Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.8.14

Doodluiters beland Hanlie in Oostenryk

KARIN PRETORIUS skryf: Tant Bybie Hyman Van Rooi Rose se opdrag aan my was baie duidelik: jy kom nie terug van Oostenryk sonder die onderhoud met Hanlie Swanepoel in Wene nie.

Hanlie het die baie gewilde rubriek ‘Doodluiters’ in Rooi Rose behartig – ‘n rubriek wat nog deur die redakteur van destyds, wyle Marthie Snyman, aan haar gebied is en wat op 14 Julie 1971 sy eerste publikasie gesien het.

Herman Potgieter
Ek en fotograaf, wyle Herman Potgieter, was in September 1979 in Oostenryk vir die huwelik van min PK van der Byl met prinses Charlotte von Liechtenstein vir ‘n eksklusiewe artikel vir Rooi Rose.

En so het ek en Herman ná die troue aangeklop by Cuvierstrasse 36, in die woonbuurt Lainz van Wene se distrik 13 waar ‘n baie aantreklike Oostenryker – lank en donker - die deur oopgemaak het, gevleuel deur twee woelwaters. Dit was Richard Vornberg, Hanlie se man en hul spruite Birgit en Christian.

Hanlie is ‘n gebore Kapenaar wat op Maties haar BA-graad verwerf het, in Bloemfontein in ‘n biblioteek gewerk het en ná ‘n advertensie in die koerant aansoek gedoen het om Perskor se joernalistieke skool in Johannesburg by te woon.

Sy het nog ‘n onderhoud met die nuusredakteur van die destydse Dagbreek in Bloemfontein gevoer, was een van die agt wat vir die opleiding gekies is en wat daarna deur ‘n vriend van haar met sy motortjie by Perskor in Aucklandpark afgelaai is.

Haar verblyf was – op aanbeveling – by die Sans Souci! Sy het nie besef dit is die saamkomplek van die ‘geharde joernaliste’ nie, taamlik raserig en met skalkse en spottende blikke van ervare manne wanneer die gekose agt in hul Perskor-kombi klim om die skool by te woon. Van wanneer af kan 'n mens dan nou kwansuis geleer word om te skryf?

Die San Souci
Dit was ‘n strawwe program vir die jong Hanlie – tikklasse, spoedskrif, hofverslaggewing, beriggewing en
skryf van soggens tot laat. Volgens kontrak moes Hanlie twee jaar ná die opleiding by ‘n koerant werk maar sy is onmiddellik in 1971 in Rooi Rose se redaksie aangestel waar me Snyman haar die rubriek aangebied het.

Hanlie het kort daarna vir Richard die Oostenryker in Johannesburg ontmoet - ‘n regsgeleerde wat as toergids in Suid-Afrika opgetree het en latere bankier. Hanlie het in 1972 mev Vornberg geword, voortgegaan met haar rubriek totdat haar eersteling Birgit op pad was.

Oom Hermie Hendriks se joernaliste skool.  Hanlie is links voor.
Bennie Fritz, wat toe redakteur van Rooi Rose was, het Doodluiters behou maar dit gevul met briewe van lesers.

Ná die geboorte van haar seun Christian het die Vornberg-gesin na Oostenryk verhuis – Richard se geboorteland – en Hanlie het voortgegaan met haar rubriek in Rooi Rose. Daar was baie planne vir reis na verskillende lande met Richard se werk as bankier en met sy bevordering in die bankwese.
Toe ons Hanlie in 1979 ontmoet het, het sy baie terugverlang na Suid-Afrika, die sonskyn en die Kaap se wit strande.

Wanneer 'n mens die soekenjin inspan om te sien waar Hanlie haar bevind, sien jy dat haar man nou ‘n doktorsgraad het en sedert 2011 as ‘n bankier en as president in die uitvoerende raad van die VTB Bank in Parys dien; dat Hanlie in 2012 ‘n boek in Duits, ‘Wien Der Guten Hoffung’ gepubliseer het; en dat Die Burger berig dat haar moeder, mev Hanna Swanepoel van die Jubileum Aftreeoord Tygerdal, in 2000 die huwelik van haar kleindogter Birgit in Wene bygewoon het.

Dit wil voorkom of Hanlie nou dus heeltemal ingeburger is in die Europese samelewing! Ek is nie op ‘Facebook’ nie maar is daar iemand wat kontak met haar het?

Hanlie het vir my en Herman se besoek lekker tuisgebak gehad.

Foto bo: Die gesin Vornberg met Richard, Hanlie, Birgit en Christian.
Foto onder: Die sesjarige Birgit en vierjarige Christian.