Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

24.10.12

Neil vat nog ’n snuiter vas

Piet Ebersöhn skryf: Johan van Wyk se dikbek-hoekiesittery laat my toe dink aan hoe Neil Steyn ’n ander rammetjie-uitnek snuiter vasgevat het in die dae toe ek saam met met hom vir Perskor se Pretoriase weekblad, Metro, sport geskryf het.

Dit was in die nagloed van van 1995 se rugby-wêreldbekersege. Ruben Kruger is pas as rugbyspeler van die jaar gekies. Mike Atherton se Engelse
krietetspan was in ’n toetsreeks met Suid-Afrika gewikkel, met die nuus van die dag
dat Vinnige Fanie de Villiers, die heersende krieketspeler van die jaar, deur ‘n dyspierbesering uit die toetsspan gehou word. Francois Botha het pas die IBF se wêreldbokskampioen as swaargewig geword – voor hulle sy titel teruggevat het.

Vir diegene wat nie weet nie, Francois is die seun van Jan Botha, jare lange fabrieksvoorman van Perskor in Pretoria. Hy het in 2009 die WBF se wêreldtitel gewen, maar dit later aan Evander Holyfield afgestaan. Op 17 Desember vanjaar boks hy in Durban teen die vuisvaardige All Black-rugbyspeler Sonny Bill Williams.

Neil Steyn (Foto ingekleur.)
Dit net as agtergrond. Terug na my storie: In dié dae kies die Noord-Transvaalse krieketkeurders ’n nuwe jongeling vir die bond se uitsoekspan (sy naam het my ontgaan) en Neil bel hom vir ’n onderhoud.

“Ag nee, tog nie alweer nie,” mor die knap ewe arrogant toe Neil sy versoek rig. Neil het verskoning gemaak dat hy lastig was, beleef gegroet en die telefoon neergesit.

Enkele minute later lui sy telefoon. Hy het dit nou nie so bedoel nie, verduidelik die nuweling. Hy is tog bereid om te praat.

Francois Botha
“Kyk,” antwoord Neil, “ek het die afgelope 45 minute met Ruben Kruger, Fanie de Villiers en Francois Botha gepraat. Ons hou nie almal van mekaar nie, maar ons respekteer mekaar se prestasies en mekaar se werk. In dié opsig het jy nog veel te leer. Ek sê jou wat, kom ons voer die onderhoud as jy weer vir Noord-Transvaal gekies word.”

Daardie onderhoud is nooit gevoer in die volgende jaar en ’n half wat ek nog aan Metro verbonde was nie!

Van Neil en die rugby-wêreldbeker gepraat, is daar een van sy hiperbole – iets waarvan hy natuurlik ‘n meester was – wat my lewenslank sal bybly.

Die middag van die eindstryd is hy, ek en twee van sy vriende, Arabier Visser van Augrabies en ene Herby, ’n Nieu-Seelander, op pad Ellispark toe.

Onderweg kom Neil toe op Engels, en in doodse erns, met die volgende vorendag: “Jy weet, Herby, daar is nie ’n kat se kans dat Nieu-Seeland vandag kan wen nie. Elkeen van daardie 15 Springbokke het in die oorlog aan die grens geveg. Elke enkele een van hulle het doodgemaak! Daar is mos geen manier dat die All Blacks só ‘n span kan klop nie.”

En ek is seker Herby het hom geglo, want hy was maar stil vir die res van die rit.

Iets van Neil wat my altyd geïmponeer het, was die manier waarop hy met die mense met wie hy onderhoude gevoer het, kon assossieer. Daar was altyd ’n gedeelde belangstelling of ervaring waarmee hy ’n wyle van die fokus van die onderhoud kon afdwaal om die ondervraagde te laat ontspan voor die onderhoud op dreef kom – en as dit nie in sy eie ervaringsveld was nie, het hy familie of vriende ingesleep.

Neil se liefde was sy groentetuin.
Beste wat ek hiervan onthou, was sy een dogter, wat sielkunde geswot het en skakelbeampte in die polisie was. Namate die omstandighede gedikteer het, was sy polisiebeampte, sielkundige of kommunikasiekenner!

Op ’n dag vertel hy my die twee lekkerste dinge vir hom is om onsin te praat en om in sy groetetuin te werskaf. “Die héél lekkerste is as ek die twee kombineer en vir die groente vertel hoe ek hulle gaan opvreet!”