Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.6.14

Geisja-danseres maak amok op NG Kerkraad

HANS LOMBARD skryf: Ná my besoek aan Japan in 1959 het ek ‘n boek geskryf oor my ervarings, “Straalvlug na die Ooste.” Dit is deur Nasionale Pers uitgegee.

‘n Resensie van die boek deur Frans Esterhuysen het op 6 Januarie 1962 in die Evening Post, ‘n koerant in Port Elizabeth, verskyn onder die opskrif: “Afrikaner liked Japan and its women.” (Leef Frans Esterhuysen nog? Ek het hom nooit ontmoet nie - Hans.)

Hans en die geisja-meisie op die dansvloer.
Saam met die berig is ‘n foto uit my boek geplaas waar ek met ‘n geisja-meisie dans.
 
Dit het op ‘n NG kerkraads-vergadering van die moedergemeente op Cradock ‘n helse amok veroorsaak waar my pa een van die ouderlinge in die gemeente was.

Tydens ‘n vergadering van die kerkraad het een van die ouderlinge driftig die berig rondgeswaai en geëis dat my pa onmiddellik uit die kerkraad moet bedank aangesien “die berig van sy seun wat skandalig en skaamteloos met ‘n Japanese ‘meid’ dans, ‘n groot verleentheid vir die gemeente is”. Nog harder en driftiger woorde het gevolg. Ek het salig onbewus van die moleste in Londen gesit.

Ds DPM Beukes, later moderator van die NG Kerk, was dié aand die voorsitter. Hoewel hy en my pa probeer verduidelik het dat my pa nie verantwoordelik gehou kan word vir my optrede nie, het die broeder aangehou om my te beswadder. Dominee moes telkens ingryp om die broeder se taal te temper. Hy het daarop aangedring dat my pa onmiddellik moes bedank, anders sal hy bedank.

Die destydse berig in die Evening Post.
Ds Beukes het die vergadering verdaag en met die omgesukkelde broeder privaat ‘n lang gesprek gevoer om hom van sy sienswyse te laat verander. Hy het egter besluit dat hy nie daardie kerkraads-vergadering gaan bywoon nie en is huis toe om sy posisie as ouderling te gaan oorweeg.

Van die ander ouderlinge en die dominee het later met hom gaan gesels en op die ou end het hy besluit om nie te bedank nie en sy voorstel dat my pa moet bedank, teruggetrek.

Die storie is lank onder die dorpsmense bespreek. Intussen het my boek op die dorp soos soetkoek verkoop.