Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.12.13

Ingeplof, ja, maar ingegrif

WILLIE BUYS skryf: Die berig in K’rant oor die sloping van die ou Perskorgebou in Empireweg, Auckland Park, Johannesburg, het gemaak dat ek iets doen het wat ek myself belowe het ek soos die pes sou vermy. Dit is naamlik om soos die lewe aanstap, NIE te verval in die een van die irriterendste ouderdomsgewoontes nie. En dit is om dit wat was, op te rakel in die hede. Jy weet, mense te verveel met dié soort van ding: Dit laat my dink aan toe ek jonk/jonger was …
blah-blah, en so voorts, ad nauseam.

Nou ja, nou gaan ek daai belofte aan myself verbreek. Die foto van die eens aanskoulike siersteengebou gekontrasteer met die slopingfoto, het ook brokke emosie in my losgemaak wat ek gedink het ek het mee vrede gemaak en dit in my onderbewuste geliasseer het.

By my het dit gevoelens wakker gemaak van ‘n gemis, ‘n leegheid, patos en sommer al die woorde wat die heimwee saamvat van ‘n verbygegane era waarin duisende karakters hul loopbane as rolspelers in die veelvlakkige eb en ty van die lewe voltooi en uiteindelik afgesluit het. Eintlik is die gebou-sloping ‘n proses wat lank voor die fisieke aanslag van die laaigrawe op ‘n voorafbepaalde lotsbestemming begin het. Ook maar goed ons het dit nie geweet nie, maar nou ja, so is die lewe, of soos die een of ander glanspersoon (Koos Kombuis?) in kommentaar op Koos du Plessis, oud-Perskorman, sanger/skrywer-digter, se tragiese voortydige afsterwe lakonies gesê het “Dit is soos dit is … ” Of was dit nou ná skrywer Koos Prinsloo, ook ‘n eksPerskoriaan, se dood?

Nou gaan ek die coup de grace aan my selfopgelegde belofte toedien deur die aanhef ” ek onthou” te gebruik. Ek onthou die sorgelose loopbaanbou-dae van die Afrikaanse Pers Bpk met sy groot versameling kleurryke karakters wat elkeen ‘n skeutjie van my menswees in plek geplaas het. Later het die groot trek na die nuwe gebou in Doornfontein gevolg en vandaar is ‘n ryke tapisserie van buitengewone gebeurtenisse geweef. ‘n Groot deel van dié nostalgie het te make met die verhale wat voortgevloei het uit die maatskappy se nie-amptelike watergat, die Nieu-Doornfontein-hotel van eienaar Diamond. Hy was natuurlik ‘n groot Perskorvriend. Sy hotel en meer spesifiek die kroeg is deur ‘n vindingryke joernalis, meen ek, herdoop na Vegkop, na aanleiding van die talle bloedige konfrontasies wat soms tussen ongure en nie so ongure mense ontstaan het uit die vaste oortuiging dat Bacchus nie onreg verdra nie. Ook aangevuur deur die begrip dat brandewyn nie brieke het nie, het die drank gereeld daar na die vuiste gegaan.

Voordat my gekerm en gekla mense begin verveel, wil ek die laaste spyker in die gebroke onthou-jy-kis slaan. Terwyl ek in die stuiptrekdae van Perskor gehelp het om die ietwat wankelrige strukture stelsmatig af te breek, het ek menigmaal rondgedwaal in die leë redaksiekantore van Die Transvaler op soek na van die sirkulasiepersoneel wat dit toe beset het.

Toe het onbesryflike gevoelens van heimwee, patos en nostalgie my oorval as die hol klanke van my
weerklinkende voetstappe teen die verlate mure van die kantore gekaats het. Toe reeds is ek oorval deur die onthou jy’s van al die buitengewoonhede, bekend as nuus, wat uit klaterende tikmasjiene voortgevloei het. Ek het ook dikwels ‘n draai gemaak deur die nuuskantoor waardeur duisende berigte oor die jare gevloei het op pad na hul geliasseerde grafte in Kotie Venter se koerantbiblioteek. En kon sweer ek hoor die gelag en gehuil van die spoke van mense wat onder die roerlose en verlate lessenaars geskuil het.

Wat van dié gebou met al sy herinneringe geword het, weet ek nie. Sedert my uittrede meer as ‘n dekade gelede het ek en my gesin verhuis na die KwaZulu-Natalse Suidkus. Op 'n keer op ‘n besoek aan familie aan die Rand, het ons uit nuuskierigheid deur Doornfontein langs gery met die doel om te sien wat van die ruïnes van ‘n vormende deel van my werkende lewe oorgebly het. Later het ek dit nogal berou toe ek en vroulief ons vasgeloop het in ‘n horde plakkers van ander etniese groeperings wat taamlik antagonisties was omdat ons blekes dit op hul “turf” gewaag het. Dié mense het die strate afgesper deur die oprigting van hul armsalige sink- en seilgehuggies op die sypaadjies en in die middel van die teertoegangspaaie. Daarom was toegang tot die Heightstraat 28 van my verlede ongelukkig nie moontlik nie, want te midde van sulke omstandighede het ons liewer maar die veilige hasepad gekies.