Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

11.3.14

My ‘hula hoop’-scoop

HANS LOMBARD skryf: Dit gebeur nie aldag dat die hoofredakteur van ‘n koerant na die lessenaar van ‘n verslaggewer stap en hom na sy kantoor nooi in verband met ‘n opdrag om ‘n storie te gaan doen nie. Dit is gewoonlik die taak van die nuusredakteur.

Een oggend in 1957 terwyl die tikmasjiene in die redaksiekantoor van Die Vaderland in Aucklandpark kletter soos haelstene op ‘n sinkdak, staak hulle almal eensklaps. ’n Doodse stilte.

WH Wilcocks
Almal se oë is gevestig op hoofredakteur, WH Wilcocks, wat deur die kantoor aangestap kom. Dis ‘n ongewone gesig. Hy stap reguit na my lessenaar en beleefd staan ek op. “Kom gou na my kantoor, ek wil jou spreek.” Oorbluf. Uit die veld geslaan en met senuwees wat knaag stap ek agter hom aan. Wat skort, maal dit deur my gedagtes? Wat het ek verbrou? Gewoonlik as die redakteur ‘n verslaggewer wil sien, stuur hy sy sekretaresse of die nuusredakteur of hy bel self.

Toe ek uit die redaksiekantoor verdwyn roer die tonge. “Hans is op die rooi tapyt. Hy is in die moeilikheid.” Bespiegelinge sweef wyd en syd onder my kollegas. In sy kantoor nooi mnr Wilcocks my om te sit. Ek is die ene bewerasie.

“Hans, die kommissaris van polisie, generaal AJ du Plooy, het so pas gebel en spesifiek jou naam genoem en gevra of jy hom moremiddag drie-uur op sy kantoor te Pretoria kan kom spreek. Hy het ‘n storie vir jou. Ek dink dis ‘n groot pluimpe vir jou en Die Vaderland. Sorg dat jy stiptelik daar is, op tyd. Dit kan ‘n groot voorbladstorie wees.”

Frans Wessels
Frans Wessels was die misdaadverslaggewer van Die Vaderland en ons twee het ‘n kantoor gedeel. Ek is skoon uit die veld geslaan. Ek het generaal Du Plooy by verskillende geleenthede in Pretoria ontmoet by amptelike funksies wat nie altyd met misdaad te make het nie. By ‘n paar geleenthede het hy my ook genooi om ‘n dop saam te geniet in die private kroeg net vir offisiere by die polisiehoofkantoor.

Die 12-jarige dogter van die kommissaris 
van polisie, genl AJ du Plooy, in 1957, met
 haar “hula hoop” waarmee sy ‘n wedstryd 
gewen het. Weet iemand waar sy haar 
vandag bevind?
Toe ek by Wilcocks se kantoor uitstap moet ek deur die nuusredakteur, Jannie Fourie, se kantoor stap.

“Wat gaan aan?” vra hy verbaas. Ek vertel hom die storie en hy is skoon uit die veld geslaan. “Waarom het hy my nie ingelig nie? Dit kan ‘n groot scoop wees. Ons sal plek op die voorblad hou,” is sy kommentaar.

Die volgende dag is ek betyds by die kommissaris se kantoor. Toe ek instap, sien ek ‘n dogtertjie eenkant in ‘n hoek sit met ‘n “hula hoop” wat oor die stoel hang.

Generaal Du Plooy groet vriendelik en bedank my dat ek oorgery het Pretoria toe.

Hy vertel my dat sy dogtertjie, en hy wys na haar, die eerste prys in haar klas vir die onder-13-“hula hoop”-wedstryd gewen het en hy is baie trots op haar. Kan ons haar foto in Die Vaderland plaas? Wel, ek neem toe ‘n foto van haar waar sy die “hula hoop” in die rondte swaai.

Terug by Die Vaderland die volgende dag was die misnoeë en teleurstelling onbeskryflik. Die foto het nie die voorblad gehaal nie, maar wel iewers in die binneblaaie gepubliseer.

Dit het egter in die toekoms dividende uitbetaal. Die deure van die kommissaris het oopgestaan vir Die Vaderland.

Waar daar in die verlede ‘n groot gesukkel was om ‘n onderhoud met die kommissaris te voer, het dit nou makliker gegaan.