Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.6.14

Om die storie te veroorsaak

PHILIP DEETLEFS skryf: Die Goudstadse Onderwyskollege was in die jare sewentig net om die draai van Perskor in Auckland Park en baie naby Brixton. Die polisie se blitspatrollie-eenheid met brigadier Theuns Swanepoel (die Rooi Rus) aan die roer van sake was ook in Brixton.

Ek weet nie of Buks Pietersen of (klein) Dana Niehaus hierdie storie nog kan (of wil) onthou nie, maar destyds toe ek misdaadverslaggewer by Die Transvaler was, was Buks misdaadverslaggewer by Rapport.

Buks Pietersen
Dié spesifieke aand was dit die joolweek by Gokkies en klein Dana Niehaus was 'n student daar.

Die joolweek was vir die polisie in Brixton altyd baie besig want die studente was vir die hele week lank lus om net droog te maak. Die gemiddelde inwoner van Brixton was die hele week lus om hardhandig vir die studente te laat verstaan dat hulle nie dink die studente-kaskenades is snaaks nie.

Klein Dana was ons pel by Gokkies want hy (soos baie ander Gokkies) het dikwels saam met ons sake van wêrelbelang by die Sans Souci-hotel bespreek. Die Rooi Rus was ook ons pel want ons het geskryf oor die werk wat hy en sy eenheid doen.

Nietemin, die aand (ek dink dit moes 'n Vrydag gewees het want Buks was betrokke en dinge het in sy Rapport-spertye begin val) was min of meer die hoogtepunt van die Gokkies se jool-jollery. Ons soek 'n storie, maar min gebeur.

Later besluit ons toe op 'n plan. Ons vertel vir Dana dat die polisie vir ons vertel het die studente is besig om hulle geduld tot die uiterste te beproef met hulle prettighede en dat daar van die volgende student wat skeeftrap, 'n voorbeeld gemaak sal word.

In so te sê dieselfde asem vertel ons vir die Blitspatrollie se ouens dat die studente dink die polisie is te bang om hulle te vang as hulle onskuldig pret maak. 'n Heerlike uitdaging weerskante toe. Ons sit met kameras oorgehaal om hierdie geveg af te neem.

Ek kan nie onthou wat die studente, die inwoners van Brixton en die polisie gedoen het en in watter mate hulle met mekaar slaags geraak het nie, maar ek het my storie gekry en Buks het sy storie gekry!

(Geen diere is leed aangedoen om die storie te veroorsaak nie.)