken byline?" Ek is nou nog rooi in die gesig.

Dit was natuurlik 'n angswekkende oomblik toe ek in die nuuskantoor, aan die einde van die lang gang, instap.

My moed het selfs meer gesak toe ek my oë op die kwaaie Anneline Maree neerlê. Sy het al die jongelinge onder haar vlerk geneem, het ek bedroef verneem.

'n Foto uit Metro se dae: Wyle Dirk van der Walt 
saam met Zelda Venter in die nuuskantoor.
Maar dit was van daardie oomblik af dat my joernalistieke loopbaan van nou meer as 20 jaar vorm aangeneem het.

Anneline, soos almal maar maak met die juniors, het my landdroshof toe gestuur. My opdrag was om nie sonder 'n storie terug te kom nie. Ek het die hof platgeloop en meestal by die dwelmhof uitgehang, omdat die hof altyd vol was.

By my terugkoms smiddae, was die lewe moeilik. Ek moes " bloutjies" maak van my stories en Anneline het nie geskroom om dit op te frommel nie. Dan moes ek van vooraf begin.

Ek onthou ook baie goed dat die misdaadverslaggewer Elmarie Graaf was.

Lucas Maree
Ek sal altyd vir (toe) fotograaf Lukas Maree met 'n warm hart onthou - sy pienk langmou hemp, denim en swart klompe-skoene.

My herinneringe oor daardie dae is maar vaag, want dit het net sowat 'n maand geduur voordat Oggendblad toegemaak het. Natuurlik was ek een van die eerstes wat die trekpas gekry het.

Ek het vir drie maande by 'n mediese maatskappy gewerk en my oë uitgehuil. Ek het die redakteur van Transvaler (onthou sy gesig so goed, maar sy naam ontgaan my) elke tweede dag gebel.

Hy was seker moeg van my gepla en bied toe eindelik vir my 'n werk aan. Anneline se korststondige opleiding het vrugte afgewerp, want ek's toe dadelik hof toe.

Koos du Plessis
Herman Snyman
Dit was die begin van 'n prettige paar jaar! Ek het ook vining grootgeword, want ek was aan baie blootgestel. Ek het die stille Koos Doep gesien en kon my oë nie glo nie.

Ek sal ook nooit my nuusredakteur Herman Snyman vergeet nie. Vir hom was ek so bang soos die duiwel vir 'n slypsteen. Ek het eendag "besigheidsman" in my kopie geskryf. Hy maak toe sy broek los en gee voor hy gaan dit aftrek. Nee, sê hy vir my, vandag sal hy my "sy besigheid" wys. Het dit nooit, ooit weer vergeet nie!

Ek het ook nog nooit soveel drankbottels in 'n drom ná 'n nag se werk gesien nie! Weet nie wie dit gedrink het nie, maar dit was gewis soggens daar wanneer ek vir werk aangemeld het.

Eric Ströh
Dan was daar die dierbare Eric Ströh en later sy vrou, Stompie, met wie ek die voorreg gehad het om noglank vriende te wees.

Helaas was my tyd by Transvaler ook kortgeknip, toe dié ook toemaak. Gelukkig was ek een van die gelukkiges wat toe dadelik na Metro oor is.

Dit was aan die begin 'n groot aanpassing om vir 'n weekblad te werk, maar ek het dit gou onder die knie gekry. Ek het steeds hof- en regsverwante stories gedoen. Ek moes ook maar tussendeur iets van alles doen.

Lita Kotze
Willem Knoetze
Gelukkig was ek nie alleen nie en het kollegas soos Lita Kotze en ander ook Metro toegekom. Ons het dadelik soos 'n familie gevoel. Ek onthou die dierbare Willem Knoetze goed en loop hom nog so af en toe raak.

Dan was daar ook die wonderlike Koos Liebenberg, vir wie ek die grootste respek gehad het. Ek het die voorreg gehad om Koos 'n paar dae voor sy dood by sy huis te besoek.

Ek sien of hoor natuurlik gereeld van ander mede-kollegas soos Johanna van Eden en Sonja Carstens, omdat hulle nog aktief in die bedryf is.

Koos Liebenberg
Wat ek altyd van Metro se dae sal onthou, was die aande voor ons gesak het. Dan het almal in 'n tempo gewerk, maart sodra die koerant " bed toe is", was daar altyd 'n wyntjie of 'n bier naby!

Ek het intussen drie maande onbetaalde verlof gekry, waarna ek Europa op my eie met 'n rugsak verken het. By my terugkeer het ek weer eens die nuus gekry - dié koerant gaan óók toemaak.

Ek onthou dit soos gister - Frans Aucamp het die slegte nuus in die raadsaal aan ons meegedeel en ek het summier in trane uitgebars. Ek het gedink my wêreld tuimel ineen.

Met die soeke na foto's uit daardie dae, het ek die week toevallig op die laaste uitgawe afgekom. Dit was September 1997 en die voorblad was 'n son wat sak - geneem deur Eric Ströh. Die opskrif was bloot " Dis Tot Siens". Die koerant het R1,50 gekos!

Dié foto is tydens 'n Metro-potjiekoskompetisie geneem: 
Van links af is Jeanine Morris, wat op die kunsblad was, 
Zelda Venter, Chrisna O'Connell en Sandra Coetzee.
Met drie maande se salaris in die bank, het ek gedink ek is ryk en ek gaan bietjie vakansie hou, voordat ek my bekommer oor nog 'n werk. Dit was van korte duur.

Pretoria News het my ná 'n paar dae gebel en gesê hulle is dringend op soek na 'n hooggeregshof-verslaggewer. Ek was dadelik aangestel, maar het my morsdood bekommer oor die Engels skryf, maar siende dat ek op Pietermaritzburg grootgeword het, was dit gelukkig ook nie 'n probleem nie.

Ek het in Oktober 1997 daar begin en nog nooit teruggekyk nie. Ek sal nie my Perskor-dae vergeeet nie, maar ek het nou soveel meer geleenthede.

Ek was destyds met die Wouter Basson-verhoor Amerika toe, ek was onder meer Lagos en Addis Ababa toe en het ook vir 'n storie by 'n vliegtuig uitgespring!

'n Foto uit Transvaler se dae: Links is Francoise 
Steyn, Michael van Dyk en Zelda Venter.
Ek doen voltyds hooggeregshof-, Appèlhof- en ConCourt-stories. Ek is uiters gelukkig en mal oor my werk. Ek het veral 'n sagte plekkie vir die sogenaamde "impact law" - waar dinge 'n verskil kan maak aan ander mense se lewens.

Op die oomblik doen ek die Oscar Pistorius-verhoor, wat uiters veeleisend is. Ek leer steeds baie, veral in die verhoor, want ons moet buitelandse radio-onderhoude doen en ook deelneem aan die lewende TV-uitsendings op die 199 kanaal. Dit is soms skrikwekkend, omdat ek nie daarvoor opgelei is nie, maar ook baie opwindend.

Ek weet nie waar Anneline Maree is nie, maar ek moet vir haar dankie sê vir die liefde vir hofverslaggewing wat sy by my gekweek het.

Aan al my ou mede-Perskorkollegas, mag dit met 'n ieder en elk van julle goed gaan!