Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

2.10.12

Die vrou met ink aan haar hande

ANNELIZE SLABBERT, se onderstaande artikel oor Anne-Marie Mischke is te lese op die webblad van die Fontainebleau-Gemeenskapskerk en word geplaas met erkenning en dank aan die betrokke partye.

Die naam "Anne-Marie Mischke" is nie net bekend as befaamde joernalis en adjunk-redakteur nie; as FGK-lidmaat is sy iemand wat gereeld gevra word om vir FGK se webblad ’n artikel te skryf. As 2009-ontvanger van die
Markus Viljoen-medalje vir hoogstaande werk in die joernalistiek, was dit  dus heel gepas vir Annelize Slabbert om in haar gereelde webrubriek "Annelize gesels met...", vir Anne-Marie te besoek sodat ons hierdie gemeentelid en rolspeler in die gemeenskap beter kan leer ken. Die vrou met die ink aan haar hande.

KAN mense wat glo dat koerante "kruipende gediertes" is en joernaliste hoort tot ’n lewensvorm laer as dié van die paradys-slang, asseblief ’n tydjie aan die lees van Anne-Marie Mischke se verhaal van haar passie vir drukkersink en nuus afstaan? En kan ons terselfdertyd sommer ook onthou dat die eerste werklike Afrikaans wat ooit geskryf is, ’n stuk politieke joernalistiek was: Meurant se befaamde tweespraak tussen Klaas Waarzegger en Jan Twijfelaar oor die skeiding al dan nie van die Oos-Kaap en die Kaapprovinsie.

(Met erkenning aan die koerantman Schalk Pienaar, een van die Afrikaanse getuies van en bydraers tot groot tye.)

Die woord "passie" val nie eerste op wanneer ’n mens Anne-Marie Mischke persoonlik ontmoet nie. Daarvoor is die blywende impak van diepte-artikels en snydende ontledings in Rapport oor talle jare op die leser se intellek en rede. Nie die ontstellende aanspraak op emosie van ’n Antjie Krog of Rian Malan nie. Voorkoms is misleidend, dis waar, en niks aan haar amper broos skraalheid, die intelligente blik of skuins lag, dui op bloed wat bruis by die herinnering aan spertye, parlementêre skandes, politieke magspeletjies op die hoogste vlak nie. Wie vermoed dié oënskynlike skadelose vrou wat vroetel in haar vrolike, ouwêreldse tuintjie, was eens politieke beriggewer van ’n invloedryke Transvaalse dagblad en ’n adjunk-redakteur van die grootste Afrikaanse Sondagkoerant ter wêreld?

Haar loopbaan strek só ver terug dat baie van die terminologie wat eens só alledaags bekend vir joernaliste en Suid-Afrikaners was, vir die moderne leser haas onverstaanbaar en vreemd is: Die Transvaler en Die Vaderland, Die Beeld en Dagbreek, in die jare sestig en sewentig stewig deel van Afrikaners se leefwêreld, bestaan nie meer nie. Trouens, Transvaal is nou Gauteng en die Transvaalse Vierkleurvlag ’n voorwerp van grappies. Ook vuurvreters soos Rand Daily Mail en Sunday Express moes swig voor politieke druk en ekonomiese werklikhede. Vandag ken min Suid-Afrikaners me Helen Zille danksy haar dapper ondersoekende berigte in die Rand Daily Mail oor die dood van Steve Biko en nog minder mense onthou daardie eerste skokkende blootlegging van die Inligtingskandaal en dr. Louis Luyt se Citizen-skandaal deur die Sunday Express.

En dis die jare waartydens die jong Anne-Marie Mischke se loopbaan op volle gang was. Die begeerte na die lewe en werk van ‘n koerantverslaggewer was amper van altyd af daar. Selfs toe sy as Vrystaatse skooldogter nie Kovsies oorweeg het ná hoërskool in Bloemfontein nie, maar op aartsvyand, Puk, besluit het. Die aansporing was die graad in Perswetenskap wat net by die PU vir CHO aangebied was.

Die kursus was maar flou, maar Anne-Marie het haar vlymskerp intellek geslyp op tale soos Afrikaans-Nederlands en Duits en haar liefde vir boeke uitgeleef in ’n nagraadse diploma in Biblioteekwese. Met die droom van koerantwerk nog baie sterk in haar kop, het sy ’n nagraadse kwalifikasie in Biblioteekwese behaal by die nuwe Afrikaanse akademiese inrigting, die RAU (nog twee verouderde begrippe: Biblioteekwese is intussen tot Inligtingskunde en RAU tot UJ herdoop).

Ondanks ’n veilige en bevredigende pos tussen hardeband-boeke en hardlywige akademiese geskrifte, is sy wel uiteindelik na die mediawêreld en het uiteindelik in 1972 ’n oop deur by die SAUK gevind. Daar het die jong verslaggeefster leer vinnig en bondig werk, ’n vaardigheid wat haar tot vandag goed bedien.

Dit was ’n goeie jaar, maar die droom van drukkersink op ’n nat steen, rolperse wat daagliks geskiedenis op rolle maagdelike papier vaslê, van tikmasjiene wat waansinnig klakker kort voor saktyd, die droom wou nie bes gee nie. Soos Josef vir die bakker en skinker gesmeek het, het me Mischke ’n SAUK-kollega wat die oorgang van radio na pers sou maak, laat belowe: "As jy by Redakteur Farao se koeranthof kom, vergeet asseblief nie van my nie."

Die deurbraak het uiteindelik by Die Transvaler gekom, en dit op die Vroueblad. Gelukkig vir Anne-Marie was haar tydjie tussen oogskadus en hekelpatrone kort. Dr. Willem de Klerk, ook ’n oud-PUK, het Carel Nöffke pas as redakteur van die oggendkoerant opgevolg, en het Anne-Marie die kans gegee om munisipale verslaggewer te word.

Die res, soos hulle sê, is geskiedenis. Johannesburg se stadsraad was in daardie vroeë jare sewentig erg gepolitiseer en verslagdoening oor al die ontwikkelinge was besonder stimulerend. Van Johannesburgse stadsraad kon Mischke vinnig vorder, eers na die Provinsiale Raad, en later tot binne in die Parlement. En wat ’n dinamiese, opwindende tyd om eerstehands te beleef en te verewig.

Nie net parlementêre prosesse was nuuswaardig nie. Sinodesittings was die voedingsaar vir talle beleidsbesluite aan die politieke front en ook daar kon Anne-Marie tendense en onderstrominge onderskei en met haar kenmerkende ontledende styl, daaroor berig. Ongelukkig was die onweerswolke vir dr. De Klerk se redakteurskap by Die Transvaler aan die opstoot. Hy is vroeg in 1980 deur een van die meer kleurryke karakters in die perswese, dr. Marius Jooste, voorsitter van Perskor, afgedank.

As Farao se regterhand was Anne-Marie se kop ook op die blok, maar sy was vasberade om die hef in die hand te hou en uit vrye wil te bedank, maar eers wou sy ’n besonder belangrike sinodesitting in Pretoria vir die koerant dek. Iemand daarbo het egter ’n sin vir humor gehad. Want toe me Mischke op die oggend voor die sitting begin regmaak om haar bedanking te gaan indien, persoonlik aan Jooste, hoor sy oor die radio die groot man van vele koerantlegendes het die vorige aand die tydelike met die ewige verwissel.

Haar loopbaan as politieke redakteur by Rapport het sy in 1983 ’n jaar ná dr. De Klerk se aankoms as redakteur daar begin. In dié jare het Suid-Afrika eers onder PW Botha weggedeins voor die Rubicon en die grens tog later onder FW de Klerk, broer van Willem, oorgesteek, om ’n heel nuwe bedeling in Suid-Afrika moontlik te maak.

In haar loopbaan wat oor soveel jare kon strek, moes joernalistiek ook sy eie uitdagings die hoof bied. Toenemende mededinging van die elektroniese media, ’n verskuiwing in mense se lesersgedrag, verbruikers se beheptheid met "celebrities" en hul giere en geite, het tot meer oppervlakkige koerantberiggewing bygedra en die druk om finansieël te presteer, word immer groter. Baie van die idealisme van destyds het dalk uit die joernalistiek verdwyn, meen Anne-Marie. Nou was dit vir haar ’n goeie tyd om die joernalistiek vaarwel toe te roep, weliswaar met ’n tikkie heimwee, maar terselfdertyd met verwagting oor nuwe horisonne. Sy is reeds in ’n tweede loopbaan, besig met die vertaal en redigering van manuskripte.

Haar joernalistieke loopbaan eindig op ’n merkwaardige hoogtepunt. Die SA Akademie het die Markus Viljoen-medalje vir hoogstaande werk in die joernalistiek in 2009 aan Anne-Marie Mischke toegeken. Voormalige ontvangers van hierdie uitsonderlike erkenning in die Afrikaanse mediawêreld was PA Weber, Piet Cillié, Rykie van Reenen en Schalk Pienaar, groot geeste almal. Sy was lamgeslaan, verras en verheug deur die blyk van erkenning, sê Anne-Marie. Aan die einde van bykans veertig jaar plaas die toekenning as't ware die stempel van goedkeuring op haar werk.

Deur haar passie uit te leef en ondanks terugslae te volhard, is haar prestasie vir FGK, waar Anne-Marie lidmaat is, ’n inspirasie en rolmodel. 

(Die webwerk van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns rapporteer soos volg:
  • Markus Viljoenmedalje vir Joernalistieke Prestasie
Die Markus Viljoenmedalje heet na J.M.H. Viljoen.  Hy was van 1931 tot sy dood in 1949 hoofredakteur van Die Huisgenoot, een van die bekwaamste joernaliste van ons land.  In 'n lewensberig oor Markus Viljoen het D.J. Opperman onder meer geskryf:  "As daar iemand is wat gedurende sy lewe, en veral ná sy dood, nie na waarde geskat word nie, dan is dit die joernalis en die redakteur.  Hy het gewoonlik, soos dit ook die geval was met Markus Viljoen, sowel sy liggaam as sy gees veil vir die wel­vaart van sy koerant of tydskrif; maar so 'n joernalis bly eintlik vir die groot publiek 'n onbekende ..."
            
In 1969 het die Akademieraad besluit om hierdie medalje in te stel "vir langdurige hoogstaande werk in die Afrikaanse joernalistiek".  Die medalje word slegs een maal aan 'n persoon toegeken.
            
Vanaf 1976 is die prys elke drie jaar beskikbaar.


Toekennings

1969        dr. L.W. Hiemstra
1970        Willem van Heerden
1971        dr. P.A. Weber
1973        mnr. Schalk Pienaar
1979        prof. P.J. Cillié
1982        mej. Rykie van Reenen
1985        mnr. J.J.J. Scholtz
1991        mnr. Wiets Beukes
1994        mnr. Alf Ries
1997        mnr. J.P. Smit
2000        mnr. Niel Hammann
2003        mnr. P.A. Joubert
2009        me. Anne-Marie Mischke. -- Red)