Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.4.15

Ode aan die "steroïde-joernalis"

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Waar het jy nou ‘n getrouer en veelsydiger en meer ywerige redaksielid kon kry? Nooit het die hoofredaksie gewonder oor sy produktiwiteit nie, of gevrees dat daar géén nuus vir die volgende uitgawe sou wees nie.

Nou dat ons die getroue Sapa moes groet, reflekteer ‘n mens byna vanselfsprekend op ‘n ander groet van ‘n klompie jare terug -- die teleksmasjien wat stil geraak het.

Nes ‘n duisend vinke in ‘n vlei het ‘n goeie halfdosyn of meer van hulle se gekletter ‘n spesiale adrenalienelement en polsslag in ‘n koerantkantoor ingebring.

Soos Neil Diamond se Beautiful Noise met ‘n soort kadans het die masjiene ‘n redaksiekantoor eenvoudig anders gemaak as alle ander kantore. Dié “ysterkoeie” kon sweet!

Noudat die “Sapamasjiene” stil is (dis hoe hulle maar by die meeste koerante generies genoem is) is dit dalk gepas om die ou nuusdraende strydrosse te vereer en ‘n monument te gee.

Maar liefs dan in ‘n ode van woorde. Met die jagseisoen wat pas op ons geskiedenisbakens geopen het, verspil ons bes moontlik goeie tyd en ‘n spul brons wat êrens in ‘n skrootwerf vir monumente kan beland.

Ek sien dit nog voor my in die 1960-70’s: ‘n telekskamer vol masjiene, geheg aan tientalle en soms tot ‘n honderd meter of meer papier soos slap maanhare aan ‘n perd.

Gereeld het hulle, veral oor naweke, al wat tafel- en vloerspasie was, vol gelê. Later selfs tot bo-op die masjiene, sodat die kakofonie van klanke genadiglik geknaldemper is.

Die onafgeskeurde telekspapier kon soos ‘n massa seebamboes op ‘n Weskusstrand losskrum kom maak. Bodes moes immers darem ook naweke vry kry en kan ook fuifend hul plig versuim … Getroue teleksmasjiene wis van g’n vrynaweke of vakansies of ... (dankie tog!) vakbonde nie.Die strydrosse was wraggies erger as ‘n mierkolonie op steroïdes vlak voor die eerste reëns en kon eenvoudig net aan- en aanhou. Bodes of te nie.

Verslaggewers uit die voorkuber-era van so so ‘n klompie dekades terug ken dié prentjie maar te goed. Die plek wat jy net sowel ook ‘n droeë waterval kon noem; die plek waarvan die polsslag slegs deur FASE 4-beurtkrag gestop kon word!

Menige kere moes jy as jong verslaggewer gereeld twee goed doen wat jou jou penkopdae laat verfoei het:

1. Tydens stil tye is van die Sapa-kamer se berigte langs jou tikmasjien neergeplak en dan moes jy dit vertaal. As jou Engels nou nie vir jou soos ‘n lekker rugbywedstryd of ‘n mooi meisie was nie, dan het dit ‘n woeste woordeboeksoektog afgegee. En die eindproduk dikwels lagwekkende, sinnelose vertalings! Van die subs kon soms behaaglik ‘rang trek’ op ons juniors en ons vertaalskeppings met minagting hanteer. Skeppings wat in elk geval nooit naby die steen uitgekom het nie.

2. As die bodes vry naweke gehad het was dit jou as jong verslaggewer se sogenamde teleksbeurt. Dikwels was dit Saterdagoggend vroeg of Sondagmiddag of op vakansiedae. Dan moes jy die kamer vol kletterklanke van die deur se kant beginne skoonkry. Plek vir trap was daar dikwels nie. Eendag het ek hoeka ‘n spul nuusstories op lang-lang rolle in die vloer in verpletter toe ek te ver gerek het om die naaste vervlakste masjien by te kom om die kopie af te skeur!

Dan, as jy so bietjie voet in die papier se deur kon kry het die nare ontknoping van die masjiene se verstrengelde papier gevolg. (Ek het dergelike ontrafelings ‘n paar keer op hengeltogte gesien as hengelaars meer brandewyn as aas see toe gebring het en hul vislyn te intiem geraak het op die dek.)

Daarna dan die oprol van tientalle meters en meters nuus, gevolg deur die moeisame skeur en rangskik volgens kenwoorde en aan mekaar kram van die honderde berigte. Sapa s’n apart, AFP s’n eenkant, UPI op nog ‘n hopie. Ook in datum- en tydvolgorde, het die hoofredaksie-ou eksplisiet gesê.

En as jy klaar was, was daar al weer ‘n goeie klomp meter uit die droë waterval!

Waar op aarde kom al die leesmateriaal vandaan? Hoeveel verslaggewers het dit nie geverg nie om ‘n hele telekskamer so te laat volstroom? Weet die nuusagentskappe dan nie ons het ook ons eie verslaggewers wat kopie produseer nie? Dink hulle ons gee elke dag ‘n 80-bladsykoerant uit?

Hoe moeër ek geraak het in die telekskamer, hoe meer het ek met dié soort vrae myself verder vermoei. En sout in die wonde van my denke was boonop as die nuusredakteur of hoofsub byna die hele stapel noukeurig geordende teleksberigte in die snippermandjie laat intuimel het. Sies vir hom – het hy só gou sy junior dae se sweet vergeet?!

Maar nou-ja. Ons is immers in die 24/7/365-bedryf wat snippermandjies volmaak en vir papierskroot sorg.
Vandag koerant; more vis-en-tjipspapier, het ou Flip van die subkantoor soms laat val… Raklewe-datums geld eenvoudig nie in die koerantwêreld nie!

En teen die tyd dat die dag se uitgawe “steen toe is” (die term wat in die warmloodletters se dae gebruik is) het die teleksmasjiene intussen weer getrou soos ‘n zoemende swerm die “korf” begin volmaak vir môre. En weer en weer vir môre se volgende môre, wat dan gou net nog ‘n gister geword het.

So het die immerstroom van berigte, waarvan ‘n sinnelose klein persentasie uiteindelik in loodletters omgesit is, bly inrol. Net om binne 5 tot 45 minute in ‘n leser se hande sy raklewe verby te steek en dan oormôre tot eierboksies gepulp te word, of maar net ‘n hoop geel koerante in ‘n kamer se hoek te word.

Sapa, jy was sinoniem met die teleksmasjien vir vele jare. Ysterkoei, ons salueer jou. Ons staan stil op aandag vir jou en die Sapa-vennootskap. Wat ‘n stuk kosbare tradisie wat deur ‘n gemene deler beëindig is: Stilte ...

Mag die rustiger klanke van rekenaar-sleutelborde en geluidlose seine deur die kuberruimte waardige opvolgers vir julle twee wees.