Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.3.15

Sapa kry die doodskoot

PHILIP DEETLEFS skryf: Een van die eerste dinge wat 'n mens as leerlingverslaggewer moes leer doen, was om te tik. Nie sommer net uit jou kop uit nie. Nee, jy moes van die Sapa-berigte wat onophoudelik uit die teleksmasjien gekom het, vertaal.

Van die eerste "stories" was om Sapa se weervoorspelling vir die volgende dag vir die hele verspreidingsgebied van die koerant te vertaal. Jy moes ook die stories afskeur en vir die nuusredakteur gee sodat hy dit vir verdere aandag kon uitdeel. Stories moes dalk opgevolg word of net vertaal word.

Die "Sapa-masjien" was altyd besig en die teleksgedreun was eintlik soos sagte agtergrondmusiek. As dit sou stil raak daar agter die glasvenster waar die masjien onverpoos voortgedreun het, het almal se koppe gelig om te kyk wat skeefgeloop het. Papier op? Fout met die kragprop? Maak onmiddellik reg want anders scoop die Rand Daily Mail jou more!


Sapa was die hardwerkende verslaggewer wat nooit hoef te gaan rus het nie en sonder wie al wat 'n koerant was destyds aansienlik slegter daaraan toe sou wees.

Uit: Netwerk24
Die direksie van Sapa het onlangs besluit om hierdie ou werkesel na groen weivelde te stuur vir sy heeltydse aftrede en die besluit sal om middernag op Dinsdag 31 Maart geïmplementeer word. Dit sal 'n lang geskiedenis van nuuslewering aan die Suid-Afrikaanse nuusmedia tot 'n einde bring.

Sapa het sy eerste nuusberigte op 1 Julie 1938 begin lewer as 'n onafhanklike, nieregeringsinstansie en nuuskoöperasie wat nie winsgedrewe was nie. Sapa het dit ten doel gehad om altyd en in die openbare belang, nuus aan sy intekenare te verskaf wat feitelik korrek, vinnig, betroubaar en neutraal sou wees.

Sapa se Johannesburgse redaksiekantore sal van 18:00 tot middernag op Dinsdag 31 Maart 2015 (volgende Dinsdag) vir besoekers oop wees waar die mense vir oulaas kan sien hoe daar gewerskaf word. Daar sal ook geleentheid wees vir besoekers om 'n paragraaf of twee te kan skryf oor hul herinneringe van Sapa oor die jare.

Vir diegene wat graag 'n paragraaf of twee wil skryf, maar nie daar kan wees nie, is 'n spesiale e-posadres geskep vir sulke bydraes aan die organisasie wat die lewe vir die meeste van ons soveel makliker gemaak het.

Die adres is lastwords@sapa.org.za en slegs twee paragrawe per boodskap sal aanvaar word. Dit sal ook gaaf wees indien enige K'rant-leser wat vir Sapa 'n bydrae stuur, dit asb ook vir K'rant sal stuur sodat ons kan kyk of ons iets met die bydraes van die gewese Perskor-mense vir ons eie publikasie kan maak.