Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

21.8.14

Prinse en boere voor Herman se lens

KARIN PRETORIUS skryf: Tydens die bosoorlog in die ou Rhodesië was ek bevoorreg om in September 1979 as die enigste genooide joernalis die huwelik van min PK van der Byl met prinses Charlotte von Liechtenstein in hul familiekasteel in Waldstein, 25km suid van Graz in Oostenryk, by te woon.

Mnr Van der Byl was toe die minister van vervoer, krag en poswese in die nuwe kabinet van Zimbabwe-Rhodesië en 'n gebore Kapenaar.
Die ‘scoop’ was uitsluitlik vir Rooi Rose en die fotograaf wat toe vir Republikeinse Pers gewerk het en vir wie tant Bybie Hyman gekies het om my te vergesel, was Herman Potgieter – die befaamde lug/vliegtuigfotograaf wat so tragies op 53-jarige ouderdom aan sy einde gekom het. Hy en 13 ander passasiers was in Februarie 1998 in die Pilatus PC X11 wat op ‘n vlug van Switserland na Suid-Afrika, tydens ‘n ongeluk naby Nairobi neergestort het. Daar was geen oorlewendes nie.

Dit was ‘n voorreg om saam met Herman te gewerk het. Hy was professioneel, vriendelik, nederig en sy gemaklike omgang met mense – ook met die koninklikes van hierdie klein prinsdom in hulle kasteel in Waldstein – het my as joernalis op my gemak laat voel en ek kon fokus op wat my taak was met die voer van onderhoude.

Herman geniet ‘n bier in die vliegtuig op ons vlug van 
Johannesburg na Oostenryk vir die troue van min 
PK van der Byl met prinses Charlotte von Liechtenstein.

In die fraai dorpie Waldstein was die boere besig met die oes voor die winterseisoen en 
hierdie vriendelike vrugteboer was op pad uit om appels te pluk. Herman neem hom af 
en ek neem Herman af!

‘n Emmer ge-oes en hy bied Herman rooiwang-appels aan.