Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.8.14

Hanlie se storie vervolg

SUZELLE FOURIE skryf: Ek het Karin Pretorius se bydrae oor Hanlie Swanepoel en haar lewe in Oostenryk met plesierige belangstelling gelees. Ek onthou nog vir Hanlie van die vroeë sewentigerjare, toe ek ‘n onervare groentjie-verslaggewer by Die Vaderland was en sy een van die gelukkiges wat ordentlike opleiding in Perskor se joernalisteskool ontvang het.

26.8.14

Doodluiters beland Hanlie in Oostenryk

KARIN PRETORIUS skryf: Tant Bybie Hyman Van Rooi Rose se opdrag aan my was baie duidelik: jy kom nie terug van Oostenryk sonder die onderhoud met Hanlie Swanepoel in Wene nie.

Hanlie het die baie gewilde rubriek ‘Doodluiters’ in Rooi Rose behartig – ‘n rubriek wat nog deur die redakteur van destyds, wyle Marthie Snyman, aan haar gebied is en wat op 14 Julie 1971 sy eerste publikasie gesien het.

21.8.14

Prinse en boere voor Herman se lens

KARIN PRETORIUS skryf: Tydens die bosoorlog in die ou Rhodesië was ek bevoorreg om in September 1979 as die enigste genooide joernalis die huwelik van min PK van der Byl met prinses Charlotte von Liechtenstein in hul familiekasteel in Waldstein, 25km suid van Graz in Oostenryk, by te woon.

Mnr Van der Byl was toe die minister van vervoer, krag en poswese in die nuwe kabinet van Zimbabwe-Rhodesië en 'n gebore Kapenaar.

6.8.14

Oor knorpotte en gesteelde toebroodjies

GERT COETZEE skryf: Oom Mike van Niekerk bel my op ’n aand toe ek die Ooste vir Die Transvaler beman; ek moet die een of ander storie dringend gaan doen, foto’s neem en dit so gou doenlik deurstuur vir die volgende oggend se uitgawe.

Ek vertel vir Oom Mike my Skottie, McDonald, is siek en ek moet hom dadelik veearts toe vat. Oom Mike sê hy is jammer om dit te hoor, hy het nie mense om die storie te doen nie en as ek dit nie doen nie, ek my toekoms by die koerant gerus maar die volgende dag met Die Pous moet bespreek.

1.8.14

Boom slinger oor Dirk se pad

DIRK BENADÉ skryf: Destyds, ná n goeie dag weddenskapsgewys by die perderenbaan en 'n vreemde klein wit pilletjie op die verkeerde tyd gesluk om my gestel te laat herstel, is ek op pad terug kantoor toe met Perskor se Volkswagen Passat.

Die uitwerking van die wit pilletjie was toe om my onverwags en agter die stuur van die Passat aan die slaap te sus. Net toe ek aan die slaap raak, het 'n yslike groot boom voor my oor die pad gestap met gewelddadige gevolge.

30.7.14

Woonstelmaats na 40 jaar weer bymekaar


GERT VAN ROOYEN skryf: Ná byna vier dekades is die drie woonstelmaats weer verenig! Ja, dit was voorwaar ʼn reünie in die kleine toe Joe van Buuren (links), Alwyn Strydom (regs) en Gert van Rooyen mekaar by die Perskor-reünie op 31 Maart raakloop. Dit was in die middel jare sewentig toe dié drie besluit het om ʼn woonstel in Bordeaux, Randburg, te betrek. Die woonstelblok was reg langs die Braamfonteinspruit, waar die laaste episodes van die befaamde Transvaler-produksies se Don Spaghetti- en Don Ravioli-film geskiet is, en die drie was natuurlik ook karakters in die film! Later het Danie Malan (wat toe net van Australië af teruggekeer het) ingetrek en mettertyd nog een of twee ander mense so deur die loop van die jaar! Maar, dit was lekker ou dae en aande, waar tequilas met suurlemoen en sout weggesluk is en ‘n hele paar samekomste (tot die ergenis van die ander inwoners) naby Dittonlaan 10, Aucklandpark gehou is.

25.7.14

Moordlyste en dodelike draaie

FRIKKIE VAN DER WALT skryf: Ek het Le Roux Terblanche in Die Vaderland se gange leer ken toe hy lesers onder die skuilnaam Karwats oor die land se vinnigste perde ingelig het. Volgens Essie se skrywe het hy Le Roux se donker kant by The Citizen leer ken toe hy op sy moordlys beland en 'n vriendskap onherstelbaar verbrokkel het.

Jare gelede het ek by Die Vaderland 'n geleentheid gekry om my platsaksalaris as motorredakteur met gratis motorritte aan te vul. Ek kon tussen verskillende modelle kies en het elke week 'n motor met 'n vol tenk petrol kry om te toets.

21.7.14

Italiaanse Tshipise fnuik die sentrale

HANS LOMBARD skryf: In April 1974 was ‘n groep van ons op pad na Salisbury (Harare). Ons besluit om ‘n aand op Tshipise, iewers tussen Louis Trichardt en Messina, in Noord-Transvaal, oor te bly. Uit verskeie oorde het ons verneem dat dit so ‘n wonderlike uitspanplek is.

Om 13:30 op ‘n Saterdag bel ek die sentrale van my woonstel af in Johannesburg en bespreek die oproep na Tshipise nommer 4 om plek te bespreek. Die meisie by die sentrale vra hoe dit gespel word.

16.7.14

Bang prokureurs sorg vir lekker naweek in die buiteland

PIET ROOS skryf: Rondom 1976 kom ek die storie te hore dat Suid-Afrikaanse prokureurs gaan registreer in Lesotho. Dit het hulle outomaties toelating gegee in die Statebond en kon hulle sodoende maklik landuit en in Engeland of Australië gaan werk.

Ek vertel dit vir die nuusredakteur en hy sê nou hoe gaan jy die storie kry?

Ek sê ek kan dit nie kry nie, maar my vriend, 'n prokureur, sal saam gaan en hy ken die wette en hy sal die storie kan losmaak.

14.7.14

Möller Dippenaar oorlede

Möller Dippenaar, voormalige politieke korrespondent van Hoofstad, is Woensdag, 2 Julie 2014, aan ‘n hartaanval in die Eugene Marais-hospitaal, Pretoria oorlede. Hy was 72.

Die begrafnis was verlede week.

Möller wat gesond- en fiksheidbewus was, laat sy vrou, Christine, en twee dogters agter.

4.7.14

Niks is vir altyd nie

Ons verskyn nog, net nie meer elke dag nie.

Daar is net soveel gewese oud-Perskor-kollegas (wat ongelukkig elke jaar ook nog al hoe minder word) en net soveel stories wat ons uit ons vaer wordende geheues kan loskrap.

Dit beteken dat K'rant uiteindelik nie meer stories sal kry om te publiseer nie want die stories en die skrywers van die stories het opgeraak. (Hopelik hou die skrywers die langste!)

Alles het 'n begin en 'n einde. K'rant het bietjie meer as twee jaar gelede begin en vir die grootste deel van hierdie tyd elke werksdag van die week 'n vars storie gepubliseer. Ons het besef dat dit nie volhoubaar is nie.

Ons statistiek wys reeds dat die bydrae-tempo begin afneem en ons het begrip daarvoor.  

Die hartseer gevolg daarvan is dat K'rant voortaan nie meer elke dag met 'n vars storie vorendag sal kan kom nie want daar is eenvoudig nie meer vyf nuwe stories wat elke week inkom nie.

Ons wil sterk aanbeveel dat enige leser wat graag wil weet wanneer K'rant 'n vars storie het, moet inteken om van die storie kennis te kry. Die alternatief is om elke dag by K'rant in te loer en self te kyk.

Hierdie aankondiging is nie die einde van K'rant nie, maar wel die einde van K'rant soos dit die afgelope byna twee jaar daagliks met vars stories die lig gesien het. 

Vir enige oudkollega wat lus voel om met ons enige van jou werksherinneringe by Perskor te deel, stuur vir ons jou storie!

Om vorentoe van vars stories kennis te kry, moet jy net op K'rant inteken deur jou epos-adres te voorsien in blokkie met die opskrif "Teken in op K'rant" regs bo.

3.7.14

My NP-plakker op ‘n SAP-tante se motor

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Ek was as koerantman ‘n vurige Nasionale Party-man en het met groot passie en opgewondenheid deel gevorm van die verslagspan wat in die ou dae verkiesings gedek het in en om Port Elizabeth. Toe was dit Sap teen Nat.

Die optelsommetjie van die destydse politiek was dikwels: Sap + Nat = BLOED. Halwe(hartige) houe slaan was nie op die spyskaart nie.

2.7.14

Mammie tik beampte terwyl Karin swem

KARIN PRETORIUS skryf: Wat was pa en ma nie trots op hul 13-jarige langbeenmeisiekind wat die skole-byeenkoms in Durban vir 55-treemeisiesvryslag 0-14 gewen het nie en daarmee in 1958 haar junior Noord-Transvaal-kleure vir swem verwerf het! Die pragtige donkerblou sakwapen met die rooi disablommetjie was tog almal se trots.

Maar, die Oos-Transvaalse beampte wat voor ma op die paviljoen in die bloedige Durban-son gesit het, het nie dieselfde sentiment gedeel nie.

1.7.14

Lita leer van dissipline by Transvaler

LITA KOTZÉ vertel hoe haar pad in die joernalistiek gekronkel het: Met ‘n onvoltooide onderwysgraad het ek in 1981 in die joernalistiek beland. Ek het ná universiteit by my ouers op Randfontein gewoon en werk gesoek.

Op ‘n dag loop ek in die hoofstraat, sien die bordjie van die Randfontein Herald, steek my kop by die deur in en vra vir die ontvangsdame of hulle nie werk het nie.

30.6.14

Geisja-danseres maak amok op NG Kerkraad

HANS LOMBARD skryf: Ná my besoek aan Japan in 1959 het ek ‘n boek geskryf oor my ervarings, “Straalvlug na die Ooste.” Dit is deur Nasionale Pers uitgegee.

‘n Resensie van die boek deur Frans Esterhuysen het op 6 Januarie 1962 in die Evening Post, ‘n koerant in Port Elizabeth, verskyn onder die opskrif: “Afrikaner liked Japan and its women.” (Leef Frans Esterhuysen nog? Ek het hom nooit ontmoet nie - Hans.)

27.6.14

Die Valiant kom terug

FRIKKIE VAN DER WALT skryf: Perskor het só baie publikasies gehad dat die manne in die fabriek groot geld met oortydwerk verdien het. Die meeste van hulle het soggens ingeklok en laat saans huis toe gegaan. Een van die baie voormanne, Rudie Mioch, het een aand gespog dat hy teen Woensdag reeds sy weeklikse kwota ure gevul het en op Donderdag soos hy dit gestel het op tyd en ‘n half gegaan het. As hy dan nog naweke gewerk het, was dit volgens hom dubbeltyd.

26.6.14

Om die storie te veroorsaak

PHILIP DEETLEFS skryf: Die Goudstadse Onderwyskollege was in die jare sewentig net om die draai van Perskor in Auckland Park en baie naby Brixton. Die polisie se blitspatrollie-eenheid met brigadier Theuns Swanepoel (die Rooi Rus) aan die roer van sake was ook in Brixton.

Ek weet nie of Buks Pietersen of (klein) Dana Niehaus hierdie storie nog kan (of wil) onthou nie, maar destyds toe ek misdaadverslaggewer by Die Transvaler was, was Buks misdaadverslaggewer by Rapport.

25.6.14

Geskiedkundige Persfoto’s opgediep

SOMARIE GREY, dogter van Perskor se oprigter, Marius Jooste, het ‘n versameling kosbare geskiedkundige foto’s uit die verlede van Die Afrikaanse Pers Beperk (APB), Die APB (1962) en Perskor tot K’rant se beskikking gestel. Ons spring weg met twee foto’s wat die geboorte van die Pretoriase middagblad Hoofstad herdenk en ‘n ietsie oor die stigting van die blad.

Goudstad en Hoofstad vat mekaar se hande

24.6.14

APB-man is een van wêreld se beste filmgrimeerders

JAPIE BOSCH skryf (byna 44 jaar gelede): Die APB het nou maar eenmaal baie talent in sy midde. Op die derde verdieping in Aucklandpark werk mnr John Dercksen, 'n proefleser, wat nie net as die beste grimeerdeskundige in Suid-Afrika geag word nie, maar as een van die bestes ter wêreld.

Uit: November 1970
En dis nie sommer net praatjies nie. Kort gelede het mnr Dercksen 'n tydskrif, Der Filmwelt, uit Duitsland ontvang waarin hierdie stelling gemaak word. Behalwe hierdie puik getuigskrif, het hy ook net ná die voltooiing van Die Kandidaat, 'n spesiale toekenning van die SA Vereniging van Rolprentverspreiders ontvang wat hom aanprys as die beste grimeerder in Suider-Afrika.

23.6.14

Prof Chris wag met breë glimlag vir sy storie!

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Vroeg in 1982 moes ek as landboujoernalis ‘n artikel gaan skryf oor oorle prof Chris Barnard, meer beroemd vir sy hart-pionierswerk, maar toe skielik ook stoetboer met Simmentaler-beeste.

“Hy’t ‘n plaas gekoop daar naby Sedgefield in die Suid-Kaap en het groot planne met ‘n Simmentaler-stoetery. Gaan kry die storie vir ons,” kom die opdrag van die redakteur uit die Kaap.