Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

4.10.12

Die dag toe die Bok Hoofstad se 'rugbykenner' af aarde toe gebring het

JOHAN VAN WYK skryf: Toe ek in die vroeë jare sewentig ná vyf jaar se geswoeg op die Puk by Hoofstad in Pretoria land, het ek groot drome gedroom dat ek sommer met die intrapslag oor Springbokrugby gaan skryf. Niemand kon my iets oor rugby vertel of leer nie, soos dit seker maar met enige vrypostige jong verslaggewer in ’n sportkantoor gaan.
Groot was my skok egter toe die sportredakteur, Neil Steyn, my inlig dat rugbyskryf sy werk en ander hardebaarde soos Chris Swanepoel en
Maarten Lessing s’n is; ek gaan vir Hoofstad atletiek skrywe.

Ek was só kwaad oor dié verskriklike onreg – wie wil nou oor ’n sissie-sport soos atletiek skryf, terwyl jy al die kennis in pag het oor ons nasionale spel! – dat ek die volgende twee weke nukkerig in my hoekie in die kantoor gesit het. Neil het gemaak of hy my nie sien nie – en ná twee weke het ek toe maar my trots gesluk en traag-traag hier en daar ’n ou storietjie oor die verspotte atlete met hul gehollery, gespringery en gestotery geskryf.

(Vandag, wanneer ek terugkyk op ’n loopbaan waarin ek ses Olimpiese Speles en vyf wêreldkampioenskappe bygewoon het, kan ek maar net vir Neil dankie sê oor sy in-my-destydse-oë-onbesonne besluit!).

Ewenwel, een naweek is Neil en Chris en Maarten almal besig met iets anders – en Neil sê ek moet saam met die Blou Bulle na die destydse Suidwes toe gaan, waar hulle in ’n Curriebekerwedstryd in Windhoek speel.


Dis toe die dag dat die magtige Bulle deur Jan Ellis en sy harde Suidwesters opgefoeter word.

Hoofstad se groot rugbykenner skryf toe ’n verslag waarin hy die Bok-belaaide Bulspan uitmekaar skeur oor dié blaps. Ek het veral onder Groot Louis Moolman ingeklim, wat dié dag deur een of ander onbekende Suidwester ’n slag of wat in die lynstane ore aangesit is. Ek was nie bietjie trots op al die gevleuelde woorde wat uit my galbitter pen gedrup het nie.

’n Paar weke later speel die Bulle op van alle plekke Bethlehem – en Neil sê ek moet die wedstryd teen Oos-Vrystaat gaan doen.

Net voor ons die Vrydag soontoe ry, sê Neil vir my Groot Louis Moolman het die Blou Bul-bus verpas; hy gaan saam met my en ons bestuurder Bethlehem toe.

Ek en kollega Essie Esterhuizen het toe al so half vrinne met Louis geword, nadat ons ’n hom ’n aand vóór die Suidwes-wedstryd in die Arcadia-Hotel raakgedrink het.

Groot Louis en ek sit toe al die pad na Bethlehem agter in die perskar. Ek het hom vriendelik gegroet met die inklimslag, maar hy het my heeltemal geïgnoreer. Om die waarheid te sê, hy het nie een inkelte woord gesê die heelpad Oos-Vrystaat toe nie. Toe ons ná die Groot Stilte in Bethlehem aankom en by sy hotel stop, het hy sy koffer gegryp, my een vuil kyk gegee en gebrom: “Wat de f#% weet jy van slotspel af?” – en in die hotel verdwyn.

Ek het selfs kleiner as my 5vt. 7dm. gevoel – en nooit, ooit weer probeer slim wees oor voorspelerspel nie!