Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.6.14

Prof Chris wag met breë glimlag vir sy storie!

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Vroeg in 1982 moes ek as landboujoernalis ‘n artikel gaan skryf oor oorle prof Chris Barnard, meer beroemd vir sy hart-pionierswerk, maar toe skielik ook stoetboer met Simmentaler-beeste.

“Hy’t ‘n plaas gekoop daar naby Sedgefield in die Suid-Kaap en het groot planne met ‘n Simmentaler-stoetery. Gaan kry die storie vir ons,” kom die opdrag van die redakteur uit die Kaap.

Ek was toe in Port Elizabeth gestasioneer ná my tyd by DV: 1974 – ‘77. Ek reël met die agbare proffie se
baie ingenome plaasbestuurder dat hy my moet inlig as die vermaarde eienaar in die Suid-Kaap is dat ek die storie direk so uit die perd se bek kon kry.(Later moes ek toe ontdek prof Chris was, naas ander lekker dinge, vrek-lief vir publisiteit en met sommer baie “brêg” ook daarby.)

Op ‘n dag bel die bestuurder. "Professor sal so-en-so dag self hier wees. Ja, en die ry hierheen is seker so maksimum twee uur en ‘n bietjie."

Ek steek my Volvo se neus in die westewind in en ry. By Stormsrivierbrug se kant besef ek, toe ek die afstand sien wat nog voorlê, ek staan nie ‘n halwe kans om vir dok Barnard vandag NIE te laat wag nie. Sommer ongemaklik lank ook. Die voorman kan miskien van beesboerdery iets weet, maar van ry-afstande vir seker niks nie. Hy was gans te optimisties en nie eens ‘n Concorde se spuitmasjiene sou my in daardie stadium betyds daar kry nie.

Ek laat dwaal die naald, soos Koos Doep se liedjie sê, op plekke “ kort duskant nul”, maar die horlosie hol vandag vinniger as tyd. ‘n Hiperventilerende gedagte vat al die plek wat te vinde is in my kop: vandag laat ek ‘n wêreldikoon sowaar wag.

Dit moet seker een van dié onvergeeflike sondes wees. Die naald lê steeds erg vooroor op die meter en later troos ek myself so suutjies: Ag wat, prof Chris soek hopelik harder na die publisiteit as wat ek na ‘n storie soek; hy sal seker nie te ontsteld wees nie?

Ek moes hulle op Sedgefield ontmoet en ek laat hom toe oplaas ‘n goeie 35 minute wag. Net buite Sedgefield sien ek ‘n voertuig se ligte flits soos hulle my toe al tegemoet ry. Ek sien dis hulle en ‘U’-draai behendig en stop agter hulle. Vra maar witoog en hiper-verleë verskoning, sonder om die voorman se aansien te erg aan te tas en ja, die prof aanvaar heel gelate my verskoning.

Prof Chris Barnard
Prof Barnard – heelwat kleiner van postuur as wat ek my hom voorgestel het -- bly die hele tyd nogal gemoedelik in daardie eerste ongemaklike minute en sy glimlag is dieselfde een waarmee duisende koerantmanne en miljoene lesers wêreldwyd hom leer ken het. Ja, dink ek, hy weet duidelik hoe belangrik publisiteit vir ‘n stoetboer is en dit bring ‘n soort Bybelse kloekmoedigheid oor hom. Ek oorleef sowaar my dilemma vandag!

Die ongemaklikheid het gou verdwyn, behalwe dié van ‘n skoonheid waarmee prof Barnard toe uitgegaan het en wat ook saam met hom was (terwyl sy egskeiding nog aan die gang was). Toe ek my kamera uithaal, was sy ooglopend sku en skugter. Later sou sy die prof se vrou word. Omdat ek vir landbousake (en nie vir Rapport nie!) daar was, het ek nou wraggies die skugter vryer-vrou se naam vergeet.

Die onderhoud het goed afgeloop. Prof Chris het nie geskroom nie om redelik groot te praat oor sy planne om binne enkele jare onder die top-Simmentaler-stoeterye in die land te tel.

Hy lag weinig verskillend van ‘n outydse Kolynos-tandepaste-advertensie. Nee, dag ek so onder die skedel langs, dié man weet hoe om voor ‘n kamera sy ding te doen! En beter as baie stoetboere wat ook goed kan “tanne uitpak “ voor die lense, omdat hulle graag duur bulle wil verkoop.

Ná die onderhoud het ek en prof. Chris heerlik gesels oor ons dogtertjie se nierprobleem waarvoor sy geopereer moes word. Hy was simpatiek en het baie vrae gevra en my en my vrou sterkte toegewens.

Die prof was nog lank na my skrywe in die kollig met sy hartoorplantings, maar hy het gou besef ‘n operasieteater en ‘n beeskraal kom amper net so moeilik bymekaar uit as wat ‘n joernalis ’n horlosie van agter af kan inhaal!