Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.12.13

Evert se hoed en boekie is nie saam

ANKE VAN NIEKERK, weduwee van Evert van Niekerk, skryf: 'n Familielid het, baie opgewonde, vir my gesê: Google bietjie “K’rant - Huldeblyk aan Evert”.

Was my verrassing groot toe ek Willie Buys se berig daar vind (lees hier) asook ene van Suzelle (du Preez) Fourie (lees hier). Dis wonderlik dat iemand, ná 24 jaar, nog aan hom dink. Ja, hy was 'n karakter sonder gelyke.

Willie, jy het jou verbeelding vrye teuels gegee met die hoed en die notaboekie - net soos Evert - wat baie gesê het, "Never let the facts interfere with a good story". Hy het natuurlik soms die "f"-woord gebruik - net om so 'n bietjie indruk te maak.

Evert is veras en ek het destyds besluit dat sy laaste notaboekie en die hoed nie in stof omskep moet word nie. Ek het albei steeds – die hoed nog so gehawend soos toe hy dit laas opgesit het.

Ek wonder of Suzelle besef hoe raak sy Evert beskryf het. Haar sin vir humor is kostelik en haar berig het my sommer vir Evert, vir 'n paar oomblikke, laat herlewe.

(Inderdaad 'n stem uit die verre verlede, Anke. Baie goed om van jou te hoor. Ek sien jy doen so 'n effense verstelling aan die inhoud van die berig soos ek hom geskryf het. Ek moet erken ek was nie by Evert se begrafnisdiens nie en was dus ook nie daarvan bewus nie dat jy tereg besluit het die pet en notaboekie het vir jou meer waarde as memorabilia. Ons gee graag die feite soos jy dit het. – WWJB.)