Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

24.3.14

Fotodag 23: Perskor-biblioteek se eerste dae

Só het Perskor se naslaan-biblioteek op die derde verdieping in Julie 1949 gelyk toe Die Vaderland (destyds die Afrikaanse Pers Beperk) na sy nuwe en huidige gebou in Aucklandpark getrek het.

Stapels en stapels ingebinde koerante, lêers vol uitknipsels en foto's,
blokke, tydskrifte en wat alles daarmee gepaard gaan, moes na die nuwe gebou gepiekel word.

Perskorhaan, November 1972
Die soheentoe neem het in 'n japtrap plaasgevind. Die uitpakkery en regpak in die regte plek sodat almal weet wat waar is, was natuurlik heeltemal 'n ander saak.

Ewenwel, dit het moeilik gegaan en die manne destyds in die biblioteek het letterlik gesweet.

Dié foto is geneem pas nadat die hele biblioteek se goete aangekom en sommer so rondgelê het. Met die wit jasse aan (van onder na bo) is Gertjie van Rensburg (destyds bibliotekaris en tans by Die Burger se biblioteek), Jan Hoeksema (wat gedurende 'n tydperk van drie weke se werkloosheid ietwat kom help het) en Ossie van der Walt (tans iewers by die S.A.S.). Op die voorgrond sit fotograaf Louis Nel ook handjie by. -- Perskorhaan, November 1972.