noordweste van China geloop. Op versoek van K’rant vertel sy hoe en hoekom sy juis dáár beland het...
MET ’n groot kaart van China en ’n vergrootglas is dit relatief eenvoudig om vir iemand te beduie wáár om Qitai te vind. Dis nou as jy nie Google Earth en dié klas van navigasie-elektronika gebruik nie. Die maklikste is om eers Beijing te kry. Vandaar trek jy jou vinger na links oor die hele wydte van dié groot land totdat jy in die outonome streek Xinjiang Uygur beland. Dis die provinsie bo in die noordwestelike uithoek, net suid van Kazakhstan en Mongolië.
Nou soek jy in die noorde van Xinjiang na die hoofstad, Urümqi. Van Urümqi loop twee groot paaie ooswaarts, die een noord en die ander suid van die magtige Tianshan-bergreeks. Volg die boonste pad vir so twee vingerwydtes na regs in die rigting van die Gobi-woestyn en siedaar: Qitai!
Die vraag is dus nie wáár om Qitai te vind nie. Die vraag is waarom enigiemand in die eerste plek daarna sou wou soek.
’n Mens sou kon antwoord dat jy iets daar gaan doen, soos om jong Chinese vir ’n jaar lank grensloos te vermaak met futiele pogings om hulle die klanke van die Engelse taal te leer. Maar daar is ook nog die vraag hoekom ek juis dáár beland het. En dít is ’n lang storie.
Gerrie Fourie |
Die Weslander veral was ’n spogproduk: ons het jaar ná jaar toekennings gewen vir goeie joernalistiek en ander voortreflikhede. Dit was onvermydelik dat Caxton en Nasionale Pers belangstellend na dié flink publikasie aan die Weskus sou begin kyk. Caxton het eerste voelers na ons uitgesteek. Selfs gedreig met mededinging, ’n nuwe koerant, as ons nie aan hulle verkoop nie. Dit was 1998 en die brose Weskus-ekonomie het nie plek vir ’n gedugte mededinger gebied nie, maar Fourie was g’n vriend van Caxton nie. Ons wou nie regtig verkoop nie; maar as dit moet, dan eerder Naspers, het hy gereken.
Die Weslander, soos hy vansdag lyk. |
Naspers het nie op hulle laat wag nie en ’n aanbod gedoen wat ons toe aanvaar het. Dit was ’n besluit wat ek later rede sou hê om te berou. Caxton was bereid om ons héélwat meer te betaal. Dit kon ’n verskil aan my lewe gemaak het.
Volgens die voorwaardes van die koopkontrak het die Fouries vir twee jaar as redakteur en bestuurder onderskeidelik aangebly om die oorgangsproses te vergemaklik. Ek moet bieg, dit was nie regtig moeilik vir my om die tuig einde Maart 2000 neer te lê vir ’n rustige lewe as huisvrou nie. Caesar, my rottweiler, het sweerlik gedink hy het in hondehemel beland. Ounooi was heeldag tuis vir geselsies en stappies!
Helaas, dit was nooit moontlik om van “Gerrie” en “rustig” in dieselfde sin te praat nie. Waar en wanneer sy pad met dié van twee Botha-broers gekruis het, sal ek nooit weet nie. Ek het eers regtig van hul bestaan kennis geneem toe dit begin deurskemer het dat hulle die goedgelowige Fourie, immer op soek na daardie pot goud aan die einde van die reënboog, in ’n riskante onderneming ingepraat het waarvan Gerrie in die eerste plek bôggerol geweet het en waarin hy die leeuedeel van die finansiële risiko sou loop. Dit was ’n onbeproefde produk, ’n ongetoetsde ontwerp, en hy moes die geld voorsien om dit te vervaardig.
Toegegee, dit het alles vreeslik rooskleurig geklink. ’n Sakeplan is, ten duurste, deur nog ’n lid van die Botha-familie opgestel en die geskatte winste sou selfs die nugterste kop laat draai. Dit was eers baie later dat ek dié gesegde sou hoor: “If you want to hear God laughing, show him your business plan.”
Vir sowat twee-en-’n-halwe jaar het die brawe nuwe bedryf probeer om uit sy babaskoene te kom. Skoolgeld is betaal, sommer baie daarvan. Gerrie se bestuursplan was om meer en nóg meer geld te leen by wie hy dit ookal kon kry. Alles het in daardie bodemlose put verdwyn en steeds was dit nie genoeg nie.
Namate die kontantvloeikrisis gegroei het, het Gerrie se gesondheid gekwyn. ’n Strawwe roker, toegewyde drinker, oorgewig en uitgestres: dit was net ’n kwessie van tyd. Hy is einde Februarie 2003 aan veelvuldige orgaanversaking dood. Die dag ná sy dood, in die kantoor van ’n bra onsimpatieke bankbestuurder, vind ek uit in watter finansiële fiasko ek agtergelaat is.
Die res van daardie jaar het ek probeer red wat te redde was, maar die skrif was aan die muur. Ek sou feitlik alles, ook ons lieflike ou huis, moes verkoop om die skuld te betaal. Die bank het geen genade getoon nie en die rente op die lenings het bly ophoop terwyl ek met ’n komplekse boedel gespook het.
Uiteindelik het ek genoeg gehad. Ek wou wegkom, so ver weg as moontlik. China was ver genoeg. Ek het dié land in 1990 besoek en wou altyd daarheen terugkeer. Met ’n graad in Engels en ’n hoër onderwysdiploma sou dit nie moeilik wees om ’n pos as “foreign teacher” te kry nie, het ek gereken.
Waar begin ’n mens en hoe op aarde kan jy moontlik álles vertel? Die maklikste sal seker wees om brokkies aan te haal uit die talle briewe wat huis toe geskryf is aan familie en vriende wat bra besorgd was oor my welsyn. In aflewerings! Hopelik kan die leser ’n eie prentjie vorm van my wedervaringe in China.
Dus, om te begin . . .
3 Mei 2004: Dis Sondagaand in Qitai, uitgespreek: Tsjietai. Halftien in die aand volgens die horlosie, wat oral in China op Beijing-tyd ingestel is, maar in werklike tyd in die Xinjiang-provinsie is dit halfagt. Buite het die son pas ondergegaan, vlammend rooi van die alomteenwoordige woestynstof in die lug. Volgens die kalender moet dit al lente in hierdie geweste wees, maar ek sit in my "thermal underwear" en skryf. Ek wil nie eens dink hoe die winter hier gaan wees nie.
Ek is nog nie eens ’n volle twee weke hier te lande nie, maar het al soveel beleef dat dit net sowel twee maande kon wees. Mense, laat ek julle vertel, China is nie vir sissies nie. Of miskien moet ek liewer sê, Qitai is nie ’n plek vir weekmoediges van hart nie. Hierdie is pionierswêreld, jy hou by of jy pak op en gaan huis toe. As ’n tipiese Ram is die uwe nie eintlik ’n mens wat terugdeins van ’n uitdaging nie, maar sy kan dalk net haar moses in hierdie plek teëgekom het!
Suzelle en Our Leader" klink 'n glasie op goeie betrekkinge. |
Die skool, waar ek seker een of ander tyd gaan begin klasgee afhangende van die besluit van hoofman Skoolhoof, alias "Our Leader", is egter ’n verrassing. Dis ‘n ontsaglike groot inrigting met oor die 5 000 studente. Die skoolterrein is netjies en redelik modern, gemeet aan die res van die dorp. Dis seker ook net in China waar jy tydens pouses al die leerlinge buite met ’n besem in die hand sal kry, besig om die skoolwerf te vee, pleks van toebroodjies eet en skelm in die toilette te rook.
Foreign Experts’ Building, Qitai, China |
Suzelle en 'n vriend voor die woonstelgebou. |
In die personeelkamer. |
En tog . . . Hier ervaar ek ook ongelooflike vriendelikheid en opregte belangstelling. En dis darem net Qitai self wat so lelik is. Suid van die dorp lê die mooiste bergreeks met sneeubedekte spitse en elders in dié provinsie is daar wonderlike natuurskoon, met mere, woude en nogmaals berge. Beste van alles, die kos is lekker en baie goedkoop. En ek het ’n rekenaar in my woonstel met gratis internet!
(Word vervolg)