Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.4.22

Vader van K’rant oorlede

PIET EBERSOHN skryf: Die vader van K’rant is oorlede. 

Luidens ʼn berig op die Facebook-blad Nagkantoor is Peet Simonis (85) op 24 Maart 2022 oorlede nadat hy “geval en sleg seergekry het”. 

Peet was die laaste oorlewende van drie tydgenote aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein wat joernaliste by Perskor geword het. Hannes Cilliers en Neil Steyn het hom vooruitgegaan. Hy en Neil was klasmaats. 

Peet Simonis
Dit was in 2004, nou 18 jaar gelede, dat Peet op sy eentjie K’rant as ʼn e-pos- nuusbrief vir oudwerknemers van Perskor die lig laat sien het. Dit was uiters gewild, maar ná ʼn paar uitgawes het dit te veel van Peet se tyd begin verg. 

Hy het onverrigtersake vrywilligers gevra om by hom oor te neem en Peet het mettertyd die publikasie daarvan gestaak. Danksy sy goeie aanvoorwerk was daar groot instemming dat K’rant behoort te herleef en op 2011 se reünie is planne beraam om die nuusbrief in ere te herstel. Dit is op 7 Mei 2012, nou amper tien jaar gelede, verwesenlik toe dit in 'n webjoernaal omgeskep is.

26.4.22

Reünie 15 Mei 2022: geborg deur Dagbreektrust

Weens die COVID-19-pandemie kon ons die afgelope twee jaar nie bymekaar kom vir ons jaarlikse saamtrek van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers nie (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens). Die reëlingskomitee, onder leiding van voorsitter Harald Pakendorf en bygestaan deur sy gade Aletta, Louise Blake en Madelaine Page, het besluit om vanjaar weer ‘n funksie by dieselfde restourant -- die Irish Rock-- as voor die pandemie te hou. 

Die reϋnie vind op Sondag 15 Mei 2022 plaas. Die ete begin stiptelik om 12:30. Kom van 11:30 af en kuier eers lekker saam. Daar is ‘n kontantkroeg. 

25.3.22

17.3.22

Gert Coetzee oorlede

Gert Coetzee
SALOME KOTZEE van die Klerksdorp Rekord skryf: Gert Coetzee, voormalige verslaggewer by Die Vaderland en Die Transvaler is op 24 Februarie 2022 oorlede. Hy was 69. Hy het demensie gehad, maar is aan hartversaking oorlede. 

Gert het in sy pa, Jannie Coetzee, se voetspore gevolg en sy koeranttande in 1972 gesny toe hy by Die Vaderland begin werk het. Jannie was destydse Die Vaderland se Wes-Transvaalse verteenwoordiger en later hoofverslaggewer. 

6.2.22

Die Rooi Roos blom weer

MAUREEN SWART skryf (In aansluiting by “‘n Droom aan skerwe.” (6.9.20)): Eens op ‘n tyd was daar rakke en rakke tydskrifte by die betaalrye in winkels, met die tydskrifte sardientjie-styf-teen-mekaar uitgestal. Totdat Covid-19 meegebring het dat ‘n swetterjoel tydskrifte in 2020 skielik moes toemaak, sommige letterlik oornag. 

 Vir ‘n rukkie was daar nog eksemplare uitgestal, maar geleidelik het hulle al hoe minder geword. Winkeliers het op allerlei maniere probeer om die bedroewende groot spasies tussen die tydskrifte te verdoesel, maar desnieteenstaande het dit naderhand gelyk of tydskrifte hul eie soort sosiale afstand toepas. 

16.12.21

Voorspoed vir 2022

Die afgelope virusbesmette jaar was een wat min mense weer wil beleef. Ons kan almal net hoop dat volgende jaar op ‘n manier beter sal wees en dat die virus op sy baadjie sal kry. 

Die redaksie by K’rant het hulle vanjaar nie dood gewerk nie want dit is duidelik dat die lesers se stories opgeskryf is. Nietemin wens ons almal ‘n vreugde- en vredevolle rustyd toe. Kom veilig tuis na die vakansie met volgelaaide batterye.

Alles van die beste ook vir ‘n voorspoedige 2022! -- Redakteur

15.11.21

Perskor se aanslag op Nasionale Pers

ANDRÉ LOUW
André Louw se perskaart.
skryf: My storie van Perskor se aanslag in die laat sestiger jare op Nasionale Pers se knusse besetting van Bloemfontein en bykans die ganse Vrystaat, is ’n nederige verhaal maar wat tog vertel moet word; al is dit dan net om my ’n verskoning te bied om in K’rant ’n buiging te maak en ’n voetspoor te laat. 

Peet Simonis
Hoe dit gekom het dat Peet Simonis vanaf Naspers se Volksblad na Perskor gedros het, sal hy beter weet, maar hy is die man wat die pad vir my oop gemaak het om aangestel te word as Die Vaderland en Dagbreek se eerste voltydse verteenwoordiger in Bloemfontein met die ganse Vrystaat as my jagveld. Peet was my mentor by Volksblad en ek het in meer as een opsig in sy spoor getrap. 

8.11.21

Jac de Vries oorlede

CHRISTA DE VRIES
skryf; As oud-Oggendbladder wou ek lankal ingeteken het op K'rant, maar uitstel het meegebring dat my bydrae nou 'n seer een is. Ek sukkel vanaand om die woord "dood" hier te skryf, want doen ek dit, sal dit bly leef. Tog dwing dit my om vertel dat Jac de Vries, my man, op 17 Oktober 2021 oorlede is hier in Engeland ná‘n groot hartaanval die aand van die 15de. Hy sou vandeesmaand 79 gewees het.

 Jac was adjunk-redakteur van Oggendblad toe ek (Christa Coetzer) in 1982 as joernalis daar begin werk het. Ek het soveel van die joernalistiek by hom geleer. Diegene van die redaksie wat ons onthou, sal verstaan dat dit amper logies was dat ons uiteindelik getroud is, sienende dat liefde sy eie paadjie volg. 

Blackie (Swart) Chandler oorlede

Blackie Chandler
JOE VAN BUUREN het laat weet dat Marinda (Blackie) Swart se suster, Chrisna, hom laat weet het dat Blackie gister (Sondag, 7 November 2021) in die ouderdom van 66 oorlede is. 
Blackie was nooit self 'n joernalis nie, maar sy was heel bekend in joernalistieke kringe nadat sy in die sewentigerjare by die berugte Nommer 10 Dittonlaan met 'n spul koerantmense deurmekaar geraak het. 

13.8.21

Nog oor Francois (AP) Lategan

DRIES LE ROUX skryf: Na aanleiding van Gerhard Burger se verwysing na die kunstenaar Francois Lategan wil ek net die volgende stuiwer in die armbeurs oor hom gooi. 

Ek het in die tagtigerjare by die uitgewery JP van der Walt en Seun gewerk. Francois, oftewel AP soos ons hom geken het, het baie van die uitgewery se klubboeke se omslagillustrasies gedoen.  Ek het gereeld daaroor met hom oor die telefoon gesels, maar het hom nooit in lewende lywe ontmoet nie. 

10.8.21

Mediamense kry dosis K’rant in

JOHANNES FRONEMAN, uitgewer van  Mediamense het by K’rant gaan inloer en toe 'n lappieskombers van stories uit K’rant saamgevat en gepubliseer. 

Hy skryf: Ek het pas 'n stuk oor K'rant op mediamense.com geplaas. Dit is ook bereikbaar op www.facebook.com/mediamense.bylae.

Johannes bestempel Mediamense soos volg:  "‘n Digitale mediamuseum wat fokus op joernaliste, koerante, tydskrifte en (metterwyl) ook op die uitsaaiwese. Hierdeur wil ons aan Afrikaanse mediamense en hul produkte ‘n uitstalruimte gee sodat ons hul enorme bydrae nie sal vergeet nie – veral in hierdie tyd van vervlietende digitale media".

9.8.21

Flip in perspektief

KARIN PRETORIUS skryf: Soos in K’rant berig is, was “Flip” waaroor Heinrich Schulze navraag gedoen het die befaamde potlood- en penkunstenaar Flip Horace Coaten wat in die vroeë vyftiger, sestiger en sewentiger jare menige skrywer se verhale in tydskrifte geïllustreer het. 

Met ‘n bietjie naslaan op Facebook lees ek dat Flip wat ook as reservissersant by die SAP in Tableview diens gedoen het, in sy leeftyd geag was as een van die tien top-illustrasiekunstenaars in die wêreld. 

6.8.21

Illustreerdres was flippen bekwaam

GERHARD BURGER skryf: Flip het ook ʼn verhaal in Die Huisgenoot van 18 Februarie 1966 geillustreer – dieselfde uitgawe waarin ek my debuut as fiksieskrywer gemaak het, met ’n roerende en amateuragtige storie, Die Eerste Steen.

Een van die ander verhale is deur ene Henk geïllustreer. Ook sy van word nie genoem nie. My storie is met ʼn ware kunswerk deur die voortreflike F Lategan versier en met ʼn tjek van R50 beloon. Wie Flip en Henk was, weet ek nie, maar albei was myns insiens baie bekwaam.

5.8.21

Hier is Flip

LEONI BENGHIAT van SA Vryskutskrywer het laat weet dat Flip se van Coaton was. Sy seun het ‘n Facebookblad geskep waar 'n mens van sy kunswerke kan besigtig en meer oor hom kan agterkom. Hier is die skakel: https://www.facebook.com/Flip-Coaton-Illustrations-295633270537229.

4.8.21

Wie was Flip?

HEINRICH SCHULZE skryf: Danksy Perskorkennisse en vriende soos Piet Ebersohn, Gerhard Burger en Wessel Oosthuizen, is ek 'n gereelde besoeker aan julle K'rant-webjoernaal. Ek het 'n vraag wat ek hoop een van julle lede dalk kan beantwoord. 

Wie was/is die kunstenaar wat gedurende die vroeë tot middel 1960's (dalk ook vroeër en later) as illustreerder en kunstenaar vir "Huisgenoot" (en waarskynlik ook as boekillustreerder) gewerk het en sy werk as "Flip" onderteken het? 

Sy kleurillustrasies in "Huisgenoot" is in 1962, onder meer, by artikels deur Doc Immelman en Eric Rosenthal geplaas. Die naamindeks in Murray en Elzabe Schoonraad se "Suid-Afrikaanse Spot- en Strookprentkunstenaars' (1983) het met 'n eerste oogopslag ook nie lig op my vraag gewerp nie.

19.7.21

Willie Buys oorlede

WILLIE BUYS, destyds nuusredakteur by Die Transvaler, is Sondagnag oorlede na ‘n kort siekbed. Willie se seun Wilmar, het ons laat weet. 

Willie het die afgelope jare onder meer ‘n groot gewas op sy brein laat verwyder en daarna het hy ook beroertes gehad wat sy lewenskwaliteit verder benadeel het. 

Willie was ook mede-redakteur van K’rant en het vele bydraes gelewer. 

Hy word oorleef deur sy vrou, Estelle, en sy twee kinders. Wilma en Anjia. Geen besonderhede van ‘n begrafnis is bekend nie

2.6.21

Gedagtes loop ver paaie deur K'rant

HESTER VAN DER WALT skryf: Telkens wanneer ek K’rant oopmaak, blom en borrel die herinneringe!  

Ek het destyds as rou BA’tjie by die advertensievertaalkantoor van Perskor aangesluit en my taal daar behoorlik leer bemeester onder wyle Daan Roux en ons hoofvertaler Bekker Nel.

In 1972, nog Hester Kloppers, het ek gou begin om Kittie Vermaak en ander te versondig, want ek wou “koerantman” word! Ek was ook redelik gehoorgestrem en volgens Kittie gans te doof vir die job. 

So ’n jaar of twee later maak ek kennis met Rykie van Reenen by Rapport se kantoor langs Perskor in Aucklandpark. 

27.5.21

K’rant en sy dinge

PHILIP DEETLEFS skryf: Kom ons praat bietjie oor K’rant en sy dinge. Ek woon in Swakopmund, Namibia en Japie Bosch die meester wat die joernaal aan die gang hou, in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap. 

Ons kommunikeer hoofsaaklik per epos of Whatsapp, maar so dan en wan verlang ons na mekaar en dan gesels ons oor die telefoon. Dit is wat nou pas gebeur het en vir byna ‘n uur aaneen. 

23.5.21

My vriend, André

SIPKE DE VRIES skryf: André Scheepers wat so pas in die ouderdom van 74 jaar aan komplikasies van 'n galblaasoperasie oorlede is, was my vriend vir die afgelope drie of vier dekades.

Hy was die soort mens wat jy gebel het as jy 'n bietjie teneergedruk was. Na so 'n gesprekkie het jy altyd baie beter gevoel. Hy was ook 'n besonder gesellige tafelgenoot by die talle sakemiddagetes wat ons ampshalwe bygewoon het. 

18.5.21

André Scheepers oorlede

Sipke de Vries het laat weet dat André Scheepers, voormalige finansredakteur van Die Transvaler,  Maandag, 17 Mei 2021 in die Flora-kliniek in Johannesburg oorlede is as gevolg van komplikasies met 'n galblaas-operasie. 

André het sowat 'n maand gelede 'n hartoperasie ondergaan waarvan hy goed aan die herstel was. Sipke sê André was 'n besonder goeie vriend van hom. Hy sal later meer besonderhede stuur.