Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.12.13

Landstem het wolf van deur gehou

CHARL THOM skryf: Verwysings hier en daar in K'rant-stories na die ou Landstem vervul my met nostalgiese herinneringe. Trouens, dis die einste ou Landstem wat daarvoor gesorg het dat ek as groentjie in die joernalistiek nie honger gely het nie,

Ek was destyds in my eerste werk by die SAUK as junior verslaggewer en baie rou toe ek met 'n baie karige salaris siel en liggaam aanmekaar
moes probeer hou.

Maar soos die ou lewe loop, het ek halsoorkop verlief geraak en voor ek mooi weet wat my getref het, pas getroud. My nuwe vroutjie was 'n onderwyseres en ons twee se salarisse het net-net die pot aan die kook gehou.

Dit was ook nie lank nie toe's daar 'n kleinding op pad. Vroutjie sou moes ophou werk om kind op te pas en dit tref my soos 'n donderslag dat ons eenvoudig nie sou kon voortbestaan op my armsalige loon nie.

Ek hoor toe dat die Sondagkoerante mense soek wat iets van sport weet om vir hulle oor naweke verslag te doen in Natal. Dit was destyds taboe by die SAUK om te 'string' soos dit genoem is. My nuusredakteur, Nico Nel, was tegemoetkomend toe ek hom nader. Hy sou anderpad kyk en nooit erken dat hy van my vryskutwerk weet as dit sou rugbaar word nie. Ek moes dus seker maak dat my naam nooit by 'n berig verskyn nie.

Dit het effens gehelp maar die wolf het nog voor die deur gegrom. Toe hoor ek dat Landstem 'n sport-medewerker vir Natal soek. Ek het besef dat ek nie weer vir Nico kon nader nie want hy het gereeld uitgevaar teen die koerant wat hy as 'geel pers' bestempel het.

Ek skryf toe vir George Gerber, sportredakteur van Landstem. Hy was terloops pa van Bokkie Gerber, sportredakteur en later hoofredakteur van Rapport. Ek vertel toe vir oom George van my dilemma en hy gee my sowaar 'n kans. Ek kom dit skaars glo, want hoewel ek 'n goeie algemene kennis van sport gehad het, was my ervaring van die joernalistiek toe nog beperk tot omtrent ses maande by die SAUK.

R10 meer So begin ek toe dadelik 'undercover' vir Landstem artikels oor Natalse sportpersoonlikhede skryf. Ek het dit geniet om my stories te sien verskyn onder 'Medewerker' maar wat was my verbasing groot toe my tjek aan die einde van die eerste maand my SAUK salaris met 'n hele tien rand klop!

Dit was lekker, maar altyd het die wolk van moontlike ontslag oor my gehang as die SAUK sou uitvind. Die Landstem was immers taboe in die Afrikaner 'establishment'. Veral die 'kaal' meisies het glo geskok. Vandag sou daardie foto's nie eens 'n frons meegebring het nie. Ek het bang gebly. Wyle dr Piet Meyer, toendertydse voorsitter van die nasionale uitsaaier se Raad, was immers ook voorsitter van die Broederbond!

Maar onse mense het Landstem gelees en sy sirkulasie het aanmekaar mooi geklim. Daar word beweer mense het Die Landstem saam met 'n 'ordentlike' koerant gekoop waarin hulle eersgenormde toegedraai het voor hulle by die kafee sou uitloop!

Dubbel Daarvandaan het dit al beter gegaan en na 'n paar maande was Landstem se tjek dubbel my salaris. Een maand was dit drie keer soveel!. Oom George was wonderlik. Hy het elke maand vir my 'n brief geskryf met nuttige wenke vir stories en my geprys vir my bydraes.

So het Landstem my in staat gestel om oor jare al my geldelike probleme te bowe te kom. En genadiglik is ek nooit uitgevang nie. Dit was vir my 'n hartseer dag toe sy deure die dag finaal gesluit het.