Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.12.13

Fotodag 14: 'n Trotse reus groet

DIE ou Perskor-gebou in Empireweg, Aucklandpark, wat baie jare lank 'n
vesting van die Afrikaanse gedrukte woord was, word gesloop.

Waar vroeër 'n bedrywige koerantkantoor, 'n gekletter van tikmasjiene, die gelui van telefone en die gedreun van rolperse was, dreun nou
laaigrawe.

April 1991
In 1949 het die Afrikaanse Pers van Pleinstraat in Johannesburg na dié gebou in Aucklandpark verskuif. Dit het die tuiste van die Afrikaanse Pers (1962) Beperk en later van Perskor geword.

Die eertydse deftige gebou van Perskor in Empireweg, Aucklandpark, Johannesburg.

Sewe en twintig jaar later het die groep na die nuwe Perskorgebou in Doornfontein verskuif. 'n Snelweg word uiteindelik oor die ou perseel gebou.

Die gebou is daarna eers aan 'n kettingwinkelgroep verhuur.

Wanneer die tradisieryke baksteengehou eersdaags ingeplof word, sal baie herinneringe voortleef.

Ná die moord op dr Hendrik Verwoerd het Die Vaderland se redaksie tot ongeveer middernag steeds nuwe uitgawes in dié gebou uitgegee.

In Maart 1970 het 'n brand Die Vaderland se subkantoor en die nuusredakteur se kantoor in puin gelê. Die skade is op tussen R45 000 tot R50 000 geraam. 'n Kortsluiting by die teleksmasjien was daarvoor verantwoordelik .

In 1970 het 'n brand die Die Vaderland se subkantoor en die nuusredakteur se kantoor in puin gelê.  Hier is Doug Jones en Lucia Gomes, twee van die destydse redaksielede.

Omdat daar destyds nie juis snelweë en elektroniese toerusting was nie, is interessante maniere gebruik om films gou by die koerant te kry sodat die foto's ontwikkel kon word.

'n Ligte vliegtuig is op 'n keer ingespan om 'n film, wat in komberse en kussings toegedraai was, langs die gebou af te gooi.

'n Asbaan-renjaer, nogal 'n kampioen, het eenkeer in 'n rekordtyd 'n belangrike film per motorfiets van Pretoria af gebring .

Die ou Perskorgebou word gesloop.

Die man wat verantwoordelik is vir die sloping van die gebou, mnr Louis Jordaan, sê 'n vulstasie en 'n hele klompie huise moet ook gesloop word om plek te maak vir die snelweg. -- Perskorhaan, April 1991.