Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.2.15

Dougie streel sy lewer

PAUL KRUGER skryf: Ek het lekker gelees aan Johann Britz se hofstorie en van Dougie Jones se gat, dis nou die een aan die voorkant in sy “onderpens”. Sy woorde.

Toe ek by die redaksie van Die Vaderland ingetree het, het ek onder die vleuels van Jan Hoeksema beland en vir bykans die eerste 12 maande het ek meesal uit Johannesburg se landdroshof verslag gedoen.

Nou die dag vertel ek en ‘n plaaslike prokureur van Hermanus oor en weer stories uit die hof en kom sy met hierdie mooi ene vorendag:


Dit was in Kaapstad waar sy hierdie gladdebek aangeklaagde op ‘n minder ernstige aanklag moes verdedig.

Illustrasie
Vooraf het sy die vrou deeglik geskool oor haar kleredrag, voorkoms, ens. en wat sy moet sê en nie sê nie. Die aangeklaagde het mooi geluister. Toe haar spreekbeurt kom, vat sy die voorskrif een stap verder en pleks van “edelagbare” besluit sy om die landdros as “edeldierbare” aan te spreek. Daar was glo so ‘n geproes in die hof dat die dierbare landdros die saak net daar van die rol skrap. Mens moet jou talente en sjarme in die lewe gebruik!

Dougls Jones
Om tot Dougie terug te kom. Ek onthou een Saterdagoggend, koerant klaar gesak, sit die redaksie in ‘n kring en klets met Dougie aan die voorpunt. Vertel hy onder meer van sy dae in die polisie en hoe hy “die stuk lood in sy onderpens opgetel het”. En net daar trek hy sy hemp op en wys vir ons die letsel, ‘n redelik yslike gat.

Hy druk sy wysvinger binne-in en maak sulke sirkelmasseerbewegings. “Dougie, wat maak jy nou?” wil ons weet. Met ‘n salige uitdrukking in sy oë sê hy: “Ek streel my lewer.” Daar is inderdaad min mense wat met 'n uitwendige toegang tot sy binneste kon spog!