Alita Steenlamp en Karin Pretorius deel hierdie doerietydse kuier in Hillbrow: https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/kuier-in-nagkantoor-om-jou-hart-vir-hillbrow-te-gee/
25.3.22
17.3.22
Gert Coetzee oorlede
| Gert Coetzee |
Gert het in sy pa, Jannie Coetzee, se voetspore gevolg en sy koeranttande in 1972 gesny toe hy by Die Vaderland begin werk het. Jannie was destydse Die Vaderland se Wes-Transvaalse verteenwoordiger en later hoofverslaggewer.
6.2.22
Die Rooi Roos blom weer
MAUREEN SWART skryf (In aansluiting by “‘n Droom aan skerwe.” (6.9.20)): Eens op ‘n tyd was daar rakke en rakke tydskrifte by die betaalrye in winkels, met die tydskrifte sardientjie-styf-teen-mekaar uitgestal. Totdat Covid-19 meegebring het dat ‘n swetterjoel tydskrifte in 2020 skielik moes toemaak, sommige letterlik oornag.
Vir ‘n rukkie was daar nog eksemplare uitgestal, maar geleidelik het hulle al hoe minder geword. Winkeliers het op allerlei maniere probeer om die bedroewende groot spasies tussen die tydskrifte te verdoesel, maar desnieteenstaande het dit naderhand gelyk of tydskrifte hul eie soort sosiale afstand toepas.
16.12.21
Voorspoed vir 2022
Die afgelope virusbesmette jaar was een wat min mense weer wil beleef. Ons kan almal net hoop dat volgende jaar op ‘n manier beter sal wees en dat die virus op sy baadjie sal kry.
Die redaksie by K’rant het hulle vanjaar nie dood gewerk nie want dit is duidelik dat die lesers se stories opgeskryf is. Nietemin wens ons almal ‘n vreugde- en vredevolle rustyd toe. Kom veilig tuis na die vakansie met volgelaaide batterye.
Alles van die beste ook vir ‘n voorspoedige 2022! -- Redakteur
15.11.21
Perskor se aanslag op Nasionale Pers
![]() |
| André Louw se perskaart. |
![]() |
| Peet Simonis |
8.11.21
Jac de Vries oorlede
Jac was adjunk-redakteur van Oggendblad toe ek (Christa Coetzer) in 1982 as joernalis daar begin werk het. Ek het soveel van die joernalistiek by hom geleer. Diegene van die redaksie wat ons onthou, sal verstaan dat dit amper logies was dat ons uiteindelik getroud is, sienende dat liefde sy eie paadjie volg.
Blackie (Swart) Chandler oorlede
| Blackie Chandler |
13.8.21
Nog oor Francois (AP) Lategan
DRIES LE ROUX skryf: Na aanleiding van Gerhard Burger se verwysing na die kunstenaar Francois Lategan wil ek net die volgende stuiwer in die armbeurs oor hom gooi.
Ek het in die tagtigerjare by die uitgewery JP van der Walt en Seun gewerk. Francois, oftewel AP soos ons hom geken het, het baie van die uitgewery se klubboeke se omslagillustrasies gedoen. Ek het gereeld daaroor met hom oor die telefoon gesels, maar het hom nooit in lewende lywe ontmoet nie.
10.8.21
Mediamense kry dosis K’rant in
JOHANNES FRONEMAN, uitgewer van Mediamense het by K’rant gaan inloer en toe 'n lappieskombers van stories uit K’rant saamgevat en gepubliseer.
Hy skryf: Ek het pas 'n stuk oor K'rant op mediamense.com geplaas. Dit is ook bereikbaar op www.facebook.com/mediamense.bylae.
Johannes bestempel Mediamense soos volg: "‘n Digitale mediamuseum wat fokus op joernaliste, koerante, tydskrifte en (metterwyl) ook op die uitsaaiwese. Hierdeur wil ons aan Afrikaanse mediamense en hul produkte ‘n uitstalruimte gee sodat ons hul enorme bydrae nie sal vergeet nie – veral in hierdie tyd van vervlietende digitale media".
9.8.21
Flip in perspektief
KARIN PRETORIUS skryf: Soos in K’rant berig is, was “Flip” waaroor Heinrich Schulze navraag gedoen het die befaamde potlood- en penkunstenaar Flip Horace Coaten wat in die vroeë vyftiger, sestiger en sewentiger jare menige skrywer se verhale in tydskrifte geïllustreer het.
Met ‘n bietjie naslaan op Facebook lees ek dat Flip wat ook as reservissersant by die SAP in Tableview diens gedoen het, in sy leeftyd geag was as een van die tien top-illustrasiekunstenaars in die wêreld.
6.8.21
Illustreerdres was flippen bekwaam
GERHARD BURGER skryf: Flip het ook ʼn verhaal in Die Huisgenoot van 18 Februarie 1966 geillustreer – dieselfde uitgawe waarin ek my debuut as fiksieskrywer gemaak het, met ’n roerende en amateuragtige storie, Die Eerste Steen.
Een van die ander verhale is deur ene Henk geïllustreer. Ook sy van word nie genoem nie. My storie is met ʼn ware kunswerk deur die voortreflike F Lategan versier en met ʼn tjek van R50 beloon. Wie Flip en Henk was, weet ek nie, maar albei was myns insiens baie bekwaam.
5.8.21
Hier is Flip
4.8.21
Wie was Flip?
HEINRICH SCHULZE skryf: Danksy Perskorkennisse en vriende soos Piet Ebersohn, Gerhard Burger en Wessel Oosthuizen, is ek 'n gereelde besoeker aan julle K'rant-webjoernaal. Ek het 'n vraag wat ek hoop een van julle lede dalk kan beantwoord.
Wie was/is die kunstenaar wat gedurende die vroeë tot middel 1960's (dalk ook vroeër en later) as illustreerder en kunstenaar vir "Huisgenoot" (en waarskynlik ook as boekillustreerder) gewerk het en sy werk as "Flip" onderteken het?
Sy kleurillustrasies in "Huisgenoot" is in 1962, onder meer, by artikels deur Doc Immelman en Eric Rosenthal geplaas. Die naamindeks in Murray en Elzabe Schoonraad se "Suid-Afrikaanse Spot- en Strookprentkunstenaars' (1983) het met 'n eerste oogopslag ook nie lig op my vraag gewerp nie.
19.7.21
Willie Buys oorlede
WILLIE BUYS, destyds nuusredakteur by Die Transvaler, is Sondagnag oorlede na ‘n kort siekbed. Willie se seun Wilmar, het ons laat weet.
Willie het die afgelope jare onder meer ‘n groot gewas op sy brein laat verwyder en daarna het hy ook beroertes gehad wat sy lewenskwaliteit verder benadeel het.
Willie was ook mede-redakteur van K’rant en het vele bydraes gelewer.
Hy word oorleef deur sy vrou, Estelle, en sy twee kinders. Wilma en Anjia. Geen besonderhede van ‘n begrafnis is bekend nie
2.6.21
Gedagtes loop ver paaie deur K'rant
HESTER VAN DER WALT skryf: Telkens wanneer ek K’rant oopmaak, blom en borrel die herinneringe!
Ek het destyds as rou BA’tjie by die advertensievertaalkantoor van Perskor aangesluit en my taal daar behoorlik leer bemeester onder wyle Daan Roux en ons hoofvertaler Bekker Nel.
In 1972, nog Hester Kloppers, het ek gou begin om Kittie Vermaak en ander te versondig, want ek wou “koerantman” word! Ek was ook redelik gehoorgestrem en volgens Kittie gans te doof vir die job.
So ’n jaar of twee later maak ek kennis met Rykie van Reenen by Rapport se kantoor langs Perskor in Aucklandpark.
27.5.21
K’rant en sy dinge
PHILIP DEETLEFS skryf: Kom ons praat bietjie oor K’rant en sy dinge. Ek woon in Swakopmund, Namibia en Japie Bosch die meester wat die joernaal aan die gang hou, in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap.
Ons kommunikeer hoofsaaklik per epos of Whatsapp, maar so dan en wan verlang ons na mekaar en dan gesels ons oor die telefoon. Dit is wat nou pas gebeur het en vir byna ‘n uur aaneen.
23.5.21
My vriend, André
SIPKE DE VRIES skryf: André Scheepers wat so pas in die ouderdom van 74 jaar aan komplikasies van 'n galblaasoperasie oorlede is, was my vriend vir die afgelope drie of vier dekades.
Hy was die soort mens wat jy gebel het as jy 'n bietjie teneergedruk was. Na so 'n gesprekkie het jy altyd baie beter gevoel. Hy was ook 'n besonder gesellige tafelgenoot by die talle sakemiddagetes wat ons ampshalwe bygewoon het.
18.5.21
André Scheepers oorlede
André het sowat 'n maand gelede 'n hartoperasie ondergaan waarvan hy goed aan die herstel was. Sipke sê André was 'n besonder goeie vriend van hom. Hy sal later meer besonderhede stuur.
22.4.21
Mediamense.com vir almal
JOHANNES FRONEMEN skryf: Mediamense.com het ‘n paar weke gelede herleef nadat dit vir ‘n paar jaar lank stil was. Die ou Mediamense.co.za is gekaap en ons moes van voor af begin. Gelukkig het nuwe programme en die slimfoon dinge makliker gemaak as 15 jaar gelede.
Daarom is daar nou letterlik honderde voorbeelde van koerantvoorblaaie op die nuwe Mediamense.com. En dit word letterlik daagliks aangevul.
Jy is meer as welkom om daar te gaan blaai en die vrug van 50 jaar se bymekaarmaak te geniet.
4.3.21
Hulp met foto's gevra
HENNIE VAN DEVENTER, Melkbosstrand, skryf: Ek kom by K'rant uit via Gerhard Burger.
In September verskyn van my, by Naledi, ‘n boek met die titel “Koerantkamerade”. Dit behels 50 gemoedelike, informele “grafskrifte” vir ontslape tydgenote.
Synde ‘n lewenslange Nasperser het my seleksie ‘n Naspers-oriëntasie. Perskor-mense wat wel ‘n buiging maak, sluit in PG du Plessis, Koos du Plessis, Gerrit Velthuysen en fotograaf Willie van der Walt.











