Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

4.3.14

Ope Vraag (deel 2): Nog twee oud-kollegas verklap hul groot verleenthede

Kort rokkie en hoë hakke laat my struikel

RIA RABIE skryf: My groot verleentheid het my teruggeneem na 'n bloedrooi bloosgeleentheid wat ek as rou verslaggewer van Die Vaderland se sportredaksie ervaar het.

Ek was pas in die sportkantoor losgelaat waar Leendert Pieterse, Gerhard Burger, André Bester, Tobie Mostert en 'n paar ander bekende name hulself laat geld het.

Murray Mexted
Heeltemal onervare en rigtingloos is ek afgevaardig om ‘n kort storie te gaan doen - maar dit het eerder om
die foto's gegaan - van die destydse top-All Black rugybspeler, Murray Mexted. Hy was genooi om saam met die een of ander klub te speel. Ek dink dit was Wits, want hulle het by Sturrockpark in Braamfontein geoefen.

Illustrasie
Om darem nie 'n te swak indruk te wek nie - Mexted was immers een van die “hunks” van wȇreld-rugby - was ek opgedollie in 'n kort rompie en hakskoene waarvan die hakke nie so laag was nie.

Ek en die fotograaf (ek het sy naam vergeet, maar die groot, vriendelike man was al lank by Die Vaderland werksaam) is toe Sturrockpark toe. Hy parkeer by die klubhuis en ons gaan soek die oefenveld.

Tot my groot verleentheid was dit die verste veld van die klubhuis af. Eers oor ‘n klein treinspoortjie en toe al steierend het ek aangesukkel oor die sagte rugbyveld waar my skoene telkens vasgehaak het en 'n rompie wat ek kort-kort in posisie moes trek. Daar staan al die fris rubyspelers en kyk en wag vir die koerantmense vir die fotosessie.

Ek kan nie eens onthou of ek in staat was om ‘n onderskrif vir die foto’s te skryf nie. Dit was ook die laaste keer dat ek in ‘n kort rokkie met hoëhakskoene 'n sportveld besoek het.

Die dag toe Harry O my uitvang

KARIN PRETORIUS skryf: Ek was maar ‘n groentjie toe ek in 1970 by Die Transvaler aangesluit het. Eers "ontgroening" van drie maande in die biblioteek met koerantuitknipsels plak en daarna oorgeplaas na die vroueblad-redaksie saam met Elma Potgieter.

Harry Oppenheimer
Nie lank daarna nie roep nuusredakteur Das Herbst my in met die opdrag om ‘n ontbytnuuskonferensie by die Johannesburgse Sakekamer by te woon waar Harry Oppenheimer, die grootbaas van Anglo-American, ‘n belangrike ekonomie-aankondiging sou doen. Ek was stomgeslaan. Van ekonomiese of politieke sake het ek net mooi niks geweet nie.

Ek het ‘n paar maande voor my aanstelling uit Engeland teruggekeer waar ek twee jaar deurgebring het. My kop was nog vol romantiese storietjies, reis, Engelse pubs en affodille in die lente.

Ek het nie eens geweet wie Percy Baneshik is toe mev Elizabeth Albrecht my een aand by ‘n geselligheid aan hom voorstel nie – tot haar stomme verbasing.

Ek en fotograaf Allan Lipschitz was nege-uur die oggend by die ontbyt en ek het my bevind saam met al die kundige finansiële joernaliste aan tafel met hul notaboekies en penne wat woes aantekeninge maak soos Oppenheimer praat.

Ek was heeltemal geïntimideerd en oorbluf en het presies niks geweet en verstaan nie. Al wat ek geweet het, was dat alles heeltemal bokant my vuurmaakplek was.

Terug op kantoor het ek by Das se kantoor probeer verbysluip, maar hy het my voorgekeer. Ek het hom vertel daar was nie juis ‘n storie nie. En ek het vas geglo geen haan sal kraai na my wit leuentjie nie.

Hehehe. Wys net hoe min ek van die koerantwêreld verstaan het, want die volgende oggend het die haan drie keer gekraai: The Rand Daily Mail had ‘n voorbladstorie en die middagkoerant The Star se tweede blad het Oppenheimer se toespraak bykans volledig gedek.

Toe kraai die haan vir die derde keer: Das Herbst het my na sy kantoor ontbied. Wat ‘n verleentheid!