Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

21.7.14

Italiaanse Tshipise fnuik die sentrale

HANS LOMBARD skryf: In April 1974 was ‘n groep van ons op pad na Salisbury (Harare). Ons besluit om ‘n aand op Tshipise, iewers tussen Louis Trichardt en Messina, in Noord-Transvaal, oor te bly. Uit verskeie oorde het ons verneem dat dit so ‘n wonderlike uitspanplek is.

Om 13:30 op ‘n Saterdag bel ek die sentrale van my woonstel af in Johannesburg en bespreek die oproep na Tshipise nommer 4 om plek te bespreek. Die meisie by die sentrale vra hoe dit gespel word.

Tshipise, Suid-Afrika
Om 16:00 bel ek weer om te verneem hoe lank ek nog moet wag vir die oproep. “Nie lank nie meneer ons bel jou nou-nou.” Om 10:h00 die aand bel ek weer om te verneem na dié oproep. Weer is die antwoord nie te lank nie.

So het ek tot die Sondag aangehou navraag doen. Sondag-namiddag lui my foon. “U gaan deur na Tshipise.” Dankie tog.

Hans se brief in Die Vaderland.
Die persoon aan die ander kant praat ‘n vreemde taal. Ná ‘n gesukkel deel die persoon my in gebroke Engels mee ek is by ‘n plek iewers in Italië naby Rome en wat is my navraag.

Raadop sit ek die foon neer en bel weer die sentrale en verduidelik Tshipise is nie in Italië nie. (Die probleem met die rekening is ‘n ander storie. Die poskantoor het my vir die oproep 'n rekening gestuur en dit het maande geneem voor dit eindelik uitgesorteer is.)

Toe ek teen Woensdag, nadat ek elke dag die nommer by herhaling bespreek het, nog nie by Tshipise uitgekom het nie, besluit ek om ‘n persverklaring aan elke dagblad in Suid-Afrika te stuur met die versoek: “Is daar iemand op aarde, of in die waters onder die aarde of in die Hemel wat my kan deurskakel na Tshipise nommer 4? Die poskantoorsentrale in Johannesburg kan blykbaar nie.”

Dié berig is oral geplaas en het baie polemiek uitgelok. Stoep Talk in die Johannesburgse Star het berig: “Over and out. Frankly I’d never heard of Tshipise, but that’s OK really because Tshipise hasn’t been hearing from Johannesburg either.”

Hans se brief in Hoofstad.
Hoofstad het berig: “Ons word daagliks vertel om meer produktief te wees maar hoe produktief kan ‘n land wees as hy met so ‘n telefoondiens opgesaal sit wat seker onder een van die swakstes ter wêreld tel.” (Hoofstad 22/4/1974).

Die poskantoor het nog nie gereageer nie. Een middag toe ek né ete op kantoor kom, sê my sekretaresse iemand met die naam van Hitler het gebel en kan ek hom terugbel. Iemand wat die gekskeer? Nietemin bel ek. Dis ‘n prokureursfirma. Is daar iemand met die naam van Hitler verneem ek. Ja dis my klerk, hou aan.

Hitler is ‘n swart man. Hy het van my probleem in The Star gelees. Sy tuiste is Mussina (Messina) en hy weet baie goed waar Tshipise is en as ek die naweek saam met hom in ‘n taxi ry na Mussina, wat toevallig op Tshipise stilhou, sal hy my die plek wys. Baie dankie.

Ek het tot vandag toe nog nooit op Tshipise uitgekom nie. Bestaan die plek nog? Is daar iemand wat iets meer van die plek af weet en is die nommer nog nommer 4?
(Tshipise is 'n vakansieoord sowat 87km oos van Musina, Limpopo.  Die telefoonnommer is lank nie meer net "4" nie. -- Red.)