Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.10.12

Jooste is nie ’n god nie


“U is sterk, maar u is nie ’n god nie, en daarom is ek nie bang nie,” het Willem de Klerk in ’n brief aan Marius Jooste geskryf. Dit was tekenend van die verhouding wat daar tussen die twee sterk persoonlikhede was wat ook tot De Klerk se einde as hoofredakteur van Die Transvaler en mede-besturende direkteur van Perskor gelei het.

“Ek is eerder ’n houthakker en ’n waterputter as om ’n krummel te wees wat kort-kort ondervra en gedreig word. Soos u, het ek ook ’n vry sê en kan ek – die Here weet – nie bakhand staan nie. Trouens, dis die bakhand wat ek nie meer kan verdra in my gemoed nie,” lui die brief.
Marius Jooste
“Ek het my eer en my trots – en ek gee nie ’n snars om wat mense by u teen my opbou nie… Niemand besit my nie en daarom is ek vry.

“Al stik ek in my eie vryheid, verkies ek dit bo vrees en bewing en kruip. U is sterk, maar u is nie ’n god nie, en daarom is ek nie bang nie.”
De Klerk se brief was in reaksie op aantygings deur Jooste dat hy nie lojaal teenoor Jooste is nie. Hy maak beswaar teen Jooste se “nuusdraers” wat samewerking in die wiele ry. “Ek is uitgelewer aan 'n geloer op my en ek hou niks daarvan nie.”

Later skryf hy: “Sê asseblief aan u nuusdraers dat hulle die aap kan gaan vang en as u dalk twyfel en plek-plek saam met hulle voel, moet u ophou om my in Perskor te hou – jaag my soos 'n hond weg. Ek sal my hoed vat, maar ek sal bevestiging kry dat die kwaad sy pad loop... en ek sal my selfrespek behou, al is dit al wat ek oorhou.

“Ek is bewus daarvan dat hierdie brief my doodvonnis kan beteken, maar ek skryf dit omdat ek 'n dwase domheid in my het as ek uitgelewer voel aan dit wat ek nog altyd verwerp het – en dit is 'n gemene gekokery en gekoukus, 'n geskinder en 'n besmeerdery wat iemand wil uitvang en sy woorde wil verdraai, om daarna sy derms uit te ryg en hom saam met die aasvoëls op te vreet. As ek wil, kan ek ook derms begin uitryg, maar dis so veragtelik.

“Ek vra u om my openhartigheid te verdra en te handel volgens u insig, waardes en lewensopvattinge, want ek wil my gee, maar ek gaan my nie oorgee aan 'n stelselmatige aftakeling nie.”

Voordat hy die brief kon afgee, is De Klerk deur Jooste ontbied en gevra om te bedank. De Klerk weier en sê Jooste sal hom in die pad moet steek, omdat politieke bybedoelings by Jooste 'n rol gespeel het by die stemming wat teen hom opgebou is.

Op Sondag 28 Augustus 1982 ontbied Jooste De Klerk na sy huis en bevestig sy standpunt.

Maandag 29 Augustus het De Klerk sy saak voor die Trust gestel en advies gevra. Jooste verwerp pogings van die Trust om wal te gooi en sê dis nie 'n Trustsaak nie, dis 'n bestuursaak.

De Klerk het toe uitgestap te midde van 'n geweldige persreaksie.

“Jooste sê in 'n laaste gesprek met my dat Mof Maree ('n direksielid en rektor van die Pretoriase Onderwyskollege) aan hom kom vertel het wat ek alles by De Lange (RAU-rektor) te sê gehad het. Hy beskuldig my dat ek Naspers se saak gedien het.

“En toe is Jooste oorlede op 12 Oktober 1982.”

Onder die opskrif “Neerslag” skryf De Klerk oor Jooste:
• Politieke stemming teen my het hom laat knak.

• My stryd om Perskor se bestuur op te knap en my reguit omgang met hom het hy as dislojaal beskou.

• Persoonlike praatjies oor hom – waaraan ek sekerlik, soos almal in die algemeen, skuldig was – het hy as aanknoping gebruik.

• Alle bewyse is daar dat hy abnormaal was die laaste maande van sy lewe.

• Die groot probleem was – dalk – dat sy ego deur my seergemaak is. Hy was baie vir my en ek het hom inderdaad verwerp. Ek kon, by bewondering en genieting van sy individualisme, sy persoon en styl nie vat nie.”
(Aanstaande Vrydag: Bisarre liefde tussen Jooste en De Klerk)