PHILIP DEETLEFS skryf: Toe ons in die vroeë jare sewentig by Die Transvaler begin werk het, was daar ‘n soort van ‘n ontgroeningsproses vir jong nuwelinge op die redaksie om hulle meer tuis te laat voel en veral nederig te hou.
Van die poetse wat die ouer manne jou mee gevang het, kan ek nog goed onthou. Hou in gedagte hoe ‘n jong verslaggewer oorgeloop het van geesdrif
vir sy loopbaan en gedroom het van die volgende opspraakwekkende wêreld-“scoop” wat sy kant toe gaan kom.
Om nie eens te praat van watse wonderlike ding dit was om in jou eerste dae by die koerant al selfs persoonlike boodskappe te kon kry nie! New York Times, hier kom ek! soort van ding.
As jy uit die algemene redaksiekantoor was, het iemand bv ‘n nota op jou tikmasjien gelos met die dieretuin se nommer onder die boodskap om ‘n meneer De Beer te skakel.
Die ander foefie waarmee hulle jou gevang het was in samewerking met die lykhuis in Braamfontein. Die lykhuismense het destyds altyd hul telefoon geantwoord as “staatslaboratorium, goeiedag”.
Die nuweling het dan die lykhuis se nommer gekry met die boodskap om mnr Lake te bel. Die polisieman wat nou saamwerk, het dan gevra met watter lyk wil die meneer dan nou eintlik praat want daar is meer as 100 van hulle daar? Ná die aard van hierdie laboratorium duidelik geraak het, het die groentjie dan met rooi ore woes ernstig op sy tikmasjien gekonsentreer, terwyl die hele redaksie uitgebars het van die lag.
Dan onthou ek van ‘n nuweling verslaggewer onthou nie meer sy naam nie) vir wie Willie Buys na die nuwe mark by City Deep gestuur het om ‘n storie te doen oor die mark en hoe dinge daar verloop. Die ou het notas geneem en die hele storie gedoen, maar het vergeet wat die naam van die bestuurder is met wie hy die onderhoud gehad het.
Om verleentheid te voorkom vertel hy toe vir die man hoe belangrik dit is vir hom, wat so half van ‘n perfeksionis is, om iemand se naam korrek te spel en of hy nie asseblief sy van vir hom sal spel nie.
Die markbestuurder vra toe die verslaggewer: “Boeta, kan jy spel?” Ja, sê hy en toe spel die bestuurder sy van vir hom: N, E, L, – NEL!
Jy kry immers mos ‘n Nel met twee elle!