Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.6.17

Jan van Vreden oorlede

Jan van Vreden
JOHAN VAN ZYL van Pretoria FM het laat weet dat Jan van Vreden, ‘n bekende in joernalistieke kringe, Woensdagoggend (28 Junie 2017) in die ouderdom van 83 jaar aan hartversaking oorlede is.

Jan het jare lank as joernalis vir Perskor gewerk. Hy was onder meer hoofredakteur van  Hoofstad, Transvaler en Die Noord-Transvaler.

Hy is op Laersdrif naby Marble Hall gebore en het op Groblersdal skoolgegaan. Jan het ‘n  groot bydrae tot die Afrikaanse mediabedryf in Suid-Afriika gelewer. Hy was in militêre kringe bekend vir sy uitsonderlike dekking van verskeie weermagoperasies.

16.6.17

K’rant scoop Rapport en homself

PHILIP DEETLEFS skryf: Vier en ‘n half jaar gelede toe K’rant ses maande oud was, het Jean Oosthuizen vir ons ‘n heerlike storie oor PG du Plessis (nou wyle) geskryf. Ná PG se dood nou die dag soek ons hier by K’rant naarstiglik na iemand wat vir ons iets uit ‘n Perskor-hoek oor PG kan skryf.

Op Facebook sien ons toevallig Jean Oosthuizen se treffende storie oor PG wat 100% in die Perskor-ruimte pas. Rapport het dit oor die naweek gepuliseer, maar K’rant wil dit vir die rekord en toekomstige verwysing plaas.

14.6.17

Dankie, jy het ons nooit gedrop nie

JEAN OOSTHUIZEN se huldeblyk aan PG du Plessis wat op 11 Junie 2017 in Rapport Weekliks verskyn het met onder meer die brief wat hy vir sy redaksie geskryf het toe hy weg is as redakteur van Hoofstad.

Jean skryf: Die meeste mense sal PG du Plessis waarskynlik onthou as dramaturg, skrywer, storieverteller en televisiepersoonlikheid van formaat.

Oor sy bydrae tot die letterkunde, die toneelwêreld en as akademikus is daar meer as genoeg bekwame mense wat daaroor kan skryf.

Ek onthou hom as my heel eerste koerantredakteur by die destydse middagblad Hoofstad in waar hy my as jong, nat-agter-die-ore joernalis aangestel het.

13.6.17

Willem Knoetze oorlede

WILLEM KNOETZE, oudjoernalis van Die Vaderland, Die Transvaler en Noord-Transvaler Metro, is onlangs oorlede, het Piet Ebersöhn ‘n rukkie terug laat weet. K’rant het vergeefs meer besonderhede probeer kry. Is daar kollegas wat kan help?

Willem was 77 en 57 jaar lank ‘n joernalis.

‘n Vorige berig oor hom is HIER.

16.5.17

Van plaaswerf tot paleis

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: 'n Mens is nooit te oud om te leer nie, het ek opnuut besef nadat ek Japie Bosch se artikel, Perskor was g'n in Aucklandpark (klik HIER), gelees het.

Hy skryf dat die ou Perskor-gebou in Braamfontein-werf geleë was, en nie in Aucklandpark nie. Dit het ek nooit besef nie, ten spyte daarvan dat ek 23 jaar lank in Aucklandpark gewoon het! Ek het sommer dadelik met nuwe oë na die padkaart gekyk.

24.4.17

Ken iemand hom?

GERHARD BURGER skryf uit Brisbane waar hy by sy dogter, Adele, kuier: Ek vermoed die ou het saam met ons gewerk of was saam met my op skool.

Maar hy het geen teken getoon dat hy my ken nie. Toe neem Adele maar 'n foto, ingeval een van julle hom herken.

Dalk is hy nog familie ook.

4.4.17

Die Transvaler se Jakkie Groenewald debuteer in Kopskoot

RENSKE JACOBS skryf: Kopskoot deur die Kaapse sielkundige, Gerda Kriel, het die Jong Skrywersafdeling van RSG en Sanlam se Radiodrama-skryfkompetisie vir 2016 gewen. RSG se eerste Radioteaterseisoen vir 2017 open Donderdagaand 6 April om 20:00 met hierdie sielkundige riller.

Kriel is ook bekend vir haar aangrypende radiodrama, Swanesang, met die pragvertolking deur Wilna Snyman en wat deur RSG uitgesaai is nadat dit ook die Jong Skrywersafdeling in 2014 gewen het.

29.3.17

Fooitjie word toe 'n fortuin

PEET SIMONIS skryf: Ek betaal my vrou Esther elke maand n bedraggie sodat sy die 'faailieng' kan doen en papiere weggooi wat nutteloos lyk. Maar sy is baie besig met ander goed en so het dit gebeur dat sy nooit die aandelesertifikaat wat APB vir my uitgereik het, snippermandjie toe gestuur het nie.

Dit was vir een honderd aandele van vyftig sent elk. Totaal R50.

Ek dink alle personeel van die destydse APB het so ‘n afskeidsgeskenkie by oom Marius gekry wanneer hulle weg is by die pers – ek ná iets soos twaalf jaar.

Laat mens nogal dink aan die krismishoendertjie van destyds.

27.3.17

Die Franse Konneksie

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Ek het al gewonder of die K´rant-redaksie nie wil toelaat dat ons dan en wan ´n storie skryf wat nie spesifiek met die ou dae by Perskor te doen het nie. Ek dink veral aan die skatkis (die room sypel deur die splete) joernaliste wat daar rondsit en oud word en miskien tog die behoefte het om weer die pen op te lig sonder om in die verlede rond te delf.

Soos vanmôre toe my Africana-boeke uit die Kaap aankom en ek lees oor die Franse wat die Kaap in die jare 1781 tot 1783 beset het om die Ou Kasteel teen die Engelse te beskerm. Ek sweer ek het hierdie deel van die geskiedenis verslaap!

22.3.17

Jan van Vreden opgespoor

JAN VAN VREDEN skryf: Ek het toevallig op K`rant afgekom en sien daar is navraag van Stoffel Mynaard oor my pa, Jan van Vreden (Hoofstad, Transvaler, Vaderland).

Hy woon tans in die Drie Riviere-Aftreeoord op Vereeniging. Sy telefoonnommer is 076 712 3699. My ma, Onia Van Vreden, se nommer is 072 599 4216.

Ek sal dit waardeer indien K'rant sy besonderhede kan plaas na aanleiding van Stoffel Mynaard se navraag. Hy sal graag van oudkollegas wil hoor. (Foto geneem in 1974.)

16.3.17

Feniks verrys uit die as

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Gert van Rooyen se lekkerlees-herinnering aan Hillbrow het my aangespoor om ook my stuiwer in die armbeurs te gooi oor Hillbrow en omgewing, in 'n tyd wat la-a-nkal saam met die stof oor die Goudstadse mynhope weggewaai het.

Ek kan dit nie glo nie, dis byna vyftig jaar gelede dat ek ook die voorreg gehad het om in hierdie hoë-oktaan-voorstad te kon woon. Maar dit voel soos gister. En vir my, as dorpsdogter, was dit een van die wonderlikste belewenisse van my lewe - mense soos miere in die veilige strate, enige tyd van die dag of nag. Eetplekke en winkels wat deurnag oop was.

(Aangesien Gert en ander joernaliste reeds oor heelwat van die landmerke geskryf het, gaan ek nie oor almal uitbrei nie.  Gert se storie is HIER.)

20.2.17

Die dag toe Peet se profeet reg was

JOHAN LOTTERING skryf: Een middag sit ek in Die Transvaler se subkantoor in Mitchelstraat die middelblad en versorg. Net die HAB en middelblad moet nog sak. Die plek is blou gerook. Hoofsub Sandy MacDonald se oë traan. Sy hare staan wild. Hy’s moeg, want die oggendskof is al vroeg uit die vere.

Hy en Bere, ons oorlede vriend Johann de Beer, wil Western Hotel toe. More is Saterdag. Dis warm en ek moet saam. Ek hou hulle terug. Peet Simonis se kerkstories kom nie klaar nie. Sy goed is goed, maar 'n mens moet kophou.

16.2.17

Perskor-reünie 2017: geborg deur Dagbreektrust

Met die afsterwe van ons kollega en vriend, Hans Lombard, en die emigrasie van Piet Ebersöhn na Korfu is die reёlings vir vanjaar se saamtrek van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens) deur 'n nuwe komitee oorgeneem. In die voorsitterstoel is Harald Pakendorf en hy word bygestaan deur Margaret Lombard en Louise Blake.

Die reünie vind op Sondag, 26 Maart 2017 by die restaurant Keg and Eagle, h/v Nic Diederichsboulevard en Hendrik Potgieterweg, Wilgeheuwel, Roodepoort plaas. Dis by die The Hub Crossing, dieselfde restaurant waar ons verlede jaar vergader het. (Wesrand Retail Crossing.)

10.2.17

Billy Graham in ongeluk by Thunder Gun

PEET SIMONIS skryf: Deur die koerante waar ons gewerk het, het ons joernaliste voorregte geniet wat nie die gewone man op straat beskore was nie. Ons het byvoorbeeld in kontak gekom met beroemde mense wat ons lewens verryk het. Soms was dit net vlietende ontmoetings, maar ander kere het daar vriendskappe uit gegroei.

Joe Venter en Gary Player het byvoorbeeld boesemvriende geword.

Ek weet Rika van Graan (wat ek aangestel het as eerste vrouemisdaadverslaggewer) het baie vriende onder polisiemanne gehad – van die laagste range tot heelbo by die generaals. Amanda Botha kan ook hoofstukke skryf oor van haar kontakte.

9.1.17

Tegnologiese Robinson Crusoe uiteindelik gered

PIET EBERSÖHN skryf uit Korfu: Dit het as't ware gevoel of ek `n tegnologiese Robinson Crusoe is toe ek aanvanklik langer as twee weke sonder internet of selfoon op die eiland Korfu in die Ioniese See gestrand was.


Ons moes seker maar dinge sien kom het toe alles nou nie uit die staanspoor verloop het soos ons beplan het nie.

Die gedagte was dat ons Maandag 7 November net ná 13:00 op Athene se lughawe sou land.

16.12.16

Komkommertyd

PHILIP DEETELFS skryf: Ooit gewonder waar die uitdrukking “komkommertyd” vandaan kom? Dis interessant om te sien dat die uitdrukking “cucumber time” reeds in 1699 in ‘n Engelse woordeboek opgeneem is.

Die oorsprong daarvan was (volgens Wikipedia) dat die Britse adellikes in die tyd wat die komkommers in seisoen was, met vakansie gegaan het en die kleremakers dit toe komkommertyd genoem het omdat sake vir hulle traag was.

15.12.16

Hoofsub na dekades opgespoor

KARIN PRETORIUS skryf: Toe ek die kunsblad van Die Burger oopvou, sien ek Johann Botha van die Baai het ‘n boek Koukonap gepubliseer wat in die 1950’s in die Noord-Kaap afspeel.

Sy foto lyk vir my vaagweg bekend en toe ek sy outobiografie lees, toe wéét ek: dis die einste Johann Botha wat in 1970 my hoofsub in die nagkantoor by Die Transvaler was – 46 jaar gelede!

Nou is my nuuskierigheid eers geprikkel en ek lees verder: dis Johann se tweede publikasie en twee dekades gelede is sy debuutwerk Die Groot Vyf met die Eugene Marais-prys bekroon wat handel oor die politieke oorgang in Suid-Afrika teen die agtergrond van die natuurlewe in die land.

12.12.16

Maureen uit hof gejaag in bordeel-saak

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Daar het al byna 'n vyf dekades in die niet verdwyn sedert ek hofverslaggewer was en miskien word dinge nou anders gedoen, maar doerietyd moes ons loop dat ons hik agter stories aan. Van hofsaal tot hofsaal.
Danksy Hermie Hendriks se joernalisteskool in 1970, was die landdroshof darem nie meer heeltemal 'n vreemde plek toe ek die dag hofverslaggewer word nie, maar eintlik was ek steeds 'n groentjie.

Skrikkerig vir die regswêreld en oorgretig om my beste voetjie voor te sit in 'n strak omgewing, het ek my in hoë hakke opgedollie. Splinternuwes. Twee spoggerige nommertjies met hakke wat my as't ware kop en skouers bokant almal laat uittoring het.

8.12.16

Besondere eer val Thijs Nel te beurt

SCHALK LE ROUX, redakteur van Die Hoorn in Oudtshoorn, skryf: ’n Besonderse eer het Thijs Nel, oud-kunsredateur van Die Vaderland en deesdae gevierde kunstenaar van Oudtshoorn, te beurt geval!

Hy is genooi na die opening van die nuwe vleuel van die Montreal Museum of Fine Arts in Kanada, waar een van sy werke uitgestal word. Die museum het Thijs se werk, ’n keramiekpot, in 1998 by ’n kunsuitstalling ,“Down to Earth”, in die LongHouse Reserve in Long Island in Amerika gekoop. (Die geleentheid was sowat 'n maand gelede gehou. -- Red.)

1.12.16

Piet ontken vaderskap op rype ouderdom

PIET EBERSÖHN skryf: Dat ek nou op my rype jare vaderskap moet ontken! Peet Simonis is die vader van K'rant. Ek het dit bloot in opdrag van hom, Hans Lombard en Andries Botha help laat herleef.

(K’rant was vroeër deur middel van e-posse versprei. Onder Piet Ebersöhn se leiding het K'rant gestalte as ‘n webjoernaal (blog) gekry. – Red.)