Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

4.7.14

Niks is vir altyd nie

Ons verskyn nog, net nie meer elke dag nie.

Daar is net soveel gewese oud-Perskor-kollegas (wat ongelukkig elke jaar ook nog al hoe minder word) en net soveel stories wat ons uit ons vaer wordende geheues kan loskrap.

Dit beteken dat K'rant uiteindelik nie meer stories sal kry om te publiseer nie want die stories en die skrywers van die stories het opgeraak. (Hopelik hou die skrywers die langste!)

Alles het 'n begin en 'n einde. K'rant het bietjie meer as twee jaar gelede begin en vir die grootste deel van hierdie tyd elke werksdag van die week 'n vars storie gepubliseer. Ons het besef dat dit nie volhoubaar is nie.

Ons statistiek wys reeds dat die bydrae-tempo begin afneem en ons het begrip daarvoor.  

Die hartseer gevolg daarvan is dat K'rant voortaan nie meer elke dag met 'n vars storie vorendag sal kan kom nie want daar is eenvoudig nie meer vyf nuwe stories wat elke week inkom nie.

Ons wil sterk aanbeveel dat enige leser wat graag wil weet wanneer K'rant 'n vars storie het, moet inteken om van die storie kennis te kry. Die alternatief is om elke dag by K'rant in te loer en self te kyk.

Hierdie aankondiging is nie die einde van K'rant nie, maar wel die einde van K'rant soos dit die afgelope byna twee jaar daagliks met vars stories die lig gesien het. 

Vir enige oudkollega wat lus voel om met ons enige van jou werksherinneringe by Perskor te deel, stuur vir ons jou storie!

Om vorentoe van vars stories kennis te kry, moet jy net op K'rant inteken deur jou epos-adres te voorsien in blokkie met die opskrif "Teken in op K'rant" regs bo.