Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

2.3.15

Slyp jou tande vir vanjaar se reünie

PIET EBERSÖHN skryf: Vanjaar se saamtrek van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens) is op Sondag 22 Maart 2015.

Dit sal by die restaurant Forno Italiano, Westrand Retail Crossing, h/v Nic Diederichsboulevard en Hendrik Potgieterweg, Wilgeheuwel, Roodepoort, byna reg langs die restaurant wees waar ons verlede jaar vergader het.

Hermie Hendriks 
word 90.
Die ete begin stiptelik om 12:30. Kom van 11.45 af en kuier eers lekker saam. Ons gaan by dié geleentheid Hermie Hendriks se 90ste verjaarsdag vier.

Forno Italiano se buffet bied lamskerrie, pangavis van Viëtnam, spaghetti bolognaise,‘n stysel, twee groentes en ‘n groenslaai. Daar is twee voorgeregte op die tafel, foccacia en capreseslaai en vrugtesap.

Wyn is geborg deur Jean Engelbrecht van die Rust en Vrede Wynlandgoed, Stellenbosch. Jean se pa is die vermaarde Springbokvleuel, Jannie Engelbrecht.

‘n Kontantkroeg is beskikbaar vir ander drank. Nagereg, koffie en gebottelde water is vir jou eie rekening. Die Vaaldam is vol en ‘n glas water kos niks. Die ete is in ‘n private lokaal en ons is heeltemal op ons eie. Geen lawaai of harde musiek. Ons sit ook nie weer by ‘n lang tafel nie, maar by los tafels van ses.

Padaanwysings:

Forno Italiano
Uit die Johannesburg-omgewing – neem die Beyers Naudé- (DF Malan-) afrit en ry noord verby die Lifestyle-kwekery en draai links in Eastwoodlaan. ‘n Klein entjie verder vurk die pad. Hou regs in Scottlaan. Dit verander in Paul Krugerweg en later Nic Diederichsboulevard. Hou vir etlike kilometers reguit aan, verby SASOL GARAGE (links), steeds reguit aan oor die verkeerslig, ry teen die bult af en draai links by die eerste verkeerslig in FLORINWEG. Eerste straat regs om sirkel. Weer eerste straat regs by sentrum in. Die restaurant is die tweede gebou regs. Volop veilige parkering. Stap deur na die stoep.

Vanaf Pretoria – neem die N14 na Krugersdorp. Ry tot by eerste verkeerslig. Draai links. Dit word Hendrik Potgieterweg. Draai links in Nic Diederichsboulevard, etlike kilometers verder aan by Retail Crossing, Mr Price en groot M. By die eerste verkeerslig draai regs in FLORINWEG en volg aanwysings soos hierbo.

Klik HIER om na Forno Italiano se webtuiste te gaan.  
Daar is 'n padkaart wat jy kan rondskuif om jou pad te beplan. Jy kan dit ook vergroot en verklein.

Ons het plek vir 60 mense. Persone wat bespreek en nie opdaag nie, sal verplig wees om die koste van die ete, R135 pp, aan ons te betaal. Eerste bespreek kry eerste sitplek.

Die ete word geborg deur Dagbreektrust.
Geen besprekings sal na die sperdatum aanvaar word nie.

Laat weet asseblief al u oudkollegas met wie u nog skakeling het. Waarom nie ‘n tafel uit eie kring bymekaar kry vir ‘n lekker kuier nie?

Daar word ook 'n beroep gedoen op dié wat saamrygeleenthede aan ander kan bied om dit te doen. Dié wat saamrygeleenthede het of soek, moet laat weet sodat ons kan sien hoeveel mense ons bymekaar kan uitbring.