Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.10.12

Willem de Klerk se eerste treë as redakteur


Terwyl Willem de Klerk nog die aanbod om hoofredakteur van Die Transvaler te word, oorweeg het, “het mnr Marius Jooste my laat roep en voor ek nog amptelik ja gesê het, is daar foto’s geneem, die redaksie saamgeroep, drankies geskink en is dit aangekondig dat ek die nuwe hoofredakteur is. Die redaksie was geskok, want dit was soos ’n slag uit die bloue hemel.”

Dit moes seker vir die akademikus ’n reusesprong gewees het toe hy op 1 Julie 1973 “met ’n geklap van vlerke” as hoofredakteur van Die Transvaler ingeval het.

Daar was Carel Nöffke, die vorige redakteur, wat glo “’afgestaan’ is vir diens aan sy volk in Amerika”.

Jooste self wou De Klerk aanvanklik weens sy Dopperskap en predikantskap nie aanstel nie, maar het hom later “besing as die groot verlosser wat DT moet red teen Naspers se Beeld wat aan ’t kom is. Hy het my dadelik oorval met ‘n groot huislening, ’n Mercedes, ’n motorbestuurder en ’n salaris wat vir daardie tyd baie goed was – R14 000 per jaar.”

De Klerk het twee sake in sy aanvaardingsbrief gou duidelik gestel:

Perskor moet dit deur ruim voorsiening moontlik maak om Die Transvaler uit te bou.
Dat hy “selfstandig as joernalis met my eie standpuntstelling optree”.

Hermie Hendriks
Carel Nöffke
Die eerste ses maande was moeilik. Nöffke is aangesê om nog De Klerk “se hand vas te hou”. Hermie Hendriks en Otto Schwelnuss “is aangewys om my in te lyf en eintlik die leiding te neem. Die redaksie was skepties, selfs vyandig in verskillende grade”.

De Klerk het egter dadelik die politieke leiding oorgeneem en binne drie maande was DT uitgesproke verlig en sterk krities teen sekere beleidsaspekte van die Vorster-regering – klein apartheid, sensuur, sport, stedelike swartes en die deel van geriewe.

Maar die koerant self is nog deur die aangesteldes en Hennie en Gert Kotzé beheer. Hy het eers begin 1975 daarin geslaag om volkome beheer oor die koerant te neem.

“Die jare 1973 tot 1976 was besondere suksesjare:

•  DT se sirkulasie het van 39 000 na 50 000 geklim.
•  DT se standpunt het baie aandag by ander koerante getrek.
•  DT se invloed het die hoogte ingeskiet, veral deur sy omstredenheid wat ‘n groot deurbraak tot verligtheid gelewer het.

“Dit het baie moed, taaiheid, vernedering en angs gebring om weerstand te bied teen verkrampte drukgroepe, die Regering se onbehaaglikheid met my rigting en sommige lede van die direksie se klagtes oor my koers.

Marius Jooste
“Mnr Jooste het my gedra. Eerbied in sy omgang met my; bereidwilligheid om DT en my persoonlik te help; bystand in krisisoomblikke; beskerming teen mense wat my ondergang soek.”

Inmiddels het De Klerk die aanbod gekry om rektor van die Potchefstroomse Universiteit te word, wat hy van die hand gewys het. Op 1 April 1977 het Jooste “my oorval met ’n groot salarisverhoging, ’n rits byvoordele soos studiebeurse vir die kinders, ’n vry gif van R56 000 vir die afbetaling van my huislening en verbeteringe, ensovoorts”.

En in Februarie 1978 word hy mede-besturende direkteur wat hy saam met sy redakteurskap moes beklee. En in September 1980 staan DT se sirkulasie op 80 000.

Ben Schoeman
Toe kom die bom! Op 12 September 1980 breek die nuus dat die Ouditburo Perskor-koerante se sirkulasiesyfers bevraagteken. De Klerk het die trust meegedeel dat hy “moet bedank vanweë die skande waarvan ek my distansieer. Dit was ’n protesbedanking wat dadelik in die kiem gesmoor is met argumente dat ek weghardloop en dat dit sal lyk of ek skuldig is. Mnr Ben Schoeman het my eenkant toe geroep en gewaarsku dat Jooste, sou ek bedank, die skuld op my sou kon werp.”

DT het met 37% van sy sirkulasie verneuk en gedaal tot 51 676 teenoor Beeld se 64 901. Die skuldige is tot vandag toe nog nie uitgewys nie. “Die antwoord is waarskynlik saam met mnr Jooste in die graf. Ek het in elke geval die vermoede dat die baasbrein, Jooste, in beginsel daarby betrokke was,” skryf De Klerk.

Die verneukery “het my in ‘n sekere sin gebreek.

Ek het diep verneder gevoel en moes veg teen ‘n instelling om my hoed in my oë te trek.
Dit het my oorwinnings- en suksesgevoel geknak en skeptisisme, negativisme en aggressie aangewakker.
Die woede dat ek in die steek gelaat is.”

Hy was gefrustreerd dat Jooste en Perskor nie toe dadelik ingespring het nie, maar daar is “grootgepraat, gebroei, ontken, verwyt…”

De Klerk sê: “Jooste het in hierdie krisis gefaal. Hy was nie in staat tot die herbou nie. Ekself het alles gedoen wat moontlik was om moreel te bou by die redaksie.”

In dié tyd het De Klerk uit lojaliteit teenoor DT geweier om ’n Presidentsraadsbenoeming te aanvaar.

Hy het toe ’n memo aan Jooste geskryf dat hy knelpunte in die reorganisasie van DT aan die Trust gaan voorlê en eis dat Jooste dit steun. Daar het egter net simbolies iets van gekom en met die hulp van Johan Fourie is die mashoof, lettertipe en aanbieding verander, wat DT die Frewin en McCall-trofeë laat wen het.

Die sirkulasiemasjien het egter in duie gestort. Johan Fourie het die sirkulasie op sy aandrang oorgeneem en daarop gewys dat die syfer steeds verkeerd is en maar iets in die 40 000 was. Dit het later tot 45 000 gedaal en die “vernedering het my soos ‘n kanker verteer”.

In daardie dae het De Klerk “altyd vrymoedigheid met mnr Jooste gehad, Reguit, vreesloos, direk, het ek my besware male sonder tal op sy tafel gegooi.

“Vanaf 1975 tot 1980 het ek ses groot memo’s oor reorganisasie voorgestel en probeer deurveg. Sy reaksie was uitstel, belowe, gee wat nie wenslik is nie en afklits wat wesenlik is. Die gees was goed/gespanne/ignorering/versoening… so het dit afgewissel.

“Vanaf Maart 1981 – toe mnr Jooste weer gewelddadig terugkeer tot aktiewe bestuur – het alles ‘n vallyn in ons verhouding vertoon. De Klerk het hom uit protes van bestuur onttrek – openlik en met persverklarings. “Mnr Jooste praat my om en op 14 April 1981 word ek weer herstel. Van toe af staan hy totaal ambivalent teenoor my. “

Hy het De Klerk onder meer op 5 September 1981 daarvan beskuldig dat hy in Kaapstad vir die personeel gesê het dat hy (Jooste) in die tronk sal eindig en selfs personeel probeer omkoop om dit te bevestig.

Op 25 September 1981 – toe De Klerk in Duitsland was – stel Jooste Jan van Vreden as assistant-hoofredakteur aan. “Ek het volop bewyse dat dit ‘n politieke aanstelling was.”

Van September tot Desember 1981 was Jooste “beledigend, ignorerend en verkleinerend” teenoor De Klerk. Dis afgewissel met versoeningsgebare.

Andries Treurnicht
“Hy bou al meer beswaar dat my politiek DT verongeluk. Hy druk my om katterig teenoor PW Botha te wees en vriendeliker teenoor AP Treurnicht. Ek weier.

“Op 9 Maart 1983 voer hy ’n soort belydenisgesprek met my oor my frustrasies en vrese en prestasies. Baie verward.”

Jooste het druk op De Klerk uitgeoefen om “meer Transvaals” (bedoelende pro-Treurnicht) te skryf, anders sal Trust-lede sy “bloed soek”. In April 1982 slaan Jooste oor “na vriendelikheid, beloftes en my toekoms is verseker. Ek moet net gedepolitiseer word. Hy bied aan dat ek ’n vakansie oorsee moet gaan hou, wat ek afwys.

“Ek bedank op 18 Mei 1982. Die reaksie was heftig, pleitend, belowend. Ek stel my voorwaardes dat ek in bestuur aktief en met gedelegeerde magte moet deelneem. Hy onderneem dit, maar kanaliseer dit na dagbestuur. Intussen bly dit maar draai. Ek trek my bedanking terug.

“Op 5 Junie beskuldig hy my dat ek ‘n komplot teen hom smee.

“Gedurende Julie/Augustus volg beledigings, agterdog, intimidasie… maar ook skielik ongelooflike aanprysings, vriendelikheid en komplimente.

Donderdagaand 26 Augustus ontbied Jooste De Klerk na sy huis “en sê hy ek het gesê hy is siniel. Ek beskinder hom. Hy sal my moet ontslaan.

“My verweer is dat ek so iets mag gesê het, maar dat ek ondanks my botsings met hom, nie gemeen is nie.”

(Aanstaande week: Jooste is nie ‘n god nie.)