Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.4.15

Elvis is dood

GERHARD KLEIJN skryf ja, díé oorlede Sapa darem: Dit was in die nanag van 17 Augustus 1977. Die koerant (Oggendblad) het lank reeds gesak en die grondvlak-rolpers het knap begin om die hele ou Mitchelstraatgebou aan die bewe te sit. In die nagkantoor was die manne besig om die laaste leksels uit ‘n breëskouer-fles te ledig.

Wat dit was wat my laat besluit het om juis tóé ‘n draai in die telekskamertjie te loop maak, weet ek nie. Die vystuks teleksmasjiene, skouer-teen-skouer en amper op oog-hoogte (vir die meeste) op ‘n toonbank ingeryg, was met my intrapslag doodstil. En toe kry die Sapa-masjien in die hoek skielik lewe: “Pieng. . . pieng. . .pieng!” En nog ‘n paar dringende pienge, maak die gedoente voor sy papiertong langer begin uitratel. Ek staan nader.

Illustrasie
“Elvis Presley has died in ... More to follow. Sapa AP”, staan dit daar in ‘telekstype’ voor my oë.

‘n Goeie storie neig om nuwe lewe in selfs ‘n moeë, effe aangeklamde koerantman te sit. Die rolpers is tot stilstand gedwing, die voorblad is oorgemaak en die drukoplaag is vergroot. Dit alles te danke aan ‘n laatnag-fles in die nagkantoor. En Sapa.

Daardie oggend was Oggenblad die enigste oggendblad in die land wat díé aardskuddende nuus gedra het.

En teen die lamppale en jakarandabome van Pretoria se strate het die plakkaat dit in net drie vet, bokas-woorde en oor drie dekke uitgeskree: ELVIS IS DOOD.