Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.6.14

Die Valiant kom terug

FRIKKIE VAN DER WALT skryf: Perskor het só baie publikasies gehad dat die manne in die fabriek groot geld met oortydwerk verdien het. Die meeste van hulle het soggens ingeklok en laat saans huis toe gegaan. Een van die baie voormanne, Rudie Mioch, het een aand gespog dat hy teen Woensdag reeds sy weeklikse kwota ure gevul het en op Donderdag soos hy dit gestel het op tyd en ‘n half gegaan het. As hy dan nog naweke gewerk het, was dit volgens hom dubbeltyd.

Joernaliste was daarenteen 24 uur aan diens en nie op oortyd geregtig nie. Ons kon pleks van oortyd darem met ‘n gespook dalk ‘n paar dae vry kry. Die inkomsteverskil was duidelik in die personeel se voertuie sigbaar. Joernaliste het Volkswagens of middelslag voertuie gehad, maar die
fabrieksmanne het met groot Amerikaanse vuurwaens gespog. Diegene wat met die voormanne bevriend was, is vir oortydwerk voorgetrek. Een van die ouens was ‘n nutsman wat nie in die uitsoekgroepie geval het nie. Ek het sy naam vergeet.

Hy was besig om ‘n huis te restoureer en het die ekstra geld nodig gehad, maar is oor die hoof gesien. Ons
gesels een aand in die fabriek en hy sê hy het sy bouery voorlopig gestaak om aanbouings vir ekstra geld te doen. Sodra hy genoeg geld vir boumateriaal ingesamel het, het hy stuk vir stuk aan sy eie huis gebou. Tydens sy aanbouery kon iemand hom nie betaal nie en die man bied aan dat hy pleks van die geld met ’n ouerige Valiant sal betaal.

Die motor is nie baie goed opgepas nie en het heelwat herstelwerk benodig, maar hy het dit aanvaar. As ek saans proewe nagegaan het, het ek verneem hoe sy herstelwerk vorder. Sukkel-sukkel, maar darem, sê hy. ‘n Paar maande later nooi hy my om die voltooide Valiant te besigtig. Dit lyk soos ‘n splinternuwe vuurwa. Hy is met reg nie bietjie trots op sy handewerk nie.

Doornfontein Hotel, alias Vegkop.
Op ‘n aand stap hy woedend by Vegkop in en kondig aan sy motor is gesteel. Kan ek hom ‘n saamrygeleentheid gee. Ons ry om Perskor rond om seker te maak dat hy nie dalk vergeet het waar hy geparkeer het nie. Vergeefs. Die Valiant is weg. Hy het dit by die polisie aangemeld en daarna met sy gebruikte bakkie werk toe en terug gery.

Maande later kom hy by die kroeg in en stap saam met ‘n paar fabrieksmanne uit. Hy het sy Valiant om ‘n draai herken. Die diewe het blykbaar vergeet waar hulle die motor gesteel het en weer in Vegkop kom kuier. Een van sy maters het later vertel hulle het die diewe ingewag en ongenadiglik getug. Só erg dat hulle bang was een van die diewe kan die tydelike met die ewige verwissel. Die drie is agter op sy bakkie gelaai en by die ou Johannesburgse noodgevalle afgelaai.

Die Valiant is ná die voorval net vir spesiale geleenthede gebruik en hy is met die bakkie werk toe en terug.