Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

8.10.12

Waar Was Jy die Aand van 16 Junie 1976?

ANDRIES BOTHA skryf: “Waar was Jy die Aand van 16 Junie 1976?” kan die titel van ’n opwindende boek oor Suid-Afrika wees.

Daardie aand was vir my om meer as een rede ’n geweldige skok. Soweto in vlamme. Brandende buitebande. ’n Betogende skare wat alles en nog wat na die polisie slinger. Geweerskote. Lyke in die strate. Veroordeling van die bestaande gesag uit die buitewêreld.

Boonop het ek met kwalik ingetoë opgewondenheid in my ouers se sitkamer gesit en feitlik die sekondes afgetel tot die volgende oggend wanneer ek op ’n vliegtuig sou klim na Mauritius om die kongres van die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) onder voorsitterskap van Uganda se President Idi Amin by te woon toe die skoknuus die wêreld tref.

Die vraag wat my in die gesig gestaar het, was: moet ek nog op die vliegtuig klim of moet ek bly? Wat gaan die volgende dag gebeur? Waar gaan dit eindig? Erger nog: wat sal die reaksie van die OAE-afgevaardigdes wees as hulle sou uitvind daar is ’n “vyand” in hul midde?

Na rype oorweging en talle telefoonoproepe het ek besluit om maar die stoute skoene aan te trek en die volgende oggend op die vliegtuig te klim.

Ek het kort tevore Die Vaderland verlaat en was toe Projekdirekteur van die Vryheidstigting Suider-Afrika met Pick‘nPay se Raymond Ackerman as voorsitter van die raad van trustees. Deur ’n kontak in Mauritius se departement van landbou het ek toegang verkry in ’n tyd toe Suid-Afrikaners vir die duur van die OAE-kongres glad nie in enige hotel in Mauritius toegelaat is nie.

Club Méditeranée, Mauritius
Die enigste plek waar Suid-Afrikaners kon bly, was in die Club Méditeranée, wat feitlik ’n afgeslote eenheid was waar die gaste heeldag, heeltyds op ’n program getrakteer is en nie elders op die eiland toegelaat is nie – wat almal feitlik sonder uitsondering gedoen het.

Behalwe ek, wat ’n motor gehuur het en afgesit het na die OAE-kongres. Die bestuur van die Club Med het wel later allerlei vrae begin vra oor my afwesigheid, maar omdat almal in aparte eenhede gewoon het, kon ek altyd ontduikende antwoorde uitdink.

Ek het in Die Vaderland, waar ek nog dikwels soggens vroeg as ’n “pond-’n-uur-man” (in Dirk Richard se woorde) my deel gedoen het, oor die kongres geskryf en gelukkig was daar geen voorvalle op die eiland nie.

Idi Amin Dada
Die onsekerheid van die aand van 16 Junie sal my egter altyd bybly.

En drie stukkies humor wat ek graag met Perskoriane deel.

• Pik Botha het glo op een van die Vorster-regering se talle geheime besoeke aan Afrika langs Idi Amin op ’n banket in Kampala gesit met die VSA se buitelandse sakeminister Henry Kissinger aan die ander kant.

Pik merk toe op dat Uganda se minister van buitelandse sake hom nie juis aanstaan nie.

Waarop Idi Amin antwoord: “Skuif hom opsy en eet jou groente.”

Henry Kissinger
Henry Kissinger is weer baie laat in sy lewe met Nancy getroud en was meer uithuisig as wat hy tuis was. Sy het by ’n sielkundige gaan kla dat hy haar nie eens meer raaksien nie. Dié het toe voorgestel dat sy in die oggend as hy uit die stortbad kom horisontaal op die bed moet gaan lê en een helfte van haar bolyf vertikaal ontbloot. Dit sal Henry seer seker opval en haar baie sigbaar maak. So gesê, so gedaan.

Toe Henry uit die stortbad kom, bekyk hy die toneel op die bed toe so en sê: “Dit herinner my, ek moet Moshe Dayan bel.”

Wyle Jaap Swanepoel voor my vertrek na Mauritius vertel van die Van der Merwe-loods wat op sy eerste vlug na Mauritius gewaarsku is dat die aanloop- baan daar besonder kort is en dat hy uiters versigtig moet wees.

Maar die onverskrokke Van der Merwe bestel die een dubbel Klippies na die ander en sê: “Ek kan dié Airbus op ’n tiekie land.”

Toe hulle ná nog ‘n paar dubbels die lughawe van Mauritius bereik, gee hy een kyk en sê toe: “Sjoe, die aanloopbaan is k-o-r-t, maar ons gaan land.”

Hy beveel toe: “Halfflappe uit, volflappe uit. En t-r-a-p die b-r-i-e-k-e plat.”

Die vliegtuig swaai wild heen en weer oor die aanloopbaan, die passasiers gil en die handbagasie stort uit die rakke op hul neer. Knap voor die heining aan die einde van die aanloopbaan kom die vliegtuig tot stilstand.

Van der Merwe leun toe so vorentoe op sy arms, kyk na bakboord, daarna na stuurboord deur die vensters, en merk op: “Mauritius se aanloopbaan is die korste waarop ek nog geland het, maar hy is darem f….. b-r-e-e-d.”

Dis ironies dat die vliegtuig waarin die Swanepoel-egpaar verongeluk het juis naby Mauritius in die see gestort het.

Terloops, in daardie tyd het Mauritius, met ’n bevolking van kwalik ’n miljoen mense, 14 plaaslike koerante gehad.