WILLIE BUYS skryf: Dit is eintlik ‘n skande dat ‘n oudkollega wat duisende kilometer hiervandaan sit, by name Philip Deetlefs, ons wat hier in die besige K’rant-byenes voortzoem, daarop attent moet maak dat een van die vlytigste en vindingrykste joernaliste van die Perskor-era nog nie haar welverdiende ereplekkie in ons kolomme gekry het nie.
Ek verwys hier na die nimlike Rika van Graan wat in haar tyd ‘n
netwerknuus-kontakte regoor die land gehad het wat met afguns bejeën is deur haar mededingers by ander media en, natuurlik, bewondering afgedwing het by haar Perskor-kollegas. Kollega Philip het genoem dat Rika so fisies gestremd was deur ‘n ongeneeslike. aftakelende siekte dat sy in ‘n rolstoel gekluister was vanwaar sy haar eie joernalistieke empaaier gebou het.
Haar werk was haar lewe en dit het sy voluit gedoen. Sy was na my wete die enigste joernalis van daardie tydperk wat by haar huis met ‘n maatskappymotor gaan haal en na voltooiing van haar nagskof weer afgelaai is.
Soos kollega Philip ook tereg genoem het, was sy die polisie se liefling en het sy ‘n groot vriendekring opgebou onder die misdaadjagters. Sy het vir hulle koek gebak, saam hulle partyjie gehou en hul lief en leed gedeel. Soveel het hulle vir haar omgegee dat hulle haar in noodsituasies in die Perskor-motorpoel by die huis gaan haal en weer later gaan aflaai het!
Sy was ‘n nuusredakteur se droom – maar ook nagmerrie. Soek jy ‘n storie in komkommertyd en druk jy op Rika se nommer, het sy altyd met ‘n glimlag gesê ”toemaar, die rawe sal sorg" en dan met stories vorendag gekom wat die opposisie oorbluf en haar kollegas dankbaar gelaat het. Maar die nagmerrie-deel van Rika se karakter was haar plofbare humeur, veral as die juniors rondkarring op haar jaloers-bewaakte "beat" of as hulle nie maak soos sy sê nie.
Want die juniors was haar bene, hulle het die fisiese deel van haar taak behartig. Wat dit op neergekom het, was ondermynend van aard, want sy het uitvoerende gesag - wat eintlik by afdelingshoofde gesetel is - met haar oë stewig op haar teiken vir haarself toegeëien. So sou jy byvoorbeeld ‘n op die oogaf ledige junior joernalis wou uitstuur op ‘n toepaslike taak, sê hy/sy aikona, ek is besig met ‘n opdrag van Rika! Liewer die nuusredakteur se grimmigheid trotseer as Rika se skerp tong! Maar Rika was so waardevol dat haar dit haar "ondermyning" uitgekanselleer het.
En Rika kon vir jou die eienaardigste stories uitsnuffel. Vra maar vir Peet Simonis, wie sy bewend van opgewondeheid as nagredakteur gehad het met ‘n belofte van ‘n storie van ‘n welbedeelde vrou en haar perd. Rika se inligting was dat die vrou iewers op ‘n kleinhoewe net buite die Goudstad pas haar perd afgesaal het toe die dier ewe speels na haar hap. Die perd het dit seker nie so bedoel nie (of was dit ‘n hings?) maar dit bewerkstellig toe ‘n pynlike skeiding tussen een bors en daardie puntjie waaroor selfs volwasse mans steeds kwyl. (Dit ontgaan my nou of dié storie toe gerealiseeer het.)
Nog ‘n storie waaroor volbloed-joernaliste slegs van droom was oor ‘n vermoedelik lesbiese vrou wat nie tevrede was met die ligaam wat aan haar toegedeel was nie. Die ambulansmanne het haar glo bebloed aangetref na ‘n nooodoproep. Sy het eie amputasie uitgevoer op haar borste. Maar wag, dit was nie al nie, ook op ‘n plek wat die ginekoloë beskryf as die episentrum van vroulike seksualiteit. Daardie ontplooiende storie het weke lank die voorblaaie van koerante gehaal.
Ek weet nie waar Rika haar nou bevind en of sy nog lewe nie, maar ek glo sy beskik oor soveel rare stories dat dit ‘n boek regverdig. Waar is jy, Rika?