Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

4.6.14

Berig roep ou herinneringe op

SOMARIE GREY, emeritus-professor en ondervoorsitter van die Dagbreektrust, skryf: Ek sien onlangs (31 Maart 2014) die berig in K'rant oor die gruwelike motorongeluk waarin my ouers (Marius en Margeurite Jooste) en die motorbestuurder in Oktober 1973 betrokke was en hulle genadig almal dit oorleef het. Ek was daardie tyd in Boston (VSA) en het eers daarvan te hore gekom toe alles verby was. Sowel my suster Elize as broer Klasie onthou die voorval goed en het die detail aan my deurgestuur.

Marius Jooste
Klasie het verjaar en my ouers het oorgery Pretoria toe om soos gebruiklik almal saam as familie te gaan uiteet. Voor hul vertrek terug na Johannesburg na afloop van die kuier, het Klasie my Pa oortuig om sy veiligheidsgordel vas te maak. (Dit was nie iets wat hy in daardie dae geredelik gedoen het nie.)

Soos gebruiklik was my pa reeds voor in die motor langs sy betuurder (blykbaar ene Bonnyface wat juis berug was dat hy baie vining gery het) en moes my ma oudergewoonte alleen agter in die motor sit.

Die ongeluk het laatnag by Fourways gebeur. Bonnyface het glo by die vierrigting-stopstraat stilgehou (hy was eerste daar) en toe hy daar wegtrek het ‘n ander motor van die teenoorgestelde kant af nie stilgehou nie en kop aan kop, met die grootste impak aan my Pa se kant, teen hulle gebots. My pa het net voor die impak met sy hande teen die voorkant van die stuurkajuit gekeer en het vir ‘n lang tyd daarna pynlike voorarms gehad.

Met die impak het sy en Bonnyface se koppe ook met so ‘n geweldige slag teenmekaar gestamp dat albei van hulle glo “vir ‘n rukkie uit was”. My ma, wat agter gelê en slaap het, het met die slag agter die voorste sitplekke ingeval en slegs etlike kneusplekke opgedoen. Sy het later vertel sy het so erg geskrik dat sy oortuig was hulle is al drie dood.

Ek is nie seker of hulle weer ná daardie aand vir Bonnyface as my pa se bestuurder gebruik het nie, maar ons het verneem dat hy later jare juis in 'n motorongeluk omgekom het. As 'n mens na die foto van die wrak van die nuwe Buick hiernaas kyk, verstaan 'n mens dat my pa later aan Klasie-hulle genoem het dat hy meen dit was die vasmaak van die veiligheidsgordel wat gewis sy lewe gered het. Daarna was hy baie versigtiger om 'n veiligheidsgordel te gebruik.