Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

3.12.13

Diesulkes begrawe ʼn mens nie

THIJS NEL, voormalige kunsredakteur van Die Vaderland en internasionaal bekende kunstenaar, skryf: Frikkie van der Walt se woes-ry-storie het my aan Hendrikus van der Walt herinner ... een van die stil en waarskynlik heel vergete prinse in die drukkery toentertyd (in my tyd) by Perskor in Aucklandpark.

Ek gebruik nie die woord ‘wyle’ nie want vir my gaan niemand dood
nie; verander net van substansie; word weer deel van die Groot Gees waaruit alles en almal van ons geskep is. Maar Hendrikus is ‘n jaar of drie gelede heen en dit was ongelooflik wonderlik dat ons met oop kaarte soos volwassenes die dag voor sy oorgang oor die telefoon kon ‘tot siens!’ en ‘DANKIE!’ sê.

Ek was nie bewus van Hendrikus se bestaan terwyl ek by Die Vaderland gewerk het nie; hy wel van my, want wanneer ek soms na die blok moes afdaal vir veranderinge op die kunsblad, was hy altyd by terwyl daar gegiet en opgevul moes word.

Randse Afrikanse Universiteit.
Nou die Universiteit van Johannesburg.
Dit was eers in die tagtigerjare dat ons paaie behoorlik gekruis het. Hendrikus was toe bibliotekaris vir die Departement Kunsgeskiedenis by RAU en gewillige, blymoedige mens wat hy was, het hy allerlei take vir feitlik almal in die departement afgehandel. Dit was met die opening van ‘n oorsigskou van my werk in 1982 en ek ‘n ‘saamloop-lesing-wat–ook-al’ sessie met die hele Departement van Kunsgeskiedenis moes pleeg dat Hendrikus my hand kom skud het en hom aan my voorgestel het. Van toe af  had ons ‘n ryk vriendskap en het hy dikwels kom kuier, my gehelp om my dokumentasie te orden want hy het daarop aangedring dat dit belangrik was vir navorsing later. Later?

Hendrikus se baan by die RAU het doodgeloop toe die destydse rektor (‘n 'statistikus'?) besluit het dat daar eintlik nie ‘n nodigheid was vir Kunsgeskiedenis aan die universiteit nie en dat die departement gesluit moes word. Dit was natuurlik ongelooflik dom en katastrofaal vir almal wat daarby betrokke was.

Hendrikus se biblioteek moes ingelyf word by die sentrale biblioteek van die universiteit en die bibliotekaresse het die kunsgeskiedenisbiblioteek besoek om te sien wat daar wel van waarde kon wees vir haar koninkryk.

“Is daar enigiets van waarde?” wou sy weet.

“Alles is waardevol,“ antwoord Hendrikus en neem twee boeke van ‘n rak af. “Hierdie het pas verlede week gekom en saam is dit meer as R2 000 werd en reeds uit druk. Dit is dus versamelitems."

Daarmee word die dame rooi in die gesig en storm weg.

‘n Halfuur later skakel sy Hendrikus en vra of hy sou omgee om na haar kantoor te kom. Hy maak so.

Haar gesig is rooi en haar oë opgehewe en Hendrikus dag dat sy hooikoors gekry het tussen sy boeke maar gaandeweg dring dit deur dat sy gehuil het.

“Ek is jammer,” sê die bibliotekaresse. “Ek het skielik besef dat die sluiting van die Departement Kunsgeskiedenis nie ‘n afskaling is nie, maar MOORD. Dit is 'n geesteswetenskap waarsonder ‘n universiteit nie mag klaarkom nie.”

Maar dit was reeds voldane sake. Die departement is gesloop.

Links: Stillewe. 'n Gedokumenteerde foto van 'n skildery wat amper op die ashoop beland het.  Die oorspronklike is deel van dr Jan Schutte se versameling.

Kort daarna kom Hendrikus by my aan met ‘n geweldige dik pak wat hy in my hande stop.

“Hierdie is al die dokumentasie oor jou werk en foto’s van jou werk in private versamelings wat ons gedokumenteer het. Ek het dit gered want so nie het dit op ‘n ashoop beland saam met al die ander goed wat weggegooi word.”

Dit was dan ook ‘n nasionale ramp want een van die belangrikste funksies van daardie kunsgeskiedenisdepartement was navorsing en dokumentering van alle professionele kunstenaars wie se werk by RAU uitgestal was. Daar was kleurskyfies en foto’s gemaak van hele versamelings en dan is daar ook byvoegings op elke kunstenaar se dossiere gedoen. Dit was vir so ver ek weet, die enigste projek van sy soort in die land. Die sloping van die departement was dus 'n ramp.

Daarby het dit natuurlik al die mense wat in daardie departement werksaam was, se lewens nie alleen verander nie maar selfs onherroeplik geskaad.

Nou ja, Hendrikus het uit papier modelle gebou van vliegtuie en motors -- ongelooflike detail -- en hy had ook ‘n enorme versameling van ‘Dinky Toys’.

Hendrikus had dit ten lot met oogprobleme. En in sy laaste jare kon hy nie meer motor bestuur of selfs gemaklik vir ‘n wandeling gaan nie.


Regs: 'n Gedokumenteerde foto van"View through a broken window".  Thijs sê: "Dit was een van my 'deurbraak' skilderye. Daar was 'n kraak in die glas wat die uitsig vanaf my woonstelateljee oor Joubertpark half surealities 'verander' het Dit is tydens die uitstalling om die Stellenbosch Farmers Winery se 'kelder' loodsing deur Johan Rupert gekoop en ek dink dit hang in sy versameling in Londen.

Ek onthou hoe hy met ongelooflike geesdrif en vreugde -- sy grootste deug sy mensliewendheid en onselfsugtigheid -- my gehelp het om my kunsateljees in Randburg te ontruim toe daar besluit is om Oudtshoorn toe te verhuis. Die dokumentasie was nie net verpak nie, maar gedokumenteer sodat dit baie maklik weer georden kon word in my nuwe hawe. Daarna is kratte gebou vir my beeldhouwerke en pottebakkery-implemente;’n taak wat ek alleen nie sou kon doen nie.

Die tog na Oudtshoorn het in twee voertuie geskied en weer eens het Hendrikus besluit om as aflosbestuurder vir my en Johan Gerber te help. Hy het ook ‘n paar keer afgevlieg van Johannesburg om die nuwe woning en troeteldiere op Oudtshoorn op te pas terwyl ons soms vir besigheid na Kaapstad en selfs terug na Gauteng toe moes gaan.

Deur die jare heen het Hendrikus dan ook soms vir my koerantknipsels gestuur wat ter sake was oor my uitstallings. Hy was inderdaad ‘n wonderlike vriend.

Kort voor sy oorlye, het hy in ‘n siekeboeg in ‘n aftreeoord beland en het ons weekliks per telefoon bygehou. Hendrikus was ‘n goeie, gelowige mens en net altyd dankbaar, al was sy lewe moeiliker as wat ‘n mens jou dit kon voorstel. Hy het egter nooit gekla nie en eerder met ‘n onblusbare sin vir humor ‘n grappie vertel om die pyn te verberg.

Sulke mense begrawe ‘n mens nie: hulle leef voort in ‘n mens se eie biblioteek.