Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

11.6.14

Jasper beskryf joernalis-wees meesterlik!

Nog 'n reaksie op Jasper Schellingerhout se storie oor Die chemie van joernalistiek.

LITA KOTZE skryf: Ek wil graag hoor oor of Jasper Schellingerhout se bydrae in K’rant oor die chemie van joernalistiek spesiaal en vars vir K’rant geskryf is, of het K'rant dit opgediep uit ou argiewe? (Jasper het dit eksklusief en kraakvars vir K´rant geskryf - Red.)

Ek moet weet want ek is besig om dit die wêreld vol te stuur (danksy Japie Bosch, die joernaalmeester, se koevertjie onder links) aan vriende, familie en kollegas.

In sommige gevalle sodat hulle die tone-omkrul-lekkerte van hierdie stuk saam met my kan geniet, en in ander gevalle sodat familie en vriende my dalk beter sal verstaan.

Jasper
Schellingerhout
NOG NOOIT het ek joernalis-wees SO mooi beskryf gehoor/gesien nie. Dit behoort voorwaar aan joernalistiekstudente as 'n voorgeskrewe werk aanbeveel te word!

Jasper het daarin geslaag om my belewenis van die joernalistiek uitmuntend in woorde neer te pen. Vertel ons meer oor Jasper, toe? Oor hoe sy loopbaan verloop het en wat hy nou doen? (Klik HIER om meer oor Jasper te lees.  Deesdae is hy predikant in Hankey in die Oos-Kaap. --  Red.)

Wat Jasper so mooi as “chemie” beskryf, noem ek ewe verbeeldingloos sommer net “'n mens kry ‘n GEVOEL, ‘n WETE dat iets ‘n storie behoort te word”.

Die wêreld gaan staan half stil rondom jou, jy slaan liggies in sweet uit en jy WEET net … Dis nou natuurlik die groot, lekker stories, nie die massa bydraes wat maar net gedoen word as dienslewering aan die gemeenskap of omdat dit die koerant help volmaak nie.

Ek noem myself ‘n “softy joernalis”. My beats was nooit die opsienbarende goed nie. Het later in toerisme gespesialiseer. Maar ek het myself darem een keer in ‘n situasie bevind waar die adrenalien behóórlik gepomp het.

Dit was so 1991/2 se kant. Ek het by Transvaler in Pretoria gewerk. Voor dit was ek by ‘n gemeenskapskoerant, die Letaba Herald, op Tzaneen.

Die eks en ek is op goeie voet uitmekaar en ek het soms nog daar gaan oorbly ter wille van ons 3-jarige seuntjie. Ewentwel, ek het deur die Laeveld gereis, werkende aan die een of ander toerismebylae.

Laatmiddag maak ek klaar by ‘n plek op Hoedspruit, en met Seun in die kar vat ons die pad Tzaneen toe om die naweek daar te gaan uitspan. Maar skielik wil die Opeltjie se ligte nie werk nie. Probeer als wat ek kan om deur plaaslike mense gehelp te word, maar die uiteinde is dat Eks al die pad van Tzaneen af ry om ons te kom insleep. Was nie lekker nie, die meer as 120km se sleep sonder ligte!

Toe ons in die vroeë oggendure die dorp binne kruie, laat ons my Opeltjie by ‘n vriend se motorhawe, met opdragte aan die veiligheidswag dat ons later die oggend sal terug wees om reëlings te tref vir die herstelwerk.

Eks is ‘n vreeslike joviale ou en gesels ‘n hond uit ‘n bos met enigiemand, en so verneem ons toe van 'n skietery wat op die pad Duivelskloof toe plaasgevind het en ‘n hele paar gewapende ouens wat êrens in die bosse skuil.

Dis toe net daar dat daai chemie-ding met my gebeur! Want sien, Eks woon hoeka langs daardie pad en ons gaan daar móét ry om tuis te kom. En ek is ‘n joernalis en ek is dáár!

Op die brug net buite die dorp keer die polisie ons voor en wil keer dat ons verder ry. Maar Eks, ook lid van die plaaslike kommando, praat sy pad oop en ons ry huis toe, deeglik bewus van misdadigers wat langs die pad, of selfs by die huis, kan skuil.

Ek wou nie op daardie oomblik my kaarte van joernalis-wees openbaar nie, uit vrees dat die manne in uniform sal toeklap in die aangesig van die pers. Eks doen toe maar weer sy vrolike gesels-ding en my ore flap vir al die inligting.

Na bitter min slaap – van versigtig wees vir loslopende skieters, gemeng met Jasper se chemie van wéét ek sal dit as ‘n storie moet doen, selfs al is ek “met vakansie”, is ek teen 07:00 al besig om op te volg en meer inligting te soek.

Herman Snyman
Toe Transvaler se deure die oggend in Pretoria oopmaak, bel ek en praat met ons redakteur, Herman Snyman, om te sê ek is in die omgewing waar die skietery plaasgevind het en ek vra of hulle ‘n wil storie hê. Ons ruil gedagtes uit, hy sê hy sit my deur na so-en-so, dan moet ek my storie aan hom dikteer.

Nou ja, daardie soort ding – soos op die televisie – gebeur net met die misdaad en politieke verslaggewers, nie “softies” soos ek nie. Ek is van die SKRYF-soort joernaliste, dié wat hul bevrediging put uit die beredeneerde aanmekaarsit van die storie en die korrekte besig van die taal.

Maar toe ‘n stem antwoord en ek probeer speel vir tyd sodat ek dit kan gaan sit en skryf en dit vir hom geordend en taalkundige korrek oor die telefoon kan lees, sê hy net gebiedend: “Práát!” Toe praat ek maar.
Dié storie het die voorblad gehaal en mét ‘n byline, as ek reg onthou. Een van die min kere van harde joernalistiek in my loopbaan.