Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.3.14

‘Genesings ja, maar twyfel bly’

Die vyfde en laaste aflewering in PEET SIMONIS se reeks oor sy ervarings terwyl hy in die jare sewentig ‘n reeks oor geloofsgenesings vir Die Transvaler geskryf het.

PEET skryf: Die storie van medikus dr Willem Gauché (vorige storie), dat hy self gesien het hoe ‘n polio-slagoffer se aangetaste been uitgroei tot dieselfde lengte as die ander normale been en hoe dit hom verander het van iemand wat nie eintlik geglo het in God nie tot ‘n gelowige, het destyds opspraak verwek en nog meer mense laat stroom na Dan Bosman se genesingsdienste.

Mnr Des Hanger
Nog twee merkwaardige getuienisse oor genesing wat ek destyds vir Die Transvaler geskryf het, was dié van mnr Des Hanger, sakeman van Witbank en mev Daleen Breedt van Pretoria wie se dokters albei verklaar het dat daar ‘n merkwaardige ommeswaai in hulle siektetoestande was.

Mnr Hanger was kromgetrek en uigeteer ná sy maande lange geveg teen kanker wat omtrent deur sy hele liggaam versprei het. Van aanhou werk, was daar geen sprake nie.

Die genesing het onmiddellik ná gebed begin en progressief voortgeduur tot sy liggaam kiertsregop was en hy sonder pyn weer ‘n dag se werk kon doen.

Medies gesproke was daar volgens sy dokter maande later nie meer tekens van kanker nie. Hy het binne enkele weke 5 kg in liggaamsgewig aangesit en sy kollegas was verbaas oor sy vrolike voorkoms en dinamiese werkvermoë.

Mev Breedt en haar dogter, Leana.
Mev Breedt, vrou van kapt Bokkie Breedt van die polisie se hondeskool by Pretoria, was oorweldig deur pyn. Kanker het haar bors- en van die ribbene begin verteer en dit was duidelik op X-strale te sien.

Een aand toe sy gehuil het van die pyn, het haar dogter, Leana, haar getroos: “Toemaar mamma, ons bid vir jou, maar hoekom bel ma nie vir Dan Bosman nie?”

Sy het. Bosman kon nie kom nie – hy het op vertrek buiteland toe gestaan en het sommer ‘n eenvoudige gebed oor die telefoon gebid. ‘n Goeie nagrus het gevolg en die volgende dag was die pyn weg. Twee weke later is X-strale geneem waarop daar geen tekens meer van kanker was nie. Die beendigtheid was normaal. Die spesialis wat haar behandel het, het eers gedink iemand skeer die gek met hom – dat dit nie mev Breedt se X-strale was nie. Hy het weer X-strale laat neem en twee weke later wéér. In albei gevalle was daar nie meer tekens van kanker nie en bloedtoetse het ook bewys sy is “skoon”.

Prof  SJ du Toit
Nadat baie berigte oor genesings in Die Transvaler gepubliseer is, is prof SJ du Toit , destyds hoogleraar in Sielkunde by die Universiteit Pretoria gevra of daar 'n sielkundige verklaring vir die genesings kan wees.

Hy het vertel dat baie siektes ‘n sielkundige oorsprong het en ook sielkundig behandel kan word. Die soort kwale reageer egter nie onmiddellik op sielkundige behandeling nie – dit kan weke en maande wees voor verbetering en soms genesing moontlik is.

Vir die byna onmiddellike genesings in antwoord op gebed het hy nie 'n verduideliking nie.Hieronder is ‘n paar paragrawe uit sy reaksie in die koerant:


Baie mense wat die artikels oor die genesings gelees het, het gereageer: Baie was bly, ander het die pyn en vertwyfeling verwoord waar geliefdes nie gesond geword het nie, soos hierdie brief van mev Chrisel de Beer van Northcliff Johannesburg:“Ek het die artikels oor genesing baie geniet. “Genesing en geloofsgenesing van kanker is nie iets waarvan mens gereeld hoor nie. Veral as jy, soos ek, al verskeie vriende (wat sterk en lewendige verhoudings met hulle Here gehad het) aan die dood afgestaan het weens kanker.

“Dan raak 'n mens naderhand skepties of die Here nog baie sulke wonderwerke laat plaasvind. Ek weet van hier en daar (maar min) gevalle waar dit wel gebeur het.

“Al baie gewonder wie se geloof was nie goed genoeg nie, myne of my vriende wat siek was s’n? Of het ons nie hard genoeg gebid nie? Moes ons iets meer of minder gedoen het?

“En dan die pyn om daardie persoon te begrawe en die vrae wat ek elke keer voor die Heer se voete neerlê? Die seer as ek aan sy beloftes begin twyfel en naderhand maar net glo en hoop en vashou dat Hy beter weet as ons.

“Maar dit los 'n mens steeds tussen hier en daar, tussen niks en nêrens, tussen wonderwerke en geen wonderwerke, tussen weet Hy is daar en tog soms twyfel.”

Ek het Dan Bosman nie die afgelope twintig jaar gesien nie. As hy nog leef en preek en vir siekes bid, is dit seker op baie klein skaal, want koerante berig nie meer daaroor nie.

(K’rant sluit hiermee bydraes oor geloofsgenesings af. Peet nooi lesers wat vrae of kommentaar oor hierdie onderwerp het, om persoonlik aan hom te skryf by psimonis@mweb.co.za. – Red)