Min mense weet dit, maar Willem de Klerk, was voor sy aanstelling as hoofredakteur van Die Transvaler in “verkennende gesprekke” met Nasionale Pers betrokke. Hy is ook in 1975, toe hy hoofredakteur van Die Transvaler was, deur Lang David de Villiers van Naspers die redakteurskap van Beeld aangebied, maar hy het dit summier van die hand gewys, skryf Andries Botha.
Nina Overton-De Klerk |
Onder die opskrif, “Deurbreek na Verligte Politiek, Wonde en Al”, skryf hy oor die “hemel en hel van die pers: vir dertien jaar” oor die tydperk 1 Julie 1973 tot Augustus 1982 as hoofredakteur van Die Transvaler en die tydperk 1 April 1983 tot 7 Maart 1987 as hoofredakteur van Rapport.
Sy drie beroepe – predikant, professor en die perswese – was vir hom amper ewe bevredigend. Hy stel egter die pers bo met 85%, predikantskap tweede met 80% en sy professorskap laaste op 75%.
Waarom het hy tot die perswese toegetree? “In essensie is dit invloed wat ek in die posisie kon uitoefen...
Daar sit een tema in al my beroepe en dit is dat ek saaier was. Ek het met die gesproke en geskrewe woord handel gedrywe met idees, filosofieë, beleide, perspektiewe, analises, diagnoses en terapie. Saad gesaai wat ontmasker het, geïnspireer en uitgedaag het.
“Die lekker van my perssaad vir my was 'n paar dinge: dit was saad wat daagliks, en twee maal 'n week met my rubrieke in Die Transvaler en Rapport, wyd gesaai is by 'n paar honderd duisend mense – in wat jy in die koerant geplaas het en nie geplaas het nie en in jou kommentaar.”
Met verwysing daarna dat slegs 12% meningvormers kommentaar lees, skryf hy dit het impak omdat dit met die nuus van moment te doen het, “want daar is reaksie soos in 'n tweegesprek – ander koerante reageer môre op wat jy vandag geskryf het, ook ministers, die eerste minister, die sakesektor, die koffie-gesprekke, die goedkeurende en die afkeurende is daar. Dit gee 'n dinamika aan koerantkommentaar...” Daar is dinamiese reaksie daarop... die saad het in my geval ook oes geword, want wat ek (en andere) gesaai het, het gegroei.”
“Reg, die invloed van die pen het my 'n ‘kick’ gegee. Ook die omgang met invloedryke mense – politici, sakebaronne, hoë amptenare, buitelanders in hoë posisies – het my die invloedsbehae gegee dat ek werk met geskiedenismakers en self aan die geskiedenis timmer. Dis nie grootheidswaan nie, maar die waarheid. Vir die volle dertien jaar – laat ek dit maar self sê – was ek die prominentste Afrikaanse koerantkommentator. My groot onmiddellike voorgangers was Schalk Pienaar en Wollie van Heerden. My tydgenote, Piet Cillié en Dirk Richard, het ek verbygesteek met kontroversialiteit, vreesloosheid, verligtheid en konsekwentheid. Ek was die nuwe stem.”
Hy was ook geboei deur redaksiebestuur en daaglikse beplanning met spertye, “die masjiene wat rol en vannag die produk in jou hande. Die lewenswyse van vinnige beslissings, koorsagtigheid, spanning en mededinging, 'n soort vrees wat jou aanjaag, die waag met 'n storie of 'n standpunt, die kameraadskap van jy en jou mense wat, styf gespan soos jagters, die nuus jag.
“Dit mis ek tot vandag toe.”
Vir hom was daar ook die luukse – drie maatskappy-Mecedesse in 13 jaar, 'n eie motorbestuurder, 'n sekretaresse en 'n salaris wat feitlik verdubbel het nadat hy die universiteit verlaat het, 'n rentevrye huislening en maatskappyversorging van sy tuin. Daarby 'n kredietkaart vir onthale, kaste drank as geskenke en gemiddeld twee keer per jaar oorsee gaan.
Die drie dinge wat die perswese vir hom hemel gemaak het, was om “deel van die politieke binnekring te wees wat by die vuur sit en tog selfstandig bly, die spannende gefokusde lewenswyse en die luukse.”
Lang David de Villiers |
De Villiers het in sy antwoord onder meer geskryf: “Die gedagte is nie alleen hoogs interessant nie, maar baie opwindend en ek sou graag by die eerste die beste geleentheid persoonlik met u daaroor gesels. Ongelukkig staan ek op die punt om met vakansie te vertrek en sal ek gewoonweg eers in die week van 22 Januarie op kantoor wees.”
Hy het toe voorgestel dat 'n latere ontmoeting gereël kan word.
“Na 'n oor-en-weer gepratery en skrywery, maak Naspers my toe die aanbod van assistent-redakteur van hul te stigte dagblad (Beeld). Dis toe 19 Maart 1973 en die aanbod sal eers van middel 1974 geld wanneer Beeld gestig sal word.
“Gedurende 1975, toe dit sleg gaan met Beeld onder Grosskopf, (Schalk Pienaar het weens siekte afgetree) het Lang David my gevra om hom op die lughawe te kom spreek en my toe – met sweer van geheimhouding – die redakteurskap van Beeld aangebied. Naspers het hom dus gestuur. Ek het gedink dit was 'n naïewe daad, want hoe kan ek oorloop van Die Transvaler na die vyand-mededinger Beeld? By naskouing – want deur die jare het ek Naspers goed leer ken – was dit dalk 'n baie berekende daad. Die Transvaler het oënskynlik baie goed gevaar en deur my weg te rokkel (en sê, my weer na 'n paar maande by Beeld te elimineer), sou uit hul oogpunt goeie strategie wees. Natuurlik het ek geen oomblik gedink nie en daar by die lughawe nee gesê.
Sen. Jan de Klerk |
Marius Jooste |
Oorspronklik het Willem de Klerk se verkennende gesprek met Lang David de Villiers rugbaar geword en dit het gelei tot spoedige reaksie van politici en Perskor om hom as hoofredakteur van Die Transvaler aan te stel..
“Íntussen het my pa (sen Jan de Klerk), oom Wollie van Heerden, Ben Schoeman en Jooste op my toegesak met Transvaalse druk teen my ‘geheulery’ met die Kaap. Jooste en Perskor maak toe die aanbod vir hoofredakteur van Die Transvaler summier/onmiddellik/dadelik van krag as ek dit verkies en met 'n baie, baie aantreklike pakket. Ek besluit om te aanvaar, praat met Hennie Bingle, rektor van die Puk en skryf 'n uitvoerige brief aan Lang David van Naspers.”
(Aanstaande Vrydag: “My Perskor-ervaring”.)