Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

24.4.15

Wie onthou die Excelsior-skandaal?

IRENE GROBBELAAR skryf: Ek is tans besig met my meestergraad in visuele studies aan die Universiteit van Stellenbosch. Ek doen nou navorsing oor die Excelsior-skandaal gedurende die 1970's en het op julle blog afgekom.

Ek vra groot asseblief dat enige joernaliste en fotograwe wat inligting of foto´s van die gebeurtenis het my per epos nader by lenoblephotography@gmail.com. Ek sal julle ewig dankbaar wees! Ek het gesien dat Willie Buys en Gerrie Fourie spesifiek betrokke was by die onderwerp.

(Gerrie Fourie is oorlede. Willie Buys se storie oor die Excelsior-seksskandaal is HIER -- Red.)

16.4.15

Ode aan die "steroïde-joernalis"

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Waar het jy nou ‘n getrouer en veelsydiger en meer ywerige redaksielid kon kry? Nooit het die hoofredaksie gewonder oor sy produktiwiteit nie, of gevrees dat daar géén nuus vir die volgende uitgawe sou wees nie.

Nou dat ons die getroue Sapa moes groet, reflekteer ‘n mens byna vanselfsprekend op ‘n ander groet van ‘n klompie jare terug -- die teleksmasjien wat stil geraak het.

Nes ‘n duisend vinke in ‘n vlei het ‘n goeie halfdosyn of meer van hulle se gekletter ‘n spesiale adrenalienelement en polsslag in ‘n koerantkantoor ingebring.

14.4.15

Elvis is dood

GERHARD KLEIJN skryf ja, díé oorlede Sapa darem: Dit was in die nanag van 17 Augustus 1977. Die koerant (Oggendblad) het lank reeds gesak en die grondvlak-rolpers het knap begin om die hele ou Mitchelstraatgebou aan die bewe te sit. In die nagkantoor was die manne besig om die laaste leksels uit ‘n breëskouer-fles te ledig.

Wat dit was wat my laat besluit het om juis tóé ‘n draai in die telekskamertjie te loop maak, weet ek nie. Die vystuks teleksmasjiene, skouer-teen-skouer en amper op oog-hoogte (vir die meeste) op ‘n toonbank ingeryg, was met my intrapslag doodstil. En toe kry die Sapa-masjien in die hoek skielik lewe: “Pieng. . . pieng. . .pieng!” En nog ‘n paar dringende pienge, maak die gedoente voor sy papiertong langer begin uitratel. Ek staan nader.

8.4.15

Sapa se rangskikking om hulp

JOHANN BRITZ skryf: Sapa se heengaan het my herinner aan 'n voorval jare gelede.

My goeie vriend, wyle Con Crous, was hoof van die Sapa-kantoor in Windhoek en was meestal die enigste personeellid wat die hele gebied moes dek. Soms het hy darem tydelike hulp gekry in die gedaante van afgestudeerde kommunikasiestudente van die Rhodes Universiteit.

Ingevolge 'n samewerkingsooreenkoms het ons afskrifte van kopie aan Sapa beskikbaar gestel en het ons van tyd tot tyd spesiale versoeke vir bystand gekry waar Con en sy mense nie kon bykom nie.

2.4.15

Totsiens Sapa

PHILIP DEETLEFS skryf: Die Sapa-berig hieronder is die laaste een ooit. K'rant se redaksie het dit goedgedink om die berig verbatim te plaas nadat Sapa sy ligte Dinsdag om middernag vir oulaas afgeskakel het. Saam met Gerhard Burger (e-pos onder) sê ons namens al die oud-Perskormense dankie aan Sapa vir die getroue diens wat oor al die jare so mildelik aan intekenare gebied is.

In hierdie Sapa-berig word twee van ons Perskor-kollegas genoem. Die eerste is Hannes de Wet. Hannes was in sy dae hoofverslaggewer van Die Vaderland en later parlementêre verslaggewer en toe Perskorburo se verteenwoordiger in Washington.

1.4.15

Foto's: reünie, 2015

PEET SIMONIS het foto's by die Perskor-reünie, 2015 geneem, maar ongelukkig die meeste daarvan verloor. Hier is 'n klompie wat oorgebly het.

PIET ROOS het die volgende laat weet: Dankie vir die reünie! Baie dankie vir almal wat betrokke was by die reëlings. Die gesels was lekker, die kos lekkerder en die wyn die lekkerste.

Lees gister se berig oor die reünie HIER.

31.3.15

Reüniegangers klink `n glasie op oom Hermie

PIET EBERSÖHN skryf: `n Sestigtal reüniegangers het vanjaar se kuier, wat weer soos die afgelope aantal jare deur die Perskortrust geborg is, by Forno Italiano in Wilgeheuwel, Johannesburg, bygewoon en die geleentheid benut om `n glasie op Hermie Hendriks te klink wat hoop om binnekort sy 90ste verjaardag te vier.

Harald Pakendorf, gewese redakteur van Oggendblad en Die Vaderland, het die heildronk op oom Hermie ingestel.

27.3.15

Sapa kry die doodskoot

PHILIP DEETLEFS skryf: Een van die eerste dinge wat 'n mens as leerlingverslaggewer moes leer doen, was om te tik. Nie sommer net uit jou kop uit nie. Nee, jy moes van die Sapa-berigte wat onophoudelik uit die teleksmasjien gekom het, vertaal.

Van die eerste "stories" was om Sapa se weervoorspelling vir die volgende dag vir die hele verspreidingsgebied van die koerant te vertaal. Jy moes ook die stories afskeur en vir die nuusredakteur gee sodat hy dit vir verdere aandag kon uitdeel. Stories moes dalk opgevolg word of net vertaal word.

18.3.15

Rika onthou haar dae as DT se krieketnooi

RIKA VAN GRAAN skryf: Julle jonges het my leer ken as misdaadverslaggewer en in die plattelandse redaksie by Die Transvaler. Ek dink in daardie stadium het ek ook nog die eiendomsbylae vir elke naweek versorg.

Maar dit was nie al nie! Twee maande nadat ek by DT begin werk het, was ek die koerant se krieketnooi! Dit was darem nie 'n skoonheidskompetisie nie!

Mnr Carel Nöffke, destyds die hoofredakteur, het geweet van my voorliefde vir sport. Ek het eers elke dag my draagbare radio saamgeneem kantoor toe om die krieket te luister. Dit het die hoofredaksie op die ingewing gebring om 'n inligtingsdiens aan ons lesers te bied. Onthou daar was nog nie televisie nie.

12.3.15

Wys vir oom Jacob net ‘n olifant …

JAPIE BOSCH skryf 42 jaar gelede in Perskorhaan: Wys vir oom Jacob, Die Vaderland se kunstenaar, 'n olifant en hy is in die sewende hemel. Dis sy heerlikste tydverdryf om oor naweke in sy ateljee by die huis te sit om diere van foto's af te teken.

Feitlik elke jaar in Mei pak George Jacoby op en vertrek na die Krugerwildtuin. Daar sal hy vir ure die diere se bewegings dophou en foto's van alle hoeke af neem.

April 1973
Oom Jacob sê hy het veral 'n voorliefde vir olifante, omdat hulle interessante bewegings het. As hy in die wildtuin is, is hy altyd eerste op die uitkyk vir olifante.

10.3.15

Reünie 2015: Goeie en slegte nuus

Daar is goeie en slegte nuus oor die reünie vanjaar.

Eers die slegte nuus: In `n ongekende vlaag van belangstelling is al die geborgde plekke reeds opgeraap – selfs voor ons, soos normaalweg, `n tweede kennisgewing moes uitstuur en `n volle twee weke voor die geselligheid.

2.3.15

Slyp jou tande vir vanjaar se reünie

PIET EBERSÖHN skryf: Vanjaar se saamtrek van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens) is op Sondag 22 Maart 2015.

Dit sal by die restaurant Forno Italiano, Westrand Retail Crossing, h/v Nic Diederichsboulevard en Hendrik Potgieterweg, Wilgeheuwel, Roodepoort, byna reg langs die restaurant wees waar ons verlede jaar vergader het.

26.2.15

Dougie streel sy lewer

PAUL KRUGER skryf: Ek het lekker gelees aan Johann Britz se hofstorie en van Dougie Jones se gat, dis nou die een aan die voorkant in sy “onderpens”. Sy woorde.

Toe ek by die redaksie van Die Vaderland ingetree het, het ek onder die vleuels van Jan Hoeksema beland en vir bykans die eerste 12 maande het ek meesal uit Johannesburg se landdroshof verslag gedoen.

Nou die dag vertel ek en ‘n plaaslike prokureur van Hermanus oor en weer stories uit die hof en kom sy met hierdie mooi ene vorendag:

25.2.15

Spioenskrywer Stoffel bly klandestien


GERT BASSON skryf: Ek verwys na die navraag na Stoffel Pienaar, skrywer van die Olaf Bouwer-spioenasiereeks, in K’rant.

Eerstens, dit is die skuilnaam van 'n veteraan-joernalis en hy wil graag anoniem bly.

Hy het my gevra om dié boodskap deur te gee: Hy wil nie met die betrokke persoon, of ander, oor sy boeke onderhandel nie.

19.2.15

Wie weet waar Stoffel Pienaar is?

QUENTEN HATTINGH (uitgewer) skryf: Kan K’rant ons asseblief help om met skrywer STOFFEL PIENAAR in verbinding te tree?

Ons kon vasstel dat hy lank assistent- en verhaleredakteur van sowel Rooi Rose as die Brandwag was, asook redakteur van Fleur. Hy was die skepper/skrywer van die gewilde Spioen Olaf Bouwer-reeks wat in die Brandwag, Dagbreek en Landstem verskyn het, en ook in Perskor se Olaf Bouwer-boekklub.

Sy Olaf Bouwer-strokiesverhaal, geïllustreer deur Len Lindeque, het weekliks in Dagbreek en Landstem verskyn.

17.2.15

Len Lindeque nie op sy bek geval

JAC DE VRIES skryf: Lojaliteit steek sy kop soms in verskeie vorme uit. Soos die dag toe ek, Len Lindeque en baas Dirk Richard by Marius Jooste in die kantoor was. Wat die geleentheid was, onthou ek nie meer so mooi nie, maar die verdere verloop sal saam met my graf toe gaan.

Jooste was nie die maklikste mens om mee klaar te kom nie en het dit skynbaar sy lewensroeping gemaak om dit by almal tuis te bring.

13.2.15

Beswaar, U Edele - uit die persbank!

JOHANN BRITZ skryf: Sal ons hulle ooit vergeet – daardie twee hardebaard-legendes uit die sestigs? Dougie Jones met die letsel van ‘n koeëlwond in sy heup. Koel soos die onderkant van ‘n kopkussing. Tom Smit, uitgeslape veteraan wat ‘n fortuintjie met die Rhodesian Sweep gewen, en dit later verloor het.

Waar dié twee ook al beland het, van die Sans Souci in Aucklandpark en die Residensie in Pretoria tot die Grand in Windhoek, het hul reputasie baard gekry. Hardekwas, sinies, onverskrokke. Manne van die Ou Skool wat vir niks en niemand gestuit het nie; nie eens vir ‘n regter van die Hooggeregshof nie. Dit het ek eerstehands ervaar met my vuurdoop in die Paleis van Justisie.

11.2.15

Ongerieflike nuuswaardigheid lei tot rooi gesig

MARIUS DU PLOOY skryf: Soveel van die toentertydse stories en gebeure skakel mens se nostalgiese reseptore aan, maar ongelukkig ook 'n paar wat dalk afgeskakel moes bly.

Hoewel my heeltydse Perskortyd maar kort was, het dit ‘n stewige grondslag gevorm van my mens-, media- en PR-begrip vir die jare daarna. Een van die lesse was dat mens baie meer moet stilbly en meer luister.

10.2.15

Karina fnuik my planne

Skrywer en akademikus André P Brink is Vrydagaand oorlede.  Hanlie Swanepoel-Vornberg het 'n ruk tevore meegaande aan K'rant gestuur.

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: ´n Wedstryd en ´n reeks artikels is ´n goeie sirkulasiebouer in ´n tydskrif.

Só het ons op ´n dag by Rooi Rose oorweeg om ´n reeks oor bekende Suid-Afrikaanse skrywers te doen. Ek was om meer as een rede vuur en vlam.

"Asseblief, mevrou Snyman " het ek by redaktrise Martie Snyman voorbrand gemaak. "Indien ons die reeks aanbied, kan ek tog asseblief met André P Brink ´n onderhoud voer?"

5.2.15

Ou Harry laat hoor van hom

GERHARD KLEIJN skryf na aanleiding van Hanlie Vornberg-Swanepoel se navraag oor Harry van den Berg:

Ou Harry het my verlede jaar uit die bloute van baie verloopte jare gebel. Hy wou praat oor die moontlikheid van ‘n wynrubriek in ons tydskrif en ‘n gesamentlike wynsmousery.

Harry bly nou in Pretoria se ooste, ná baie jare in die Kaaplandse wynwêreld. Daar het hy hom duidelik bekwaam in die fynere kunsies van wynskryf, -smous, -proe en geniet.