Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.12.13

Hans se lang pad kruis Mandela s’n

HANS LOMBARD skryf: Nelson Mandela het in sy leeftyd meer as 260 toekennings ontvang. Een van die eerste toekennings wat hy in 1990 ná sy vrylating uit die gevangenis ontvang het, was van die Johannesburgse Persklub wat hom saam met FW de Klerk as Nuusmakers van die Jaar 1990 aangewys het.

Die Persklub het ook geskiedenis gemaak aangesien dit die eerste keer
was dat Mandela en De Klerk saam in die openbaar opgetree het. Dit was ’n galabanket in die Johannesburgse Buiteklub, Aucklandpark. Daar was ’n horde joernaliste, plaaslik en van oorsee, wat die aandfunksie bygewoon het. Mandela was toe nog visepresident van die ANC en FW staatspresident. Dié twee het baie ontspanne voorgekom.

Nelson Mandela links en FW de Klerk ontvang die Persklub se trofee as Nuusmakers van 
die Jaar 1990 van Hans Lombard, middel, destyds president van die Johannesburgse Persklub.
Dit was die eerste keer dat ek Mandela ontmoet het. Hy en Winnie (sy vrou destyds) het betyds in hul rooi Mercedes opgedaag. Ek het hom, as president van die Persklub, in isiXhosa op tradisionele wyse gegroet. Hy het my in Afrikaans gegroet en wou weet waar het ek Xhosa so goed leer praat. Op die plaas, naby Cradock, waar my ouers gewoon het, verduidelik ek. Daarna het ek vir twee jaar in ’n winkel, naby Qumbu in die Transkei gewerk. Toevallig het hy die eienaar van die winkelgroep geken met die Xhosa-naam no-Tiki. Afkomstig van die ou tiekiemuntstuk, omdat die man korter was as die gemiddelde persoon.

Kwame Nkrumah
Hy het vir my gesê dis ’n groot voorreg om mekaar se tale te kan praat. Dit open deure van vriendskap, verdraagsaamheid en goedertrou. Ons het oor die Afrikapolitiek gesels en hy was beïndruk dat ek verskeie Afrikaleiers, onder meer Nkrumah, Kenyatta en Nyerere, geken het. (Ek het hulle ontmoet tydens my jare as joernalis op reis deur Afrika.)

Sekou Touré
Mandela het in 1962, vertel hy my, Afrikaleiers besoek om geld in te samel vir sy stryd teen Apartheid. Hy was nie beïndruk met Kwame Nkrumah van Ghana nie. Hy het etlike dae in Accra gesit en wag maar Nkrumah het hom nooit te woord gestaan nie. Hy was bitter teleurgesteld. Nkrumah het glo die PAC ondersteun.

Leiers soos William Tubman (Liberië), Julius Nyerere (Tanzanië), Haile Selassie (Etiopië) en Sekou Touré (Guinee) was onder die talle leiers wat hom verwelkom het.

Toe hy Touré om finansiële hulp vra, vertel Mandela, het Touré hom een van die boeke wat hy geskryf het, geskenk en sy naam daarin geteken.