Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.6.14

Bekendes en beroemdes het saam met ons gewerk

GERHARD BURGER skryf: Ja, dit was nogal ʼn ding; die slag toe ek en JR Ewing mekaar in Londen raakgeloop het. Die Engelse het hom Larry Hagman genoem, maar ek het sommer van ou JR gepraat - dis mos hoe ons hom geken het.

Eintlik het ons mekaar nie werklik raakgeloop en gegroet nie. Hy het toevallig in ʼn swart motor voor ʼn hotel stilgehou toe ek verbystap. Lekker hardegat ook. Hy’t nie eens teruggewaai nie. Hy en sy vrou, wat ʼn mens nie juis as mooi kan uitskel nie.

Ons was bloot toevallig op dieselfde dag op dieselfde plek in dieselfde dorp; ek en die Hagmans. Maar dis ʼn lekker manier om aandag te trek wanneer jy tussen ʼn klomp mense is.

Koos du Plessis
Harald Pakendorf
Die Engelse noem dit “name dropping”. Die Afrikaanse woord is glo naamsmous. Dit is iets wat joernaliste, veral oudjoernaliste, nogal goed doen. Ons was mos almal by geleentheid in die geselskap van beroemde en berugte mense.

Maar die beste is eintlik dat ons saam met soveel bekendes gewerk het; dat ons kollegas was van mense wat kort duskant beroemd was.

Nou met die onlangse verkiesing sit en kyk ons op TV na Harald Pakendorf en iemand vra of ek hom ken.

Jeanne Goosen
Karin Brynard
“Harald? Ja, natuurlik. Hy het soms in Vegkop ʼn bier saam met ons kom drink.”

ʼn Vrou sê nou die dag sy’s so lief vir Koos du Plessis se musiek. “O, Koos? Ons het saam gewerk. Ek het saam met hom rugby gespeel; het nog ʼn foto van daardie span. Jy moet kom kyk.”
 
Iemand anders vertel hulle het Jeanne Goosen by die Woordfees hoor praat. “O, Jeanne? Ek moet jou vertel van die dag ná FW de Klerk se 2 Februarie-toespraak toe ons in die nuuskantoor ʼn paar doppe gedrink en die implikasies bespreek het. Toe roep Jeanne uit: ‘Dis die bevryding van die witman!’”

PG du Plessis
Chris Louw
Voor in haar boek Ons Is Nie Almal So Nie het sy by haar handtekening geskryf: ‘Met agting en respek.’ Ek wil haar nog vra wat die verskil tussen agting en respek is.

Karin Brynard? Natuurlik! Sy’t ook saam met ons gewerk. Formidabele vrou; briljant. Sedert haar boek Plaasmoord loop en spog ons dat sy op ʼn tyd ʼn kollega was; sy en Carla van Buuren, ook nou ʼn gerekende skrywer op wie ons baie trots is.


André Verster
Thijs Nel
Ja, ons het ook saam met PG du Plessis en Chris Louw en Ryk Hattingh gewerk; almal diep seuns.

Dan praat ons nie eens van akteurs soos André Verster en Jakkie Groenewald nie. En die vooraanstaande skilder Thijs Nel. Min mense weet dit, maar hy was ʼn knap atleet.

Ons was nog kortbroek-joernaliste toe ons huis toe kon skryf en sê ons werk nou saam met Hein Toerien en Pieter Hauptfleisch.

Pieter Hauptfleisch
Jakkie Groenewald
Hein, ʼn bemarker by Perskor toe ons in Aucklandpark gewerk het, was toe al ʼn radio-legende; uitsaaier, skrywer en ʼn wandelende glimlag. Pieter, Oom Kobie van Die Du Plooys van Soetmelksvlei en later ʼn reus in Die Geheim van Nantes, was ʼn proefleser; dikwels taamlik nukkerig wanneer ons te veel foute na sy sin begaan het.

Die ander grote, Dana Nieuhaus, was by die Braamfontein-Transvaler, waar John du Toit – wat vir die Springbokke móés gespeel het – ook was voordat hy ʼn Perskor-kollega geword het.

Hein Toerien
Dana Niehaus
Ja, ek smous nou met name, maar ons was bevoorreg om saam met besondere mense te werk. Soos Koos Venter, wat as die wêreld se grootste kenner van euphorbias beskou word. En Koos Botha, ʼn houtkunstenaar en beeldhouer van formaat.

Ja, natuurlik het ons saam met Len Lindeque gewerk. Ook saam met spotprenttekenaars soos George Jacoby, oom Jacob, en Victor Ivanoff.

Baie mense het Flip Joubert al vergeet, maar hy was ʼn hengel-legende. Hy en Clasie van Vuuren, wat ook saam met ons gewerk het.

Len Lindeque
Victor Ivanoff
Dan is daar nog Peet van Staden en Foeta Krige wat by die SAUK grootkoppe geword het. En Peet se vrou Elise, wat ʼn doktorsgraad in Afrikaans verwerf het; net soos die Hooglied-vrou Joan Kruger.
Wessel Oosthuizen is seker die bekendste van die klomp skitterende fotograwe wat in ons span was, maar eintlik is hy sommer ʼn pel; nie ʼn beroemde nie, al was hy en Jim Reeves se vrou groot vriende.

Dis die wonderlikste van ons dae by oorlede Perskor: daar was soveel kollegas wat op soveel terreine uitgestyg het. Nou praat ek nie eens van die operasanger Gert Potgieter en die aktrise Dulcie van den Bergh nie. En Gert van Tonder van Groep Twee en die Junior Springbok Francois Roux. Ons het hom Lucky genoem.

Peet van Staden
Elise van Staden
Joan Kruger
Foeta Krige
Wessel Oosthuizen
Gert Potgieter

Gert van Tonder
Dulcie van den Bergh
Francois Roux
John du Toit

Daar was ʼn hele klomp ander ook, maar jy weet mos hoe dit gaan as ʼn mens met dié soort ding begin: jy vergeet altyd ʼn paar name. Miskien sal van K’rant se ander spanlede nog name byvoeg.

Buitendien raak ʼn mens moeg as jy so hard dink en so lank skryf. Moeg en dors, ja.